Die Indiese nasionale krieketspan (Engels: India national cricket team; Hindi: भारतीय क्रिकेट टीम), met die byname Men in Blue[10] en Team India,[11] is die nasionale krieketspan wat Indië in toets- en kitskrieket verteenwoordig. Dit word beheer en geadministreer deur die Raad vir Beheer van Krieket in Indië (BCCI, van Engels: Board of Control for Cricket in India) en is ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) met toets-, EDI- en T20I-status. Indië is tans (Junie 2024) tweede op die IKR-toetsranglys, eerste op die eendagranglys en eerste op die Twintig20-wêreldranglys.[12][13][14]
Hoewel krieket reeds in die 18de eeu deur Europese handelsmatrose na Brits-Indië gebring en die eerste krieketklub in Indië al in 1792 in Kolkata gestig is, het Indië se nasionale krieketspan eers hul eerste toets op 25 Junie 1932 op Lord’s in Engeland gespeel.[15] Hulle word die sesde span om toetskrieketstatus te ontvang. In sy eerste vyftig jaar van internasionale krieket was Indië een van die swakste spanne in internasionale krieket, hulle het slegs 35 van die 196 toetse wat hulle gedurende dié tydperk gespeel het gewen.[16] Indië moes vanaf 1932 tot 1952, 20 jaar, vir sy eerste toetsoorwinning wag. Die span het in die 1970’s sterker geword, met opkomende spelers soos die kolwers Sunil Gavaskar en Gundappa Viswanath, die veelsydige Kapil Dev en die Indiese “draaikwartet” Erapalli Prasanna, Srinivas Venkataraghavan, Bhagwat Chandrasekhar en Bishen Singh Bedi.
Indië is tradisioneel tuis baie sterker as oorsee, maar sedert die begin van die 21ste eeu kon die span sy oorsese prestasies verbeter, veral in die korter vorme van krieket; hulle het al toetse in Australië, Engeland en Suid-Afrika gewen. Indië het die krieketwêreldbekertoernooi tot dusver twee keer gewen – in 1983 onder kaptein Kapil Dev in Engeland en in 2011 onder kaptein MS Dhoni tuis. Nadat hulle die 2011-toernooi gewen het, was Indië slegs die derde span, ná Wes-Indië en Australië, wat dié trofee twee keer ingepalm het,[17] en die eerste span wat dit tuis kon vermag. Hulle het ook die T20I-wêreldbekertoernooi (in 2007) en die Kampioenetrofee (in 2013) onder kapteinskap van MS Dhoni ingepalm. Daarbenewens het hulle die Kampioenetrofee 2002 met Sri Lanka gedeel en onder kapteinskap van Rohit Sharma die T20I-wêreldbeker 2024 gewen.
Onder die leierskap van Dhoni het die Indiese span as een van die gedugste spanne in internasionale krieket na vore getree.[18] Die Indiese krieketspan ding in kragmetings mee teen ander toetsspelende lande, veral met Pakistan, die politieke aartsvyand van Indië. Die afgelope tyd het tweestryde met lande soos Australië, Engeland en Suid-Afrika ook bekendheid verwerf. Agt voormalige Indiese spelers is in die Internasionale Krieketraad se Heldesaal opgeneem.
Die Raad vir Beheer van Krieket in Indië (BCCI) is in 1928 gestig en verantwoordelik vir die reëling van krieket in Indië.[19] Sedert 31 Mei 1926 is Indië ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) en mag dus toetskrieket speel.[20] Daarbenewens was die Indiese beheerliggaam in 1983 ’n stigtingslid van die Asiatiese Krieketkonferensie (Asian Cricket Conference, ACC; nou Asiatiese Krieketraad).[21]
Die BCCI is een van die rykste sportbeheerliggame wêreldwyd. Sy mediaregte-inkomste vir die Indiese toernooie vir die periode 2006–2010 het $ 612 000 000 beloop.[22] Met sy sterk finansiële bande in die krieketwêreld het die BCCI al herhaaldelik weerstand ontbied teen die IKR se toerskedule, en op meer toetsreekse teen Australië en Engeland aangedring, aangesien hulle hiermee meer inkomste verdien as met ’n toetsreeks teen Bangladesj of Zimbabwe.[23] In die verlede het die BCCI met die IKR ook oor borgskappe[24] en die Kampioenetrofee se bestaansrede verskil.
Die Raad vir Beheer van Krieket in Indië bestuur al die Indië-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reëling van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die BCCI verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Indiese span.
Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting. Nes ander krieketlande beskik Indië oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem.[25] Indië A is die tweede nasionale span van Indië en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.
Geskiedenis
Inheemse voorlopers
Daar word al oor eeue heen sport in Indië beoefen waar deelnemers ’n bal met ’n stok slaan. Veral Gilli Danda, ’n antieke sport, waarby ’n speler ’n gegooide bal met ’n stok slaan, word as ’n inheemse voorloper van krieket beskou. Dié sport word dalk sedert sowat 2500 jaar gelede in Indië beoefen.[26] Gilli Danda word gereeld met krieket vergelyk en die sportsoorte toon vele ooreenkomste.[27][28][29][30]
Vroeë geskiedenis
Soos in ander dele van die wêreld het Britse kolonisasie die spel krieket na Indië gebring, waar dit vinnig gewildheid verwerf het. Die eerste bekende krieketwedstryd in Indië is in 1721 deur seemanne van die Britse Oos-Indiese Kompanjie gespeel.[31][32] Die eerste bekende krieketklub is die Kolkata Krieketklub wat sedert minstens 1792 bestaan. In 1848 het die Parsi-gemeenskap in Bombaai die Oosterse Krieketklub gestig, die eerste krieketklub wat deur Indiërs gestig is. Ná ’n stadige begin het die Europeërs in 1877 die Parsi’s genooi om ’n krieketwedstryd te speel.[33] Die eerste toer van ’n Indiese span na Europa is in 1886 gereël, twee jaar later het die eerste Engelse span Indië besoek.[31] Teen 1912 het die Parsi’s, Sikhs, Hindoes en Moslems van Bombaai teen die Europeërs in ’n jaarlikse vierhoekige toernooi met vier spanne gespeel.[33] In die vroeë 1900’s het van die Indiërs vir Engeland begin speel. Sommige van hierdie spelers, soos Ranjitsinhji en KS Duleepsinhji, is deur die Britte opreg waardeer en hul name is met onderskeidelik die Ranji-trofee en die Duleep-trofee vereer – twee vername eersterangse toernooie in Indië. In 1911 het ’n Indiese span vir hul eerste amptelike toer na die Britse Eilande vertrek, maar slegs teen Engelse countyspanne, en nie die Engelse nasionale span gespeel nie.[34]
Op pad na toetskrieketstatus
Die Marylebone-krieketklub (MKK) was gretig om krieket in die hele Britse Ryk te bevorder en op 31 Mei 1926 het die Indiese beheerliggaam saam met sy Nieu-Seelandse en Wes-Indiese eweknieë volle lede geword van die Imperiale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) wat voorheen slegs uit die MKK en verteenwoordigers uit Australië en Suid-Afrika bestaan het.[35] Ná sy toetrede tot die IKK kon Indië nou amptelike toetswedstryde speel, wat na die belangrikste en vernaamste internasionale krieketwedstryde verwys. Twee jaar later is die BCCI amptelik gestig. Indië het sy debuut as ’n toetslande in 1932 op Lord’s in Londen gemaak, aangevoer deur CK Nayudu, wat destyds as die beste Indiese bouler beskou is; hulle het egter nie oor ’n sterk kolfspan beskik nie en is in dié wedstryd met 158 lopies verslaan.[36] In 1933/34 het die Engelse teenbesoek gevolg, wat gelyktydig Indië se eerste tuisreeks in toetskrieket was. Hulle het twee toetse in Bombaai (nou Mumbai) en Kalkutta (nou Kolkata) gespeel. Die besoekers het dié reeks met 2-0 gewen.[37]
