Alexander die Grote (Grieks: Mέγας Αλέξανδρος, 20 of 21 Junie 356 v.C. – 10 of 13 Junie 323 v.C.) was die koning van Masedonië. Hy het op 'n jong ouderdom beheer van Griekeland, Egipte en die meeste lande oos van die Middellandse See tot so ver as Indië oorgeneem. Hy het die Griekse kultuur na bykans die hele bekende wêreld uitgebrei en talle stede gestig, waaronder Alexandrië in Egipte. Hy word as een van die grootste militêre leiers in die geskiedenis beskou.
Alexander is in 356 v.C. in Pella, Masedonië, gebore. Hy is tot op ouderdom 16 deur die beroemde filosoof, Aristoteles, onderrig. Hy het in 336 v.C. na die moord op sy vader Philippos II van Masedonië aan bewind gekom, en het dit geluk om op sy vader se grondslag voort te bou. Hy het die strydende Griekse stadstate verenig en 'n stydmag op die been gebring wat die Persiese Ryk (Persië) in nege jaar verower het. Hierdie gebied het Klein-Asië, Antieke Egipte en die hele Nabye Ooste tot by die grense van Indië omvat, waarna hy die verowering van Arabië beplan het.
Skynbaar moeiteloos kon Alexander hierdie reeks welslae binne die bestek van 'n dekade beklink, met 'n strydmag bestaande uit net 30 000 tot 50 000 manskappe. Vir sy gebrek aan getalsterkte het sy daadkrag, vindingryke taktieke en beweeglikheid ingestaan. Opmerklik is die feit dat hy geen veldslag verloor het nie, en dikwels in die voorste gevegslinie teenwoordig was, waar hy 'n inspirerende uitwerking op moraal moes gehad het.[1] Vandag nog is daar 'n betowering in die naam van hierdie groot veldheer wat meer as tweeduisend jaar gelede in Babilon op die ouderdom van 32 jaar aan malaria of tifus oorlede is, en regoor Eurasië word hy steeds as 'n groot veroweraar onthou.[2]
Naas Djengis Khan was Alexander die grootste veroweraar van grondgebied. Sy visie van 'n Grieks-Persiese wêreldryk kon hy egter nie verwesenlik nie, want ten spyte van sy skitterende insigte in oorlogvoering, het hy nie geweet hoe om die verowerde gebied te regeer nie. Na sy vroegtydige dood het die ryk ook dadelik verbrokkel, en sy generaals het vir hulself plaaslike ryke uitgekerf.
Jeug
Alexander se vader, Philippos II, het in 359 v.C. koning van Masedonië geword. Die bevolking van hierdie landjie in Noord-Griekeland was onopgevoed in vergelyking met die Ateners, maar hulle was uitstekende krygsmanne. Filippus het sy leër die gedugste mag van daardie eeu gemaak en toe die Griekse state gedwing om hom as hul leier te aanvaar. Atene en Sparta was vanweë onderlinge oorloë te swak om hulle teen Masedonië te verenig.
In 336 v.C., terwyl Filippus besig was om 'n inval in die groot Persiese Ryk, Griekeland se tradisionele vyand, te beplan, is hy in 'n sameswering in sy paleis vermoor en sy seun Alexander het op twintigjarige ouderdom koning geword.
Alexander se vader het hom praktiese opleiding in die krygswetenskap gegee, maar die groot wysgeer Aristoteles het hom in die Griekse poësie en wetenskap opgevoed. Later het Alexander verklaar dat Aristoteles hom geleer het hoe om logies te dink. Sy geliefkoosde leesstof was die Ilias van Homeros.
Toe Filippus sterf, het 'n ernstige opstand in die Griekse stad Thebe uitgebreek en die beroemde redenaar Demosthenes het die Ateners aangemoedig om teen Masedonië te rebelleer. Alexander het die orde herstel en 'n voorbeeld van Thebe gemaak. Die stad is vernietig en die Thebane is doodgemaak of as slawe verkoop. Hierna het geen Griekse stad dit weer gewaag om teen Alexander in opstand te kom nie.
Die verowering van Asië
Die jong koning was nou gereed om die Persiese Ryk, wat deur Darius III geregeer is, aan te val. In die lente van 334 v.C. steek hy die Hellespont (die Dardanelle) met 'n leër van 30 000 voetsoldate en 5 000 ruiters oor en val Asië binne. Die Perse kon 'n miljoen man of meer in die veld stoot, maar hul leërs was nie opgelei nie en, belangriker, hulle het nie 'n leier soos die Masedoniërs gehad nie. Alexander was 'n meester in die kuns van oorlogvoering. Hy was 'n charismatiese leier, en onder sy bevel was die Masedoniërs onoorwinlik. Die eerste geveg, dié by die rivier Granicus, was 'n groot en roemryke sege vir Alexander. Die jong veldheer het die aanval gelei deur met sy groot perd Bucephalus (van die Grieks boukephalus: oskop) deur die rivier te swem. 'n Tweede slag by Issus in 333 v.C. het op 'n volslae vernedering van die Persiese magte uitgeloop. Koning Darius het gevlug en sy gesin agtergelaat. Alexander het hulle goed behandel en versorg.
