Druiwe is 'n vrugtige bessie aan die houtagtige druiwestok van die botaniese genusVitis. Druiwe word rou geëet of gebruik vir die maak van wyn, asyn, rosyntjies, konfyt, druiwesap, jellie, druiwepitekstrak en druiwepitolie.
Beskrywing
Druiwe is 'n tipe vrug wat in trosse van 15 - 300 korrels gedra word, en kan bloedrooi, swart, donker blou, geel, groen, oranje en pienk wees. "Wit" druiwe is eintlik groen van kleur, en word evolusionêr afgelei van die pers druiwe. Mutasies in twee regulerende gene van wit druiwe verhoed die produksie van antosianiene, wat verantwoordelik is vir die kleur van die pers druiwe.[2] Antosianiene en ander pigment chemikalieë van die groter familie van polifenole in pers druiwe is verantwoordelik vir die verskillende skakerings van pers in rooi wyne.[3][4] Druiwekorrels het tipies 'n ellipsoïde vorm wat lyk soos 'n prolaat-sferoïde.
Wingerdsoorte
Die meeste druiwe kom van kultivars van Vitis vinifera, die Europese wingerdstok inheems aan die Middellandse See en Sentraal-Asië. Kleiner opbrengste van vrugte en wyn kom van die Amerikaanse en Asiatiese spesies soos:
Vitis labrusca, die Noord-Amerikaanse tafel- en druiwesapdruif (insluitend die Concord-kultivar), waarvan soms ook wyn gemaak word, is inheems aan die Ooste van die Verenigde State en Kanada.
Vitis riparia, 'n wilde wingerdstok van Noord-Amerika, word soms gebruik vir wynmaak en konfyt. Dit is inheems aan die hele Oos-VSA en noord tot in Quebec.
Vitis rotundifolia, die muskaatdruif, wat gebruik word vir konfyt en wyn, is inheems aan die suidoostelike deel van die VSA van Delaware aan die Golf van Meksiko.
Vitis amurensis is die belangrikste Asiatiese spesie.