Die Indiese span het regdeur die 1930’s en 1940’s verder ontwikkel, maar hulle het nie ’n internasionale oorwinning in dié tydperk aangeteken nie. In die vroeë 1940’s het Indië weens die Tweede Wêreldoorlog nie toetskrieket gespeel nie en tot die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het Indië in sewe wedstryde teen Engeland geen oorwinning en slegs twee onbeslisuitslae aangeteken.[38] Ná die onafhanklikheid en Verdeling van Indië is ook wedstryde teen die ander toetslande, waaronder Australië en Wes-Indië, gespeel. Die span se eerste wegreeks as ’n onafhanklike land was in laat 1947 teen Donald Bradman se Invincibles (soos die Australiese span destyds genoem is). Dit was ook die eerste toetsreeks wat Indië nie teen Engeland gespeel het nie. Australië het die vyf-toetsreeks met 4–0 gewen, nadat Bradman die Indiese boulwerk in sy laaste Australiese somer gekwel het.[39] Ná onafhanklikheid het Indië sy eerste toetsreeks tuis in 1948 teen Wes-Indië gespeel. Die besoekers het dié vyf-toetsreeks met 1–0 gewen, nadat vier wedstryde onbeslis geëindig het.[40]
Indië het sy eerste toetsoorwinning, in hul 24ste probeerslag, teen Engeland in Madras in 1952 aangeteken.[41] Later dieselfde jaar het hulle hul eerste toetsreeks, teen Pakistan, gewen; Pakistan het tydens dié toetsreeks sy eerste toetswedstryd ooit gespeel.[42] Indië het sy vordering in die vroeë 1950’s met ’n reeksoorwinning teen Nieu-Seeland in 1956 voortgesit.[43] Hulle het egter tot die einde van dié dekade geen verdere oorwinning aangeteken nie en swak teen sterk Australiese en Engelse spanne verloor. Op 24 Augustus 1959 het Indië met ’n beurt in die toets teen Engeland verloor, wat tot die enigste platloop deur Engeland met 5–0 gelei het.[44] In die volgende dekade het Indië in ’n sterk span met ’n tuisrekord ontwikkel. Hulle het hul eerste tuisreeks teen Engeland in 1961/62,[45] maar ook ’n tuisreeks teen Nieu-Seeland, gewen.[46] Eweneens het Indië daarin geslaag om gelykop in tuisreekse teen Pakistan[47] en teen Australië,[48] asook in ’n verdere tuisreeks teen Engeland te speel.[49] Gedurende dieselfde tydperk het Indië ook sy eerste reeksoorwinning buite die subkontinent aangeteken, toe hulle in 1967/68 in Nieu-Seeland geseëvier het.[50]
Die kern van die Indiese boulwerk in die 1970’s was hul draaikwartet – Bishen Bedi, E.A.S. Prasanna, B.S. Chandrasekhar en Srinivas Venkataraghavan. Dié dekade het ook die opkoms van twee van Indië se beste kolwers nog, Sunil Gavaskar en Gundappa Viswanath, beleef. Indiese kolfblaaie het die neiging gehad om draai te ondersteun en die draaikwartet het die feit uitgebuit om die opponente se kolfspanne te laat ineenstort. Hierdie spelers, onder kaptein Ajit Wadekar, het Indië na twee opeenvolgende reeksoorwinnings in 1971 in Wes-Indië[51] en in Engeland geneem.[52] Gavaskar het 774 lopies tydens die Wes-Indiese toetsreeks aangeteken, terwyl Dilip Sardesai se 112 belangrik was in een van hul toetsoorwinnings.
EDI-krieket en krieketwêreldbekersuksesse
Die koms van EDI-krieket in 1971 het ’n nuwe aspek tot die krieketwêreld gevoeg. Indië is destyds egter nie as ’n sterk EDI-span beskou nie en kolwers soos die kaptein Gavaskar was bekend vir hul verdedigende benadering tot kolfwerk. Indië het as ’n swak span in EDIs begin en tydens die eerste twee krieketwêreldbekertoernooie nie tot die tweede rondte gevorder nie.[53] Gavaskar het op ’n berugte manier sy weg blokkeer en 36 lopies nie uit nie in 174 aflewerings in die eerste Krieketwêreldbeker 1975 teen die gasheer Engeland aangeteken; Indië het slegs 132 lopies vir die verlies van drie paaltjies behaal en met 202 lopies verloor.[54] Tydens die Krieketwêreldbeker 1979 in Engeland het Indië nie een van sy wedstryde in die groepfase gewen nie en is agtereenvolgens deur Wes-Indië, Nieu-Seeland en Sri Lanka geklop, waarvolgens hulle in die laaste plek van hul groep geëindig het.[55]
In teenstelling daarmee het Indië in toetswedstryde ’n sterk span op die veld gesit en veral tuis ’n goeie rekord gehad, waar hul kombinasie van uitmuntende kolwers en uitstekende draaiers op die hoogtepunt was. Indië het in 1976 ’n destydse toetsrekord in die derde toets teen Wes-Indië in Port-of-Spain opgestel, toe hulle 403 lopies gejaag het om te wen, danksy 112 lopies deur Viswanath. Hierdie oorwinning teen Wes-Indië is as ’n keerpunt in hul krieketgeskiedenis beskou omdat dit kaptein Clive Lloyd die draai laat opgee en die vertroue nou heeltemal na die vier-man snelaanval verskuif het.[56] In November 1976 het die span ’n ander rekord opgestel, toe hulle 524 lopies vir die verlies van nege paaltjies teen Nieu-Seeland in Kanpur aangeteken sonder dat ’n kolwer ’n honderdtal gemoker het. Daar was ses vyftigtalle, en die hoogste telling was Mohinder Amarnath se 70 lopies. Hierdie beurt was slegs die agtste geval in toetskrieket waar al elf kolwers dubbelsyfers behaal het.[57]
Gedurende die 1980’s het Indië ’n meer aanvallende kolfspan ontwikkel met lopiemakers soos die gewrigboulers Mohammed Azharuddin en Dilip Vengsarkar, asook die veelsydige Kapil Dev en Ravi Shastri. Die destydse buiteperd Indië het die Krieketwêreldbeker in 1983 in Engeland gewen, nadat hulle die gunstelinge en tweemalige verdedigende wêreldkampioen Wes-Indië in die eindstryd op Lord’s met ’n sterk boulwerkprestasie verslaan het.[58] Ten spyte hiervan het die span swak in toetskrieket vertoon, insluitende 28 agtereenvolgende toetswedstryde sonder ’n oorwinning. In 1984 het Indië die Asiatiese Beker in die Verenigde Arabiese Emirate en in 1985 die Krieketwêreldkampioenskap in Australië gewen. Nogtans het Indië ’n minder mededingende spann buite die Indiese subkontinent gebly. Indië se toetsreeksoorwinning in 1986 teen Engeland sou die laaste toetsoorwinning vir Indië buite die Indiese subkontinent vir die volgende 19 jaar wees.[59] Tydens die Krieketwêreldbeker 1987, wat in beide Pakistan en Indië aangebied is, het Indië die halfeindstryd gehaal, maar hulle is deur die latere naaswenner Engeland uitgeskakel.[60] ’n Jaar later het hulle tydens die Asiatiese Beker 1988 in Bangladesj hul tweede titel gewen. Gedurende die 1980’s was beide Gavaskar en Kapil Dev (Indië se beste veelsydiges destyds) op die hoogtepunt van hul loopbane. Gavaskar het ’n toetsrekord van 34 honderdtalle opgestel en hy het die eerste speler geword wat die mylpaal van 10 000 lopies bereik het.[61] Kapil Dev het later die hoogste paaltjie-nemer in toetskrieket geword en altesaam 434 paaltjies geneem.[62] Dié tydperk is ook deur ’n onstuimige leierskap gekenmerk, omdat Gavaskar en Kapil Dev die kapteinskap herhaaldelik uitgeruil het.