Alexander moes eers die Persiese seemag vernietig voordat dit vir hom veilig sou wees om verder in Asië op te ruk. Hy beleër die groot seehawe Tirus, wat na sewe maande oorgee. Daarna oorrompel hy Gasa, die stad van Simson.
Hierna het hy Egipte, wat tweehonderd jaar lank onder Persiese bewind gestaan het, binnegeval. Baie Egiptenare het hom as hul redder van die Perse verwelkom. Aan die mond van die Nyl lê hy die stad Alexandrië aan, wat later beroemd sou word as 'n sentrum van geleerdheid met 'n wonderlike biblioteek en 'n seehawe. Hy het ook 'n ekspedisie na Ethiopië gestuur om die oorsprong van die Nyl te soek. Hy self besoek die woestyntempels van Zeus-Ammon, waar die priesters hom as die seun van die god Zeus verwelkom het.
Die volgende jaar, 331 v.C., het Alexander sy verowering van Persië voortgesit. Darius het intussen 'n groot mag van meer as 'n miljoen man, sommige met strydwaens met sense aan die wiele, op die been gebring. Alexander se totale mag het maar uit sowat seweduisend ruiters en veertigduisend voetsoldate bestaan. Op 1 Oktober 331 v.C. het die beslissende slag by Gangamela, naby Arbela (die huidige Arbil in Irak), plaasgevind. Die Perse was nie bestand teen die Masedoniërs se verwoede stormloop nie en Darius het weer gevlug en sy troepe sonder leier agtergelaat. Hy is later gevind en deur sy eie offisiere vermoor.
Tydens sy eerste inval in Klein-Asië het Alexander die stad Gordium besoek, waar die strydwa van die antieke koning Gordius aan hom gewys is. Volgens oorlewering sou die persoon wat die knoop wat die wa vasbind, losmaak, die wêreld regeer. Alexander het die knoop met een hou van sy swaard middeldeur gekap. (Dit is die oorsprong van die uitdrukking "om die Gordiaanse knoop deur te haak".) Die legende is dan ook inderdaad bewaarheid, want Alexander was nou heerser van Masedonië, Griekeland, Egipte, Persië en Asië – die helfte van die bekende wêreld.
Nog ses jaar lank marsjeer sy leërmagte voort. Die afstande wat Alexander afgelê het, is merkwaardig, veral as in aanmerking geneem word dat daar feitlik geen kaarte bestaan het nie.
Latere jare
Alexander het met verloop van tyd al hoe meer soos 'n Oosterse outokraat eerder as 'n Griekse leier opgetree, Persiese klere begin dra en in weelde gelewe. Hy het Masedoniese seuns aangemoedig om met Asiatiese meisies te trou en het dertigduisend Asiatiese seuns uitgesoek om as Griekse soldate opgelei te word. Hy het met die welgestelde, beeldskone prinses Roxana van Baktrië in Midde-Asië getrou. Hulle was baie gelukkig, en Alexander het gedroom van groter eenheid tussen die Ooste en die Weste.
Alexander se welslae en geluk is egter bederf. Hy het begin om sy oudste en mees getroue Griekse vriende van verraad te verdink. In 'n bui van woede het hy Clitus, wat sy lewe in 'n geveg gered het, vermoor, en ander ou strydmakkers het hy laat opsluit net omdat hulle geweier het om voor hom, die koning, te buig.
Nadat hy die Indiese koning Porus verslaan het, wil hy tot by die Gangesrivier opruk, maar sy soldate het geweier om verder te trek. hulle het 17 600 km ver gemarsjeer en was agt jaar lank nie tuis nie.
Alexander se sjarme en oorredingsvermoë het nie hierdie keer daarin geslaag om sy leërmagte te laat beweeg nie, en die lang tog huis toe het begin. Die Masedoniërs het nooit 'n veldslag verloor nie en hulle was nooit aan Alexander ontrou nie, maar baie van hulle het van uitputting en dors omgekom tydens hulle tog deur die verskriklike woestyne van Baloetsjistan en Persië. Hoewel hy nog 'n jong man met 'n helder verstand en baie verbeeldingskrag was, het Alexander se gesondheid ingegee. Hy het verdere invalle in Arabië beplan en wou ook die kus van die Persiese Golf verken, maar in 323 v.C. het hy malaria gekry. Terwyl hy op sy sterfbed gelê het, het sy soldate met gebroke harte in gelid verbygemarsjeer. Daar word vertel dat dit gelyk het asof hy elke man herken het.
"Nêrens in die hele wêreld," skryf Arrianus, die bekende Griekse historikus en denker, "was daar een soos hy nie. Meer as enige ander mens sal hy geëer en onthou word."