Engels (de facto, tot 1066) Frans (de jure, 1066 – 15de eeu) Engels (de facto, het Frans geleidelik van die laat 13de eeu af vervang) Wallies (de facto) Kornies (de facto)
Die Koninkryk van Engeland (Engels: Kingdom of England; Oud-Engels: Engla rice, letterlik "Koninkryk van die Engelse") was 'n staat in die suidelike deel van Groot-Brittanje in Wes-Europa wat bestaan het uit die moderne lidlande van die Verenigde Koninkryk, Engeland en Wallis en die moderne regsentiteit Engeland en Wallis.
Die huidige monarg van die Verenigde Koninkryk, koningin Elizabeth II, is die moderne opvolger van die monarge van Engeland. Die titel koningin (en koning) van Engeland is sedert 1707 streng gesproke nie korrek nie, maar word steeds algemeen gebruik.
Geskiedenis
Vereniging van sewe Middeleeuse koninkryke
Die Koninkryk van Engeland het nie 'n spesifieke stigtingsdatum nie. Die oorsprong daarvan kan teruggespoor word na die Heptargie, die heerskappy deur sewe klein koninkryke wat later Engeland sou word: Oos-Anglië, Essex, Kent, Mercië, Northumbrië, Sussex en Wessex.
Die konings van Wessex het tydens die 9de eeu al hoe meer dominant oor die ander koninkryke geword. Alfred die Grote (heerser van 871–899) was die eerste koning van Wessex wat vir homself die titel "koning van Engeland" toegeëien het. Sy seun Eduard die Ouere (heerser van 899–924) het die militêre prestasies van sy vader oortref deur sy heerskappy oor die Danelaw te vestig. Die dood van sy suster Ethelfleda in 918 het daartoe gelei dat hy die heerskappy van Mercië by sy kleinniggie Aelfwynn in 919 kon oorneem. In 927 het die laaste van die vroeë Middeleeuse Engelse koninkryke, Northumbrië, ook gegaan na die koning van Wessex – Athelstan, 'n seun van Eduard die Ouere. Athelstan was die eerste koning wat oor 'n verenigde Engeland geheers het. Hy was nie die eerste de jure-koning van Engeland nie, maar sekerlik die eerste de facto-koning.
Viking-invalle en Deense heerskappy
Politieke eenheid het sedertdien in Engeland geheers. Die koninkryk is egter gedurende die laat 10de eeu geteister deur invalle van die Vikings uit Denemarke. In reaksie hierop het Ethelred II in 1002 beveel dat alle Dene in Engeland doodgemaak moet word. Dit het gelei tot vyandigheid deur Sven Vurkbaard van Denemarke en Noorweë. Sven het vier volskaalse invalle in Engeland onderneem. Hy is in 1013 tot koning van Engeland verklaar ten koste van Ethelred. Hy het op 2 Februarie1014 gesterf, waarna sy seun Knoet die Grote die oorlog voortgesit het. Ethelred het op 23 April1016 gesterf en sy seun Edmund Ironside van Engeland is spoedig deur Knoet verslaan. Knoet het ooreengekom om saam met Edmund te heers, maar laasgenoemde het op 30 November1016 gesterf, wat Engeland onder Deense heerskappy verenig het. Dit het voortgeduur tot met die dood van Hartaknoet op 8 Junie1042. Hy was die seun van Knoet en Emma van Normandië, weduwee van Ethelred. Hartaknoet het geen opvolgers van sy eie gehad nie en is opgevolg deur sy half-broer Eduard die Belyer. Die koninkryk van Engeland was weer onafhanklik.
Normandiese Verowering
Vrede het egter slegs gehou tot met die dood van die kinderlose Eduard op 4 of 5 Januarie1066. Sy swaer is gekroon as Harold II van Engeland. Sy neef Willem die Veroweraar, die Hertog van Normandië, het onmiddellik die kroon vir homself opgeëis. Willem het Engeland binnegaval en op 28 September1066 in Sussex geland. Harold en sy leër was in York ná hulle oorwinning in die Slag van Stamford Bridge op (25 September1066. Hulle moes oor Engeland marsjeer om hulle nuwe opponente te ontmoet. Harold en Willem se leërs het uiteindelik op 4 Oktober1066 in die Slag van Hastings slaags geraak. Harold is verslaan en Willem het as oorwinnaar uit die stryd getree. Hy kon Engeland toe sonder noemenswaardige verdere teenstand oorwin. Hy was egter nie van plan om die koninkryk in die Hertogdom van Normandië te absorbeer nie. As 'n hertog was Willem steeds trou aan Filips I van Frankryk verskuldig. Die onafhanklike Koninkryk van Engeland sou hom toelaat om sonder inmenging te heers. Hy is op 25 Desember1066 tot koning van Engeland gekroon.