Laat 20ste eeu
Die aansluiting van beide Sachin Tendulkar en Anil Kumble by die nasionale span in onderskeidelik 1989 en 1990 het die span verder laat ontwikkel. Die volgende jaar het Javagal Srinath, Indië se snelste kolwer sedert Amar Singh, sy debuut gemaak.[64] Indië kon nogtans gedurende die 1990’s nie een van sy 33 toetswedstryde buite die Indiese subkontinent wen nie, terwyl hulle 17 van hul 30 toetse tuis gewen het. Net só het hulle die Asiatiese Beker 1990 op eie bodem gewen. Tydens die Krieketwêreldbeker 1992, wat in beide Australië en Nieu-Seeland aangebied is, is al die nege deelnemende spanne in een groep geplaas; Indië het slegs oorwinnings teen die aartsvyand en latere wêreldkampioen Pakistan, en Zimbabwe, aangeteken en is vervolgens uit die toernooi geskakel.[65] Tydens die Asiatiese Beker 1995 het die span sy vierde titel ingepalm. Indië is tydens die Krieketwêreldbeker in 1996 deur die buurland Sri Lanka tuis in die halfeindstryd uitgeskakel, nadat ná onluste in die gehoor as gevolg van Indië se swak prestasie die wedstryd op Eden Gardens in Kolkata afgelas en aan Sri Lanka toegeken is.[66] Aansluitend het die span ’n jaar van verandering ondergaan nadat beide Sourav Ganguly en Rahul Dravid, wat later albei kapteins van die span sou word, hul debuut tydens dieselfde toets op Lord’s gemaak het. Tendulkar het Azharuddin as kaptein in laat 1996 vervang, maar ná ’n persoonlike en spanvorm insinking, het Tendulkar as kaptein afgetree en Azharuddin het vroeg in 1998 weer as kaptein oorgeneem. Nadat hy van kapteinskap bevry is, het Tendulkar die wêreld se leidende lopiemaker in beide toetse en EDIs geword, en Indië het in 1997/98 ’n toetsoorwinning tuis teen Australië, die destyds beste geplaaste span in die wêreld, behaal.[67] Tydens die nuwe Kampioenetrofee 1998 is Indië in die halfeindstryd deur Wes-Indië uitgeskakel.[68]
Nadat Indië ná ’n goeie prestasie tydens die groepfase in die Super Ses ná slegs een oorwinning teen die aartsvyand Pakistan versuim het om tot die halfeindstryd van die Krieketwêreldbeker 1999 in Engeland te vorder,[69] is Tendulkar weer as kaptein benoem, en hy het opnuut ’n swak prestasie gelewer, nadat hulle met 0–3 in Australië[70] en daarna met 2–0 tuis deur Suid-Afrika verslaan is.[71] Tendulkar het as kaptein afgetree en belowe, om die span nooit weer te lei nie. Ganguly is as die nuwe kaptein aangestel en die span het in 2000 verdere skade ondergaan, nadat beide die voormalige kaptein Azharuddin en die kolwer Ajay Jadeja in ’n wedstrydknoeieryskandaal betrokke was en onderskeidelik lewenslank en vir vyf jaar opgeskort is. Hierdie tydperk is deur die BBC as the Indian cricket's worst hour (“Indiese krieket se ergste uur”) beskryf. Die nuwe kernspan – Tendulkar, Dravid, Kumble en Ganguly – het egter belowe dat só iets nooit meer sal gebeur nie, en die Indiese krieket uit die donker tydperk gelei. Die drie eersgenoemdes het persoonlike ambisies opsy gesit om Ganguly hulle tot ’n nuwe era te laat lei.[72]
In die nuwe millennium
Sedert 2000 het die Indiese span groot verbeteringe onder kaptein Sourav Ganguly en afrigter John Wright, die eerste buitelander in dié pos, ondergaan. Indië het sy onoorwonne tuisrekord teen Australië in toetsreekse uitgebrei, nadat hulle die besoekende span in 2001 verslaan het.[73] Dié reeks word onthou vir die toetswedstryd in Kolkata, waartydens Indië die derde span in die geskiedenis van toetskrieket geword het om ’n wedstryd te wen nadat hulle tweede begin het. Ná die eerste beurt was Indië met 278 lopies agter, maar hulle het die wedstryd met ’n voorsprong van 171 lopies beklink.[74] Die Australiese kaptein Steve Waugh het na Indië as die Final Frontier (“laaste struikelblok”) verwys, aangesien sy span nie in staat was om ’n toetsreeks in Indië te wen nie.[75] Hul 2001-oorwinning teen Australië het vir Indië ’n droomloop onder hul kaptein Ganguly ingelui, en hulle het toetswedstryde in Zimbabwe, Sri Lanka, Wes-Indië en Engeland gewen. Die Engelse reeks word ook onthou vir Indië se hoogste EDI-lopiejaag van 325 lopies op Lord’s tydens die Natwest se EDI-reekseindstryd teen Engeland.[76] In dieselfde jaar het Indië die Kampioenetrofee met Sri Lanka gedeel, nadat die eindstryd twee keer uitgereën is.[77] Tydens die Krieketwêreldbeker 2003 in Suid-Afrika het Indië die eindstryd gehaal, maar hulle is deur die oorheersende Australiërs verslaan.[78] Tydens die 2003/04-seisoen het Indië ’n toetsreeks in Australië gespeel, waar hulle 1–1 gelykop teen die destydse wêreldkampioen gespeel het,[79] en daarna het hulle ’n toets- en EDI-reeks in Pakistan gewen.[80]
Aan die einde van die 2004-seisoen het Indië onder die gebrek aan vorm en fiksheid van sy ouer spelers gely. ’n Nederlaag in ’n toetsreeks tuis teen Australië[81] is opgevolg deur ’n EDI-reeksnederlaag en ’n toetsreeksgelykop tuis teen Pakistan.[82] Greg Chappell het by John Wright as die afrigter van die Indiese span ná die reeks oorgeneem, en sy metodes was aan die begin van sy ampstermyn omstrede. Die spanning het tot ’n onderonsie tussen Chappell en Ganguly gelei, waarvolgens Rahul Dravid as kaptein aangewys is.[83] Dit het ’n herlewing in die span se lotgevalle veroorsaak, ná die opkoms van spelers soos MS Dhoni en Suresh Raina, asook die mondigwording van spelers soos Irfan Pathan en Yuvraj Singh. ’n Uitstekende tuisreeksoorwinning teen Sri Lanka in 2005[84] en ’n EDI-reeksgelykop teen Suid-Afrika[85] het Indië na die tweede plek op die IKR se EDI-ranglys geneem. Dravid, Tendulkar en Virender Sehwag is vir die IKR se Wêreldspan tydens die 2005 “Supertoets” teen Australië benoem.[86] ’n Suksesvolle EDI-reeks in Pakistan in vroeg 2006, gevolg deur ’n nederlaag in die toetsreeks,[87] het aan Indië die wêreldrekord van 17 agtereenvolgende EDI-oorwinnings, nadat hulle tweede begin kolf het, besorg.[88] Teen die middel van 2006 het ’n reeksnederlaag met 4–1 in Wes-Indië tot ’n insinking van Indië se EDI-vorm gelei, terwyl hulle ’n 1–0-oorwinning in die volgende toetsreeks aangeteken het, hul eerste toetsoorwinning in die Karibiese gebied sedert 1971.[89] Indië se EDI-vorm het met ’n teleurstellende prestasie tydens die Kampioenetrofee 2006[90] en ’n afranseling tydens die EDI-reeks in Suid-Afrika verder agteruit gegaan. Dit is weer opgevolg deur ’n aanvanklike goeie vertoning in toetskrieket, nadat Indië sy eerste toetsoorwinning in Suid-Afrika behaal het, alhoewel hulle die toetsreeks met 1–2 sou verloor.[91] Die toetsreeks is deur Ganguly se terugkoms in die Indiese span gekenmerk.[88]
