Naruhito (in Afrikaans ook gespel as Naroehito; Japannees: 徳仁, Naruhito; gebore op 23 Februarie1960 in Tokio, Japan) is die huidige keiser (天皇,tennō?) van Japan, en die 126ste keiser volgens Japan se tradisionele opvolgingsorde.[1] Soos in Japan gebruiklik is, word hy tydens sy bewind nie op sy geboortenaam Naruhito genoem nie, maar "keiserlike majesteit" (天皇陛下, tennō heika) of "Sy huidige majesteit" (今上陛下, kinjō heika).[2] Sy posthume naam sal Keiser Reiwa (令和天皇, Reiwa Tennō) wees, sy regeringstyd sal ná sy afsterwe as die Reiwa-tydperk (令和時代, Reiwa jidai) bekend staan.[3] Hy het die Krisanttroon in 2019 bestyg en is die enigste heersende monarg wat die titel keiser dra.[4]
Naruhito is die oudste seun van Keiser Akihito en Keiserin Michiko, wat hom die erfgenaam van die Krisanttroon gemaak het. Naruhito is op 23 Februarie 1991, sy 31ste verjaarsdag, amptelik as Kroonprins van Japan aangewys. Sy titel in sy kinderjare was Prins Hiro (浩宮, Hiro-no-miya).
Akihito het op 8 Augustus 2016 sy abdikasie vir 30 April 2019 aangekondig. Vervolgens is Naruhito, Akihito se oudste seun, op 1 Mei 2019 ingehuldig. Naruhito se bewind staan bekend as Reiwa (令和, "mooi harmonie"). Naruhito is Japan se eerste keiser wat na die Tweede Wêreldoorlog gebore is.[5][6] Die kroningseremonie volgens Sjintoïsme (即位の礼, Sokui no Rei) het op 22 Oktober 2019 plaasgevind.[7]
Verwysings
↑(en) Nussbaum, Louis-Frédéric (2002). Traditional order of Tennō. pp. 962–963. {{cite book}}: |work= ignored (hulp)