Die Koninkryk van Engeland en die Hertogdom van Normandië sou in 'n persoonlike unie bly tot 1204. Koning Jan Sonder Land, 'n vierdegenerasie-afstammeling van Willem I, het die vastelanddeel van die hertogdom in dié jaar aan Filips II van Frankryk verloor. Die enigste oorblyfsels van die hertogdom wat onder die beheer van Jan en sy nasate gebly het, was die Kanaaleilande. Jan het wel steeds die titel en grondgebied van die Hertog van Aquitanië, in die suidweste van die hedendaagse Frankryk, behou.
Honderdjarige Oorlog en Oorlog van die Rose
Eduard II van Engeland was die vader van Eduard III, wie se aanspraak op die troon van Frankryk gelei het tot die Honderdjarige Oorlog (1337–1453). Die einde van die oorlog het Engeland verslaan gelaat met slegs 'n enekele stad van Frankryk: Calais.
Die koninkryk het skaars tyd gehad om te herstel toe die Oorlog van die Rose (Engels: Wars of the Roses; 1455–1487) uitgebreek het. Die oorlog was in werklikheid 'n burgeroorlog tussen die Huis van Lancaster en die Huis van York oor besit van die kroon. Albei huise was afstammelinge van Eduard III en naby verwant. Ná die einde van die oorlog is die troon gehou deur 'n afstammeling aan die vroulike kant van die Huis van Lancaster wat getroud was met die oudste dogter van die Huis van York. Hendrik VII van Engeland en sy vrou, Elizabeth van York, was die stigters van die Huis van Tudor, wat van 1485 tot 1603 oor die koninkryk regeer het.
Wallis het die afsonderlike regs- en administratiewe stelsel behou wat deur Eduard I in die laat 13de eeu gevestig is. Die tweede Tudor-heerser, Henrik VIII, het Wallis in Engeland opgeneem onder die Laws in Wales Acts 1535–1542. Wallis het opgehou bestaan as persoonlike leengrond van die koning van Engeland en is tot deel van Engeland geannekseer en is in die Engelse Parlement verteenwoordig.
Persoonlike unies met Ierland en Skotland
In 1541 het die Ierse parlement Hendrik VIII tot koning van Ierland verklaar, waarmee die Koninkryk van Ierland in 'n persoonlike unie met die Koninkryk van Engeland verenig is.
Tussen 1639 en 1651 het 'n aantal konflikte in die koninkryke van Engeland, Skotland en Ierland plaasgevind. In die Eerste ((1642–1645) en Tweede (1648–1649) Engelse Burgeroorlog het die koningsgesinde aanhangers van Karel I van Engeland (die Cavaliers) en die aanhangers van die Long Parliament (die Roundheads) teen mekaar geveg. 'n Derde oorlog (1649–1651) tussen die aanhangers van Karel II en die verdedigers van die rompparlement het met 'n oorwinning vir die parlement in September 1651 geëindig.
Die oorloë het gelei tot die teregstelling van Karel I, die verbanning van sy seun Karel II en die vervanging van die monargie deur die Engelse Statebond (1649–1653) en vervolgens die Protektoraat (1653–1659) onder die heerskappy van Oliver Cromwell. Die monopolie van die Kerk van Engeland op die Christelike erediens is tot 'n einde gebring en 'n nuwe protestantse aristokrasie het in Ierland ontstaan. 'n Belangrike presedent is geskep, naamlik dat die koning voortaan nie kon regeer sonder die toestemming van parlement en die volk nie.
Die burgeroorloë het nie soseer uitgebreek uit weerstand van die Engelse teen die beleid van Karel I, wat elf jaar lank sonder ’n parlement geregeer het nie, maar omdat sy Skotse onderdane suksesvol weerstand gebied het teen die politieke en kerklike hervorminge wat Londen wou oplê.
Koninkryk van Groot-Brittanje
In 1707 het die Acts of Union die Koninkryk van Engeland en van Skotland verenig in die Koninkryk van Groot-Brittanje (1707–1801). Koningin Anna was die laaste koningin van Engeland en die eerste heerser van die nuwe koninkryk. Die Engelse en die Skotse parlement het saamgesmelt in die nuwe Parlement van Groot-Brittanje gesetel in Westminster, Londen. Met dié gebeurtenis het Engeland ophou bestaan as 'n aparte politieke entiteit en het dit sedertdien geen nasionale regering nie. Regsgewys is jurisdiksie steeds as Engeland en Wallis gehandhaaf.
Verwysings
Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Engelse Wikipedia-artikel en:Kingdom of England