In Desember 2006 het Indië sy eerste internasionale T20I-wedstryd in Suid-Afrika gespeel en gewen, waardeur hulle die laaste destydse toetsland geword het om ’n T20I-wedstryd te speel (later het ook Afghanistan en Ierland, wat toe reeds T20I-wedstryde gespeel het, toetslande geword). Aan die begin van 2007 het Indië aan sy EDI-prestasies – net voor die Krieketwêreldbeker 2007 – verbeter. Reeksoorwinnings teen beide Wes-Indië en Sri Lanka, saam met die terugkoms van Ganguly, die sterk prestasie van Tendulkar, en die opkoms van jong spelers soos Robin Uthappa het volgens sommige kenners aan Indië die status as ’n gunsteling tydens die Krieketwêreldbeker 2007 in Wes-Indië besorg. Indië het ná nederlae teen Bangladesj en Sri Lanka egter nie tot die tweede rondte gevorder nie.[92]
Sukses onder Dhoni
Nadat Indië die toetsreeks in Engeland in Augustus 2007 gewen het,[94] het Dravid as spankaptein bedank, en Dhoni is as T20I- en EDI-kaptein benoem. In September 2007 het Indië die eerste T20I-wêreldbeker in Suid-Afrika gewen, nadat hulle Pakistan met vyf lopies in die eindstryd verslaan het.[95] In 2007/08 het hulle na Australië getoer en dié hoogsomstrede toetsreeks met 1–2 verloor,[96] maar hulle het daarin geslaag om die CB-reeks die volgende maand met ’n platloop-eindstryd teen Australië te wen.[97]
In April 2009 het Indië sy eerste toetsreeks in Nieu-Seeland in 41 jaar beklink.[98] Nadat hulle Sri Lanka in Desember 2009 tuis met 2–0 verslaan het,[99] was Indië die eerste gekeurde toetsland in die wêreld. Hulle het die plek na gelykopreekse teen Suid-Afrika[100] en in Sri Lanka verdedig.[101] In dieselfde jaar het hulle die Asiatiese Beker beklink.[102] In Oktober 2010 het Indië Australië met 2–0 in die toetsreeks tuis platgeloop, waarvolgens hulle opeenvolgend kon seëvier.[103] Later die jaar het Indië daarin geslaag om in die toetsreeks in Suid-Afrika met 1–1 gelykop te speel.[104]
Op 2 April 2011 het Indië die Krieketwêreldbeker 2011 gewen, nadat hulle die medegasheer Sri Lanka in die eindstryd kon klop, en sodoende die derde span na Wes-Indië en Australië geword het om die Krieketwêreldbekertoernooi twee keer te wen, hul vorige oorwinning was in 1983. Gautam Gambhir en die kaptein Dhoni het in die eindstryd onderskeidelik 97 en 91* lopies aangeteken.[105] Indië het sodoende die eerste gasheer geword wat die krieketwêreldbekertoernooi tuis gewen het.[106][107]
Indië is in ’n toetsreeks in Engeland met 4–0 in Augustus 2011 oorrompel, waarvolgens Engeland Indië as die nommer een span op die ranglys vervang het.[108] Dié reeks is deur ’n verdere platloop met 4–0 in Januarie 2012 in Australië opgevolg.[109] Ná die twee teleurstellende platlope het beide Dravid en VVS Laxman in 2012 uit toetskrieket bedank. Tendulkar het in November 2013 ná sy 200ste toetswedstryd afgetree. Ná Ganguly se uittrede in 2008 het hierdie uittredes die einde van die fabelagtige middelorde-kolfspan waaroor Indië die afgelope dekade beskik het, gekenmerk. 2012 het ’n rowwe tydperk vir Indiese krieket ingelui, nadat hulle tuis met 2–1 deur Engeland in die toetsreeks verslaan is.[110] Dit was die eerste keer in 28 jaar wat Indië tuis deur Engeland geklop is.[111] Dit is opgevolg deur ’n 1–2-nederlaag in die EDI-reeks teen die aartsvyand Pakistan tuis.[112] Indië is toe in die tweede rondte van die T20I-wêreldbeker 2012 in Sri Lanka weens ’n swakker netto-lopietempo teenoor Australië en Pakistan uitgeskakel.[113] Eweneens het Indië versuim om vir die eindstryd van die Asiatiese Beker 2012 te kwalifiseer, wat vir Indië ’n teleurstellende 2012 afgesluit het.[114]
Sukses in korter formate
Vroeg in 2013 het Indië teen Australië wraak geneem en hulle met 4–0 tuis in ’n toetsreeks platgeloop.[115] Indië het in 2013/14 Australië met 3–2 in die EDI-reeks van sewe wedstryde verslaan en die eenmalige T20I-wedstryd gewen.[116] Indië moes egter swak nederlae in Suid-Afrika[117] en in Nieu-Seeland[118] verduur, wat tot hewige kritiek aan Indiese krieketspelers gelei het omdat hulle nie in die buiteland kon presteer nie. Indië het Engeland tydens die Kampioenetrofee se eindstryd verslaan[119] en MS Dhoni het die eerste kaptein geword wat al drie IKR-trofeë ingepalm het: Krieketwêreldbeker, T20I-wêreldbeker en Kampioenetrofee.[120] Dit is opgevolg deur ’n oorwinning tydens die Wes-Indiese driehoekige reeks 2013, waaraan Indië, Wes-Indië en Sri Lanka deelgeneem het.[121] In 2014 het die Indiese span na beide Bangladesj en Engeland getoer. Hoewel hulle eersgenoemde met 2–0 in drie EDIs verslaan het,[122] is die Indiese span met 3–1 in vyf toetse deur Engeland geklop. Dié reeks word onthou vir die Indiese oorwinning tydens die eerste toets op Lord’s. Die toetsreeks is opgevolg deur ’n 3–1-oorwinning vir Indië in die EDI-reeks van vyf wedstryde en ’n T20I-nederlaag, albei in Engeland.[123]
