Etimologie, vanuit die Griekse woord étumon ("die regte of ware") en die agtervoegsel -logia (die studie van), is die deel van taalkunde wat die herkoms van die betekenis en vorm van woorde (of dele van woorde, soos voor- en agtervoegsels en woord-stamme) bestudeer. Dit is een van die oudste onderdele van die taalstudie, reeds Aristoteles en Varro het opmerkings daaroor gemaak.[1]
Die etimologie van 'n woord is die historiese verklaring vir die manier waarop die vorm van die woord tot stand gekom het; daarom word daar ook van die woordherkoms (Duits: Wortherkunft) gepraat.
Iemand wat etimologie beoefen word 'n etimoloog genoem. Etimoloë werk dikwels aan woordeboeke en ensiklopedieë.
In die mediese taalgebruik kom daar baie woorddele voor wat van Latynse of Griekse oorsprong is, en soms word daar ook van gekombineerde Latyns-Griekse vorme gebruik gemaak om om nuwe terme te skep.
Voorbeeld
As voorbeeld, die etimologie van die woord AANHANGIG:
As ons daarvan praat om 'n saak aanhangig (te) maak, verwys dit na 'n gewoonte eeue gelede waar die stukke wat gehandel het oor administratiewe sake in sakke bewaar is. Hierdie sakke is dan aan spykers in die muur opgehang en die stukke daarin was dan letterlik hangende. Sodra die sake afgehandel is, is die sakke met hul inhoud afgehaak.
Verdere naleeswerk
Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA), 13 Junie 2003, ISBN 0-9584401-1-5