Die Arameërs (Aramees: ܐܪ̈ܡܝܐ) is 'n Semitieseetnies-godsdienstige groep inheems aan lande van die Midde-Ooste. Die meeste Arameërs praat 'n Nieu-Aramese taal, wie se ondergroepe Noordoostelike, Sentraal- en Wes-Nieu-Aramees insluit, sowel as ander tale, afhangend van die land van verblyf.
Die Arameërs; hulle het onafhanklike koninkryke gestig in dele van die Nabye Ooste, veral die hedendaagse Sirië, Libanon, Jordanië, Israel, Palestina, die noordwestelike Arabiese Skiereiland en Suidsentraal-Turkye. Dié state is teen die 9de eeu v.C. heeltemal in die Nieu-Babiloniese Ryk opgeneem. In dié tydperk kon Galdeërs, Arameërs, Suteërs en inheemse Babiloniërs in ’n groot mate nie van mekaar onderskei word nie.[34]
Aramees het die omgangstaal van die hele Nabye Ooste en Klein-Asië geword nadat dit in die middel 8ste eeu v.C. saam met Akkadies een van die twee amptelike tale van die uitgestrekte Nieu-Assiriese Ryk gemaak is uit erkenning van die hoofsaaklik Aramese bevolking in streke wat Assirië wes van die Eufraat verower het. Hierdie ryk het gestrek van Siprus en die oostelike Middelandse See-gebied in die weste tot Persië en Elam in die ooste, en van Armenië en die Kaukasus in die noorde tot Egipte en Arabië in die suide.
Die gebruik van Wes-Aramees het egter geleidelik afgeneem ten gunste van Arabies sedert die Arabies-Islamitiese verowering van die gebied en die taal is in gevaar om uit te sterf, veral weens herhaalde volksmoorde op die Arameërs, hoewel Aramese voorname en vanne steeds aangetref word onder Siriese Christene in die Levant. Baie van hulle maak steeds aanspraak op ’n Aramese erfenis en afstamming, veral in die moderne Sirië, Libanon, Suidsentraal-Turkye en Israel.
Geskiedenis
Die Arameërs het aan die einde van die Bronstydperk (1200-900 v.C.) vir seker hul verskyning gemaak. In dié tyd was daar groot verskuiwings van volke oor die Midde-Ooste, Klein-Asië, Kaukasus, Oostelike Middellandse See-gebied, Noord-Afrika, antieke Iran, antieke Griekeland en die Balkanlande.
Die eerste sekere verwysing na die Arameërs was deur koning Tiglath-Pileser I van Assirië, waarin die onderwerping van die die "Ahlamû-Arameërs" genoem word. Kort daarna verdwyn die Ahlamû vinnig uit die Assiriese annale en word dit vervang deur die "Arameërs". Dit is egter moontlik dat die Ahlamû en Arameërs niks gemeen gehad het nie, maar in dieselfde gebied gewoon het.[35] Teen die laat 12de eeu v.C. was die Arameërs goed gevestig in Sirië; hulle is egter deur die Middel-Assiriese Ryk verower.
Dié ryk het die Nabye Ooste en Klein-Asië sedert die eerste helfte van die 14de eeu v.C. oorheers, maar het vinnig begin krimp ná die dood van hul laaste groot heerser, Ashur-bel-kala, in 1056 v.C. Die Assiriese verdwyning het meegebring dat die Arameërs en ander volke in die laat 11de eeu v.C. onafhanklikheid verkry en beheer oorgeneem het van wat toe Eber-Nari (die hedendaagse Sirië) was. Die streek is van toe af Aram genoem.
Latere Bybelse bronne vertel dat Saul, Dawid en Salomo in die laat 11de tot 10de eeu v.C. geveg het teen die klein Aramese koninkryke. ’n Aramese koning se weergawe van minstens twee eeue later, die Tel Dan-stele, is in Noord-Israel ontdek en is bekend daarvoor dat dit dalk die vroegste nie-Israelitiese historiese bron buite die Bybel is wat na die Huis van Dawid verwys. In die vroeë 11de eeu v.C. het ’n groot deel van Israel volgens die boek Rigters vir agt jaar onder Aramese bewind gekom, totdat Otniël die magte onder Kusan-Risatajim, die koning van Aram-Naharaim, verslaan het.[36]
Verder noord het die Arameërs besit geneem van die Nieu-Hetitiese stad Hamat aan die Orontesrivier en hulle was gou sterk genoeg om weg te breek van die Indo-Europeessprekende Nieu-Hetitiese state.