In 2014 het Indië weer versuim om die eindstryd van die Asiatiese Beker te haal.[124] Tydens die T20I-wêreldbeker in Bangladesj is Indië naelskraap in die eindstryd deur Sri Lanka verslaan en het sodoende ’n verdere IKR-trofee net-net misgeloop. Tydens dié toernooi het Virat Kohli as een van die beste kolwers in die korter formate van krieket ontpop en hy is as speler van die reeks aangewys.[125] Indië het toe beide Wes-Indië[126] en Sri Lanka[127] in EDI-reekse verslaan en sodoende hul eerste plek op die EDI-ranglys verdedig. Indië het aan die einde van 2014 vir ’n vier-toetsreeks na Australië getoer; dié toer word onthou vir MS Dhoni se skielike aftrede uit toetskrieket ná die tweede toets. Virat Kohli is as die nuwe Indiese kaptein in toetskrieket aangewys,[128] maar hy was nie in staat om die reeks om te keer nie en Indië is met 2–0 verslaan.[129] Kohli se eerste reeksoorwinning as kaptein was tydens die drie-toetsreeks tuis teen Sri Lanka, wat die begin van ’n onoorwonne reeksloop vir Indië ingelui het.[130]
Tuisoorheersing
In 2015 het Indië onder sy nuwe kaptein Virat Kohli sy oorheersing in toetswedstryde tuis begin, nadat hulle Suid-Afrika oortuigend verslaan het.[131] Dié toetsreeks het ’n onoorwonne reeks van 19 agtereenvolgende toetswedstryde vir Indië ingelui, wat eers vroeg in 2017 deur Australië beëindig is.[132] Die reeks het ook die opkoms van beide Ravichandran Ashwin en Ravindra Jadeja as twee van die beste draaiers en veelsydiges gesien. Hulle draai webbe rondom toerende kolwers, baie soos die draaikwartet van die 1970’s. Die suksesvolle reeks is opgevolg deur oorsese oorwinnings in die korter formate in Sri Lanka[133] en in Australië, waarvolgens Indië die eerste plek op die EDI-ranglys behaal het.[134] Tydens die Krieketwêreldbeker 2015 in Australië en Nieu-Seeland het Indië onoorwonne die halfeindstryd gehaal, maar hulle is deur die latere wêreldkampioen Australië oortuigend met 95 lopies uitgeskakel.[135] Indië het 2016 met die oorwinning van die Asiatiese Beker begin, nadat hulle gedurende die hele toernooi onoorwonne was, en Pakistan langs die pad geklop het.[136] Indië was die gunsteling tydens die T20I-wêreldbeker 2016 tuis, maar hulle is in die halfeindstryd deur die uiteindelike wêreldkampioen Wes-Indië uitgeskakel.[137] Virat Kohli is weer as die speler van die toernooi aangewys.
In 2016 het “die groot tuisseisoen” vir Indië begin, insluitende reeksoorwinnings teen Nieu-Seeland, Engeland, Bangladesj en Australië. Indië het Nieu-Seeland verslaan om die eerste plek op die toetsranglys ná meer as tien jaar te herwin.[138] Voor die reeks teen Engeland in November 2016 het MS Dhoni as Indiese kaptein in die korter formate afgetree, en dié pos in al die formate aan Virat Kohli oorhandig. Indië het Engeland in al drie formate verslaan, met ’n noemenswaardige 4–0-oorwinning in die toetsreeks.[139] Dit is opgevolg deur toetsreeksoorwinnings teen beide Bangladesj[140] en Australië, waarmee Indië die Border Gavaskar-trofee herwin het.[141] Ravichandran Ashwin het die vinnigste krieketspeler geword om 250 paaltjies te neem; hy en Ravindra Jadeja het destyds die beste twee plekke in beide die IKR-boulers en veelsydige ranglyste beklee. In die proses het Indië die derde span (na Suid-Afrika en Australië) geword om hul mees onlangse toetsreeks teen al die ander toetsspelende lande te wen.[142] Teen 6 Desember 2017 was Indië in nege opeenvolgende toetsreekse onoorwonne.[143]
Indië het Pakistan in hul eerste wedstryd tydens die Kampioenetrofee 2017 met 124 lopies geklop,[144] maar hulle het hul tweede wedstryd tydens die groepfase teen Sri Lanka met sewe paaltjies ten spyte van ’n aangetekende 321 lopies verloor.[145] In hul laaste groepwedstryd teen Suid-Afrika, ’n moet-wen-ontmoeting, het Indië maklik gewen en sy plek in die halfeindstryd bespreek, teen Bangladesj.[146] Indië het die wedstryd gemaklik met nege paaltjies gewen, en hul aartsvyand Pakistan in die eindstryd ontmoet, die eerste keer wat hulle in ’n eindstryd sedert 2007 ontmoet het.[147] In ’n teleurstellende wedstryd, aangesien Indië die gunsteling was, het Pakistan Indië maklik met 180 lopies verslaan, en hulle in al drie aspekte van die spel (kolfwerk, boulwerk, veldwerk) deklasseer.[148]
In Julie 2017 het Indië Wes-Indië met 3–1 in ’n reeks van vyf EDI-wedstryde in die Karibiese eilande verslaan,[149] maar die eenmalige T20I-wedstryd verloor.[150] Indië het toe na Sri Lanka getoer, en hulle maklik met 3-0 in ’n drie-toetsreeks verslaan, die eerste keer wat Indië ’n opponent oorsee in minstens drie wedstryde geklop het.[151]
Die volgende jaar het gemengde resultate van die Indiese span gesien: hulle het oorsese toetsreekse in beide Suid-Afrika[152] en in Engeland[153] verloor, maar hulle het hul toetsreeks in Australië gewen, die eerste keer wat hulle ’n toetsreeks daar gewen het.[154] In toetswedstryde tuis het hulle Wes-Indië verslaan.[155] Indië het die EDI-been van die Suid-Afrikaanse toer gewen, gevolg deur die driehoekige toernooi met Sri Lanka en Bangladesj.[156] Daarna het hulle die Asiatiese Beker 2018 in die Verenigde Arabiese Emirate gewen.[157] Hulle het met 1–2 in die EDI-reeks in Engeland verloor, gevolg deur ’n oorwinning tuis teen Wes-Indië en oorsee teen beide Australië en Nieu-Seeland. Aan die begin van 2019 het Australië die T20I-reeks met 2–0 gewen, Virat Kohli se eerste tuisnederlaag in ’n T20I-reeks.[158] Tydens die Krieketwêreldbeker 2019 in Engeland het Indië die groepfase in die eerste plek afgesluit en tot die halfeindstryd gevorder, maar hulle is deur Nieu-Seeland uitgeskakel.[159] Ná die Krieketwêreldbeker het Suid-Afrika vir ’n drie-toetsreeks na Indië getoer en die gasheer het skoonskip met die Proteas afgereken en met 3–0 gewen, waarvan die laaste twee toetse elk met ’n beurt en meer as 100 lopies. Dit was Indië se eerste skoonskiptoetsreeks ooit teen die Proteas.[160][161]
Indië het sy eerste T20I-reeks van drie wedstryde in 2020 in Sri Lanka met 2–0 gewen.[162] Daarna het Indië sy EDI-reeks van drie wedstryde teen Australië met 2–1 gewen.[163]
