'n Berg is 'n groot landvorm wat bo die beperkte omliggende gebied strek en gewoonlik 'n piek bo-aan vorm. Hulle kom dikwels in groepe voor, met gebroke terrein wat 'n aanhoudende wisseling van dale, bergkruine en losstaande pieke toon. Indien die landvorm nie baie hoog of steil is nie, word dit 'n heuwel genoem, alhoewel die presiese verskil tussen 'n heuwel en 'n berg van land tot land en kultuur tot kultuur verskil. Landvorms wat wel hoog is, maar nie 'n gebroke terrein het nie, word 'n plato genoem.
Berge ontstaan in hoofsaak deur die plooing van die aardkors as gevolg van spanning wat daarin ontwikkel. Daar is vier maniere waarop berge kan ontstaan:
vulkaniese berge, waar magma diep uit die aarde se oppervlak opstoot en dan in die vorm van lawa uitvloei;
vastelandvorming (ook genoem epirogenese), waar daar daling of styging van groot gebiede plaasvind (sonder noemenswaardige plooiing of breuking van die aardkors)
breukvorming (ook genoem breuktektogenese), groot vervorming waar daar sterk breuk- of plooiingsaktiwiteit in die aardkors aanwesig is en
orogenese, die vorming van berge spesifiek deur plooiing van die aardkors (soms ook plooiingstektogenese genoem).
Die kenmerkende gebroke terrein van 'n bergreeks beteken dat daar baie dale en kruine is wat as gevolg van die hoë ligging afgesluit van omliggende gebiede is en unieke diere en plantegroei huisves. Die aanpassings wat die lewensvorme in hierdie gebiede moes maak vertoon opmerklike verskille in vergelyking met die fauna en flora in die laerliggende streke. 'n Voorbeeld hiervan is verdwergde plante wat naby aan die oppervlak groei met stewige wortelstelsels, om sodoende beskerming teen die wind te bied.
'n Berg bestaan nie vir altyd nie. Baie sterk kragte in die aardkors veroorsaak dat berge gevorm word op plekke waar miskien voorheen geen berge was nie. Maar sodra 'n berg gevorm het - eintlik al solank die berg besig is om te vorm, want die bergbouingsproses verloop oor baie honderdduisende jare - span wind en weer saam om die nuut gevormde berg te vernietig.
Reënwater en gesmelte sneeu word besige bergstroompies wat maar altyd sand en klippe wegspoel, en party berge word deur ysgletsers afgeskuur soos deur 'n reuse rasper. Wanneer water vries, sit dit sowat 10% in volume uit, en kan dus groot druk uitoefen indien die ys in klein barsies in die vaste rots vorm. Sodoende help dit mee om selfs die grootste berge en die hardste klip te verbrokkel.
Reënwater het koolsuurgas in oplossing, en is dus 'n flou suur (koolsuur) wat kalksteen geredelik oplos. Kalksteenberge kan dus deur reënwater vernietig word bloot deur oplossing. Enige fyn stof en sand word deur die wind weggewaai en tydens kwaai windstorms skuur die sand-belaaide wind die rotse van die berge nog verder af. Die swaartekrag van die aarde help ook om berge te vernietig deur grondstortings en rotsstortings.
In warm woestynstreke kan die daaglikse groot temperatuurswisselinge ook meehelp om die berge se gesteentes te verbrokkel. Die buitenste deel van die rotse sit gedurende die warm dag uit, en krimp gedurende die nag in, en mettertyd breek op hierdie manier skille en skerwe van die rotse af, gereed om later weggespoel en weggewaai te word. Dis dus duidelik dat 'n hele paar prosesse saamwerk om berge te vernietig. Afhangende van die klimaat, plek en die gesteentesoort, is sekere van hierdie verweringsprosesse soms belangriker as ander, met die gevolg dat sekere berge gouer as ander verweer.
Daar sou vandag op aarde geen berge meer gewees het nie as aardkorskragte nie van tyd tot tyd nuwe berge gevorm het nie. Van die belangrikste “nuwe" berge is die Alpe, die Himalajas, die Andes en die Rockies.
Hoe kan die hoogte van berge bepaal word?
Instrumente wat gebruik word om die hoogte van berge te bepaal, is die teodoliet, die hoogtemeter (aneroïed) en die barometer. Die teodoliet is 'n teleskoop met fyn kruisdraadjies binne-in, wat verbind is aan 'n sensitiewe waterpas en 'n akkurate gradeboog. Met hierdie instrument kan die hoogte (en ook afstand) bepaal word van bergspitse wat nie met gerief bereik kan word van die plek waar die instrument opgestel is nie.
Die hoogtemeter (aneroïd) en die barometer (ook bekend as ʼn weerglas) meet veranderinge in lugdruk. Omdat atmosferiese druk laer word hoe hoër ons bo seevlak gaan, en omgekeerd, is dit 'n manier om hoogte te meet. Die barometer dui die lugdruk in millimeter kwik aan, maar die hoogtemeter se skaal is vir ons gerief so bereken dat dit die lugdruk regstreeks aandui as meter bo seespieël. Albei instrumente word beïnvloed deur daaglikse weersomstandighede en moet sorgvuldig geyk word wanneer mens akkurate hoogtebepalings wil doen.
Hoekom word dit kouer hoe hoër daar teen ʼn berg opgeklim word?
Grond absorbeer hitte. Die oppervlak van die aarde absorbeer die hitte van die son en straal dit dan terug die lug in. Wanneer die lug baie dig en vogtig is, soos op die vlaktes, kan dit die hitte vir 'n lang tyd behou. Hoe hoër ons egter gaan, hoe dunner en droër word die lug.
Die dun lug is nie in staat om hitte te absorbeer nie en die temperatuur daal dus. Daarbenewens is daar min grondoppervlakte op die bergspitse om die hitte van die son te absorbeer en weer uit te straal. Dit verduidelik die aanwesigheid van gletsers op berge in die tropiese streke, op voorwaarde dat die berge hoër as 4 300 m is.
Bronnelys
Berge in Wêreldspektrum, volume 3. 1983. Ensiklopedie Afrikana