In die 11de en 10de eeu v.C. het die Arameërs na die ooste van die Eufraat getrek, waar hulle hulle in sulke groot getalle gevestig het dat die hele streek ’n ruk lank bekend was as Aram-Naharaim, of "Aram van die twee riviere". Oos-Aramese stamme het tot in Babilonië versprei en ’n Aramese troonrower is as koning van Babilon gekroon onder die naam Adad-apal-iddin.[34]
Klassieke tydperk
Min het verander nadat die Achemenidiese Ryk die Aramese gebied verower het. Die Perse, wat hulself beskou het as die Assiriërs se opvolgers en drie eeue lank onder Assiriese heerskappy was, het Aramees as ampstaal behou, asook die Assiriese strukture en die naam Eber Nari.
Nadat die Griekse Seleukidiese Ryk (312–150 v.C.) die Aramese gebied van die Achemenidiërs verower het, het hulle die Indo-Europese naam "Assirië" uit die 9de eeu v.C. aan die land gegee. Dié naam, wat "Sirië" beteken, is tot in dié tyd histories en geografies net gebruik vir Assirië en die Assiriërs, ’n streek en volk in die hedendaagse noordelike helfte van Irak, Noordoos-Sirië, Suidoos-Turkye en die noordwestelike rand van Iran, en nie vir die Levant of sy grootliks Aramese bevolking nie.[37][38] Van die laat 4de eeu of vroeë 3de eeu v.C. af het die Seleukidiërs die naam ook gebruik vir Aram/Eber-Nari wes van Assirië/Sirië, wat drie eeue lank ’n Assiriese kolonie was. Dit het daartoe gelei dat die Assiriërs van Assirië sowel as die Arameërs van Aram wes daarvan in die Grieks-Romeinse kultuur as "Siriërs" bekend gestaan het, hoewel die twee volke geografies, histories en etnies verskil het.[39] Dié verwarring het in die Weste voortgeduur tot in die moderne tyd.
Die Partiese, Romeinse en Bisantynse Ryk het hierna gevolg, met die Aramese gebied wat eers die frontlinie was tussen die Partiese en die Romeinse Ryk, en daarna tussen die Sassanidiese en die Bisantynse Ryk. Daar was ook ’n kort tydperk van Aramese heerskappy tydens die Romeinse periode. Tussen die 1ste en 4de eeu n.C. het die Arameërs die Christelike geloof begin aanneem in die plek van die politeïstiese Aramese geloof, en die Levant het ’n belangrike sentrum geword van die Siriese Christendom, saam met Assirië in die ooste waar die Siriese taal en Siriese alfabet ontstaan het.
Die Siriese Christendom bestaan vandag nog onder die inheemse, pre-Arabiese bevolking. Die Arameërs was tot lank ná die Arabiese Verowering van die middel 7de eeu n.C. die grootste bevolking in hul tuisland (die grootste deel van die moderne Sirië en ’n deel van die suidsentrale Klein-Asië). ’n Paar Aramese koninkryke het selfs in die streek ontstaan, waarvan die belangrikste Palmyra was.
↑United Nations High Commissioner for Refugees (13 Oktober 2010). "Iran: Last of the Assyrians" (in Engels). Refworld. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Desember 2019. Besoek op 29 Mei 2016.
↑"2011 Armenian Census"(PDF) (in Armeens). Statistics Armenia. 5 Februarie 2011. Geargiveer(PDF) vanaf die oorspronklike op 6 Junie 2019. Besoek op 29 Mei 2016.
Spieckermann, Hermann (1999), "Arameans", in Fahlbusch, Erwin, Encyclopedia of Christianity, 1, Grand Rapids: Wm. B. Eerdmans, pp. 114–115, ISBN0802824137