In Junie 2021 het Indië in die eindstryd van die eerste Wêreldtoetskampioenskap 2019–2021 teen Nieu-Seeland te staan gekom, maar hulle is met agt paaltjies verslaan.[164] Tydens die T20I-wêreldbeker 2021 se Super 12 in Oman en die Verenigde Arabiese Emirate is Indië in sy openingswedstryd vir die eerste keer ooit deur die aartsvyand Pakistan in ’n krieketwêreldbekerwedstryd verslaan.[165] Aansluitend is die Indiërs deur Nieu-Seeland geklop, waarvolgens hulle oorwinnings teen Afghanistan, Skotland en Namibië nie meer gehelp het om hulle vir die halfeindrondte te laat kwalifiseer nie.[166] Tydens die T20I-wêreldbeker 2022 se Super 12 in Australië het Indië Pakistan, Nederland, Bangladesj en Zimbabwe verslaan, terwyl hulle teen Suid-Afrika verloor het. Daarmee het die Indiërs hul groep in die eerste plek afgesluit en die halfeindrondte gehaal, maar hulle is deur die latere wêreldkampioen Engeland met tien paaltjies verslaan.[167] In Junie 2023 het Indië in die eindstryd van die tweede Wêreldtoetskampioenskap 2021–2023 Australië ontmoet, maar hulle het met 209 lopies verloor.[168] In dieselfde jaar het die span die Asiatiese Beker in Pakistan en Sri Lanka beklink.[169] Indië was gasheer van die Krieketwêreldbeker 2023 en het onoorwonne die eindstryd gehaal, nadat hulle vir die eerste keer tien agtereenvolgende EDI-wedstryde kon wen.[170] In dié proses het Virat KohliSachin Tendulkar se rekord van 49 EDI-honderdtalle verbygesteek en sy 50ste EDI-honderdtal gemoker, asook ’n nuwe rekord opgestel met die meeste lopies tydens ’n krieketwêreldbekertoernooi nog (765).[171] In die eindstryd is die gasheer egter deur Australië op 240 lopies uitgeboul, waarna hulle met ses paaltjies verloor het.[172] Tydens die T20I-wêreldbeker 2024 in die Verenigde State en Wes-Indië het die Indiërs weer ’n nuwe rekord opgestel en onoorwonne die eindstryd gehaal.[173] Hulle het teen die eweneens onoorwonne Suid-Afrika te staan gekom en kon die hoogste eindstrydtelling aangeteken, maar die Proteas het tot in die laaste boulbeurt tred gehou en die Indiërs kon die eindstryd naelskraap met sewe lopies wen.[174] Daarmee het die Indiërs ná Wes-Indië in 2016 en Engeland in 2022 die derde span geword wat sy tweede T20I-wêreldbekertitel kon wen.[175] Ná dié sukses het Virat Kohli, Rohit Sharma en Ravindra Jadeja hul uittrede uit T20I-krieket aangekondig.[176]
Wit krieketklere word tradisioneel deur die Indiese krieketspan gedra wanneer hulle eersterangse krieket speel. Saam met hul wit klere dra Indiese veldwerkers ’n donkerblou pet of ’n wit breedgerande sonhoed met die BCCI se kenteken in die middel. Helms is ook donkerblou. Van die spelers toon die Indiese vlag op hul helms.
Die wit krieketklere toon min handelsmerke; die BCCI se kenteken word op die linkerbors vertoon, terwyl die borg se kenteken (tans Dream11) op die regterbors vertoon word. Die uitruster se kenteken is op die mou van die speler se voorarm.
Korter formate
Sedert kleure in internasionale krieket gebruik word, het die Indiese span blou as sy hoofkleur gekies. Die blou kleur van hul trui het aan die span die bynaam Men in Blue besorg. Die tweede kleur het oor die jare heen gewissel, met geel en oranje as die mees gebruikte tweede kleur. Met die invoering van die Wêreldkrieketreeks in 1979 moes elke span ’n hoofkleur en ’n tweede kleur kies en die Indiese span het ligblou as hul hoofkleur en geel as hul tweede kleur gekies. Sedertdien het die span verskeie skakerings van blou gebruik. Vir die Krieketwêreldbeker 1992 is die spankleure deur die hoofuitruster ISC van dié toernooi na donkerblou verander. Tydens die Krieketwêreldbeker 1996 is ’n ligte skakering van blou met geel as tweede kleur en ’n streep met tien verskillende kleure (wat verskillende lande verteenwoordig het) gebruik, terwyl tydens die Krieketwêreldbeker 1999 ’n nog ligter skakering van blou en ’n dominante geel deur die algemene uitruster van dié toernooi, ASICS, gebruik is. Die IKR benoem nie meer ’n algemene uitruster vir sy toernooie nie.
Verskeie truiontwerpe is oor die jare heen gebruik en die mees oorheersende was dié met India in geel oor ’n diagonale spatsel van die driekleur. Nike is in 2005 as vervaardiger van die trui benoem en het vir die Krieketwêreldbeker 2007 nuwe truie ontwerp met die ligste skakering van blou wat deur die span nog gebruik is en goudgeel as die tweede kleur. ’n Nuwe driekleurige aksent is op die regterkant van die trui gebruik. Die kleur is in 2009 na ’n donker feroza-blou verander en oranje het by geel as tweede kleur oorgeneem.[177]
Nike het ’n nuwe trui bekend gestel met ’n sterker ultramarynblou-skakering[178] en in 2010 is ’n nuwe driekleurige aksent op albei kante van die trui gebruik.[179] ’n Rooierige skakering van oranje is as ’n tweede kleur op dié trui gebruik. In 2014 is ’n nuwe trui onthul met ’n effens donker skakering van blou en ’n minimale aksentontwerp oor die skouers.[180] Nike het vir die Krieketwêreldbeker 2015 weer ’n nuwe trui met ’n soortgelyke skakering van blou en sonder aksente voorgelê; dié trui is van herwinde plastiekbottels vervaardig.[181] Vir die Krieketwêreldbeker 2019 het Nike ’n nuwe trui met twee skakerings van blou ontwerp.[182][183] Die voorkant van dié trui gebruik ’n soortgelyke skakering van blou soos die vorige truie, terwyl die sye, arms en rug in ’n ligter blou gekleur is. ’n Minimale skakering van oranje is ook op die sye gebruik. Vir die wedstryd teen Engeland tydens die Krieketwêreldbeker 2019 is, volgens die IKR se reëls, ’n alternatiewe trui met oranje op die rug en skouers en donkerblou op die voorkant gebruik.[184] Dit was die eerste keer wat ’n ander kleur as die hoofkleur van die Indiese trui gebruik is.[185] Dié wedstryd teen Engeland was ook ’n besondere wedstryd, #OneDay4Children genoem, wat deur die IKR tussen die twee beste spanne op die EDI-ranglys in 2019 gereël is.[186] Dit was ook die enigste keer tot dusver wat Indië in die alternatiewe trui gespeel het.
Aangesien internasionale spanne begin het om verskillende truie vir T20I- en EDI-wedstryde te gebruik, het Nike in 2016 die eerste T20I-trui met ’n soortgelyke skakering en ’n kontemporêre ontwerp vir die Indiese span onthul.[187] Afwisselende dun strepe van oranje en groen is onderskeidelik op die boonste regterkant en onderste linkerkant van die trui gebruik. In 2017 is ’n nuwe EDI-trui met ’n soortgelyke skakering van blou vir die liggaam en ’n donker skakering van blou vir die moue deur Nike bekend gemaak.[188] Die driekleurige aksent het op die trui as ’n enkele dun strook aan weerskante van die bors teruggekeer. Soos die blou truie gebruik die pette ’n soortgelyke ontwerp as die truie. Die breërandsonhoede is gewoonlik wit terwyl die helms donkerblou is.
Soos by die eersterangse trui is die BCCI se kenteken op die linkerbors terwyl die embleem van die verskaffer (Adidas) op die regterbors is. Die amptelike borg se kenteken (tans Dream11) is op die sentrale gedeelte van die trui, gewoonlik bo die opskrif INDIA, en ook op die mou van die speler se voorarm. Op die T20I-truie is die borg se kenteken, bykomend tot bogenoemde, ook op die rug, bo die speler se nommer. Tydens IKR-toernooie is die toernooi se kenteken op die regterbors en die borg se kenteken word net op die mou van die speler se voorarm toegelaat. Die kenteken van die truivervaardiger word in hierdie geval op die mou van die speler se ander arm getoon. Die speler se naam en nommer is op die rug gedruk.
Indiese krieketstadions wat reeds toetswedstryde gehuisves het
Net soos ander vername krieketlande soos Australië, Bangladesj, Engeland, Ierland, Nieu-Seeland, Pakistan, Sri Lanka, Suid-Afrika, Wes-Indië en Zimbabwe beskik Indië oor geen amptelike tuisstadion vir sy nasionale span nie. Die Indiese nasionale krieketspan gebruik eerder ’n verskeidenheid stadions dwarsdeur Indië vir hul krieketwedstryde.
Daar is talle wêreldbekende krieketstadions in Indië. Die meeste velde val onder die bestuur van verskillende deelstate se krieketrade, en is nie onder die beheer van die BCCI nie. Bombay Gymkhana was die eerste krieketveld in Indië wat ’n volskaalse krieketwedstryd van ’n Indiese span aangebied het. Dié wedstryd was in 1877 tussen die Parsi’s en die Europeërs. In 1933 het dieselfde stadion die eerste toetwedstryd in Indië aangebied, die enigste toets wat dié stadion aangebied het. Die tweede en derde toets tydens die 1933-reeks is op Eden Gardens en Chepauk aangebied. Die Feroz Shah Kotla-veld in Delhi het die eerste stadion geword wat ’n toetswedstryd ná Indië se onafhanklikwording aangebied het, ’n onbeslisuitslag teen Wes-Indië in 1948, die eerste van ’n vyf-toetsreeks. 21 stadions in Indië het ten minste een amptelike toetswedstryd aangebied. In onlangse jare het die aantal van wêreldklaskrieketstadions in Indië toegeneem, met veelvuldige toetsstadions in Ahmedabad, Chandigarh, Chennai, Dharamshala, Hyderabad, Indore, Mohali, Mumbai, Nagpur, Pune, Rajkot en Ranchi.
Sedert 2020 beskik Indië oor die grootste krieketstadion volgens kapasiteit, nadat die Narendra Modi-stadion in Ahmedabad ingewy is en meer as 132 000 toeskouers kan huisves.[189] Eden Gardens in Kolkata het die meeste toetse aangebied, en beskik ook oor die derde grootste kapasiteit van enige krieketstadion ter wêreld, aangesien dié stadion sitplek vir ’n skare van meer as 80 000 bied. Dit is in 1864 gebou en is een van die mees geskiedkundige stadions in Indië, en het al baie geskiedkundige en omstrede wedstryde gehuisves.[190] Ander vername stadions in Indië sluit in die Feroz Shah Kotla Ground, wat in 1883 gebou is en noemenswaardige wedstryde soos Anil Kumble se oes van tien paaltjies in ’n beurt teen Pakistan gesien het. Gedurende die onlangse jare het die stadion ’n opknapping ondergaan.[191]
Die Wankhedestadion, wat in 1974 opgerig is, beskik oor ’n kapasiteit van 33 000 en is tans die gewildste stadion in Mumbai. Dit het al 24 toetswedstryde aangebied. Dit is die nieamptelike opvolger van die Brabourne-stadion, wat ook in Mumbai geleë is. Mumbai word weens sy ondersteuners en talente dikwels as Indië se kriekethoofstad beskou, en derhalwe huisves die stadion gereeld belangrike toetswedstryde.[192] Die M.A. Chidambaram-stadion in Chepauk word ook as ’n belangrike geskiedkundige Indiese krieketstadion beskou; dit is in die vroeë 1900’s opgerig en het Indië se eerste toetsoorwinning gesien.[193]
Die Indiese nasionale krieketspan het tot dusver 27 tuisstadions tydens toetswedstryde gebruik:
Indië het in 1987 saam met Pakistan die eerste krieketwêreldbekertoernooi buite Engeland aangebied.[194] Indië het 17 wedstryde op 14 verskeie plekke gehuisves, terwyl Pakistan tien wedstryde op sewe plekke aangebied het. Albei gashere het hul wedstryde tydens dié toernooi tuis gespeel. Eden Gardens in Kolkata het na Lord’s in Londen die tweede krieketstadion geword om ’n eindstryd aan te bied; dié stadion het met sowat 70 000 ondersteuners ook ’n nuwe rekordskare gelok.[195]
Die Krieketwêreldbeker 1996 is deur Indië, Pakistan en Sri Lanka saam aangebied. Indië het 17 wedstryde op 17 verskeie plekke gehuisves, terwyl Pakistan 16 wedstryde op ses plekke en Sri Lanka vier wedstryde op drie plekke aangebied het. Al drie gashere het hul wedstryde tydens die groepfase tuis gespeel (behalwe vir die ontmoeting tussen Indië en Sri Lanka wat in Indië aangebied is). Die eindstryd is in Lahore se Gaddafistadion aangebied.
Die Krieketwêreldbeker 2011 is deur Indië, Sri Lanka en Bangladesj saam aangebied. Oorspronklik is ook wedstryde in Pakistan beplan, maar dié land is ná die 2009-aanval op die Sri Lankaanse nasionale krieketspan van sy gasheerregte ontneem. Indië het 29 wedstryde op ag verskeie plekke gehuisves, terwyl Sri Lanka twaalf wedstryde op drie plekke en Bangladesj ag wedstryde op twee plekke aangebied het. Die meeste van die drie gashere se wedstryde is tuis gespeel. Die Wankhedestadion in Mumbai het die tweede Indiese stadion geword om ’n eindstryd aan te bied en Indië het die eerste gasheer geword om ’n krieketwêreldbekertoernooi tuis te wen, nadat hulle Sri Lanka met ses paaltjies verslaan het.
Daarbenewens het Indië al vername internasionale kriekettoernooie soos die Kampioenetrofee 2006 en die T20I-wêreldbeker 2016 aangebied.
Die Krieketwêreldbeker 2023 was die vierde krieketwêreldbekertoernooi wat in Indië aangebied is, maar dié keer het Indië alleen as gasheer opgetree. Indië is ook as gasheer vir die T20I-wêreldbeker 2026 (saam met Sri Lanka), Kampioenetrofee 2029 (alleenlik) en Krieketwêreldbeker 2031 (saam met Bangladesj) aangewys.[196]
Aanhangerskultuur
Oor die jare heen is ’n aantal amptelike aanhangersgroepe gestig, waaronder die Swami Army of Bharat Army,[197] die Indiese eweknie tot die Engelse Barmy Army, wat tydens die Indiese 2003/04-toer na Australië baie aktief was. Hulle is bekend vir ’n aantal gewilde liedjies wat aan die nasionale span gewy is.[198]
Wedywering met Pakistan
Veral ontmoetings met Pakistan geniet as gevolg van die Verdeling van Indië en die daaropvolgende Indies-Pakistanse oorloë ’n groot aandag onder die aanhangers van albei nasionale spanne. Afhangende van die situasie van diplomatieke betrekkinge tussen albei lande is die krieketwedstryde tussen albei nasionale spanne gereeld emosioneel gelaai. Van dié wedstryde sorg dikwels vir ’n bogemiddelde gehoorbelangstelling onder die aanhangers van albei kante en ook onder neutrale waarnemers. Dit geld veral vir die EDI-wedstryde tydens krieketwêreldbekertoernooie wat vir volgepakte stadions en hoogs gelaaide atmosfere sorg, onafhanklik van die wedstryd se plek.[199] Televisie-uitsendings van die ontmoetings tussen albei spanne tydens krieketwêreldbekertoernooie lok sowat ’n miljard mense en is van die mees gesiene televisiegeleenhede wêreldwyd.[200][201] Tydens hierdie internasionale wedstryde vergader dikwels die presidente en eerste ministers van albei lande, wat teen die agtergrond van die gemeensame belangstelling in die sport poog om albei lande nader aan mekaar te bring, waarvoor die term „krieketdiplomatie“ gevestig het. ’n Bekende voorbeeld is die vergadering van die twee eerste ministers Yousaf Raza Gilani (Pakistan) en Manmohan Singh (Indië) tydens die Krieketwêreldbeker 2011 se halfeindstryd in Mohali, Indië.[202] Ná dié wedstryd het die twee regeringshoofde verskeie omstrede punte bespreek, insluitend die gesamentlike ondersoek van die 2008-aanvalle in Mumbai.[203]
Internasionale toere
Soos gebruiklik sedert die begin van internasionale krieket, onderneem die Indiese nasionale krieketspan deels maandelange oorsese toere, waartydens hulle teen ander nasionale spanne, plaasliksaamgestelde spanne en klubspanne speel. Eweneens huisves hulle ander nasionale spanne wat na Indië toer. Gedurende die plaaslike somer tree hulle as gasheer op of onderneem op hul beurt toere deur die ander krieketlande van die Noordelike Halfrond en gedurende die plaaslike winter onderneem hulle toere deur krieketlande van die Suidelike Halfrond. As deel hiervan ding Indië mee in toetskrieket sedert 1951/52 teen Engeland in Indië om die Anthony de Mello-trofee, sedert 1996/96 teen Australië om die Border-Gavaskar-trofee, sedert 2007 teen Engeland in Engeland om die Pataudi-trofee, sedert 2015/16 teen Suid-Afrika om die Freedom-trofee en sedert 2017 teen Bangladesj om die Ganguly-Durjoy-trofee.
Spelers
Bekende spelers
Agt voormalige Indiese spelers is vir hul uitstekende prestasies in die Internasionale Krieketraad se Heldesaal opgeneem:[204]
Altesaam het vir Indië 314 spelers toets-, 255 spelers EDI- en 110 spelers T20I-wedstryde gespeel. Vervolgens die spelers wat vir die Indiese span die meeste lopies aangeteken en die meeste paaltjies geneem het.
Rekords volledig tot en met EDI #4745 op 18 Maart 2024. Laaste keer hersien op 30 Junie 2024. Wenpersentasies sluit onbesliste wedstryde uit en tel gelykop as ’n halwe oorwinning.[216]
Rekords volledig tot en met T20I #2730 op 30 Junie 2024. Gelykop verwys na wedstryde wat deur ’n valbyl (soos ’n Superboulbeurt) beslis is. Wenpersentasies sluit onbesliste wedstryde uit en gelykop as ’n halwe oorwinning (ongeag die valbyl).[217]
↑(en) "India challenge ICC". Television New Zealand. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Februarie 2007. Besoek op 8 Februarie 2007.
↑(en) Martin Williamson (11 Januarie 2006). "The Under-19 World Cup". ESPNcricinfo. Besoek op 30 Junie 2024.
↑(en) Steve Craig (2002). Sports and Games of the Ancients: Sports and Games Through History. pp. 63–65. ISBN978-0-313-31600-5.
↑(en) Boria Majumdar, J. A. Mangan, red. (2005). Sport in South Asian Society: Past and Present (Sport in the Global Society). Routledge. p. 225. ISBN978-0-415-56827-2.
↑(en) Boria Majumdar (2008). Cricket in Colonial India 1780–1947. Taylor & Francis Ltd. p. 54. ISBN978-0-415-40014-5.
↑(en) Chakraborty, S. (2009). The Politics of Sport in South Asia. Routledge. p. 156. ISBN978-0-415-37168-1.
↑(en) Mihir Bose (2002). A History of Indian Cricket. Welbeck Publishing Group. pp. 21, 216. ISBN978-0-233-05040-9.
(en) Boria Majumdar (2018). Eleven Gods and a Billion Indians: The On and Off the Field Story of Cricket in India and Beyond. Noida: Simon & Schuster India. ISBN9789386797186.
(en) Boria Majumdar (2008). Cricket in Colonial India 1780–1947. Taylor & Francis Ltd. p. 54. ISBN978-0-415-40014-5.
(en) Mihir Bose (2002). A History of Indian Cricket. Welbeck Publishing Group. pp. 21, 216. ISBN978-0-233-05040-9.
1 Vir beide Engeland en Wallis is Engeland die nasionale span.
2 Vir beide die Republiek Ierland en Noord-Ierland is Ierland die nasionale span.
3 Vir Anguilla, Antigua en Barbuda, Barbados, Dominica, Grenada, Guyana, Jamaika, Montserrat, Sint Kitts en Nevis, Sint Lucia, Sint Maarten, Sint Vincent en die Grenadines, Trinidad en Tobago, die Amerikaanse Maagde-eilande en die Britse Maagde-eilande is Wes-Indië die nasionale span.