Pous Anastasius IV[1] is gebore as Corrado di Suburra (ook Corrado della Suburra of Konraad van Suburra) in Rome, Italië, die seun van Benedictus. Hy was waarskynlik 'n nefie van Pous Honorius II. Voor sy verkiesing was Anastasius kardinaal-biskop van Sabina en 'n fel teenstander van Teenpous Anacletus II. Op 8 Julie1153 volg hy Pous Eugenius III op en regeer tot sy dood op 3 Desember1154. Hy word opgevolg deur Pous Adrianus IV.
Die naam ‘Anastasius’ beteken 'heropgestane'.
Pontifikaat
Pous Anastasius IV[2] was reeds 'n ou man toe hy tot pous verkies is. Hy is waarskynlik verkies omdat hy uit Rome gekom het en die plaaslike politiek verstaan het. Hy het die Panteon laat restoureer en het spesiale voorregte aan die Malteser Orde gegee. Opgrawings onder die Lateraanse paleis tydens sy bewind het die stoflike oorskot van die heiliges Cyprianus en Justina gevind. Hy is ook bekend as vredemaker. Die republikeinse faksie het hom goed aanvaar. Hy het 'n ooreenkoms bereik met keiser Frederik I Barbarossa oor die aanstelling van die biskop van Maagdeburg. Hy het ook 'n lang uitstaande stryd met Engeland besleg oor die aanstelling van William Fitzherbert (ook St. William van York genoem) as biskop van York. Die pous het William se aanstelling bevestig in weerwil van sterk teenstand van die Cisterciënser Orde.
Bibliografie
Duff, Eamon (2001). Saints and Sinners: A History of the Popes, Yale University Press. ISBN 0300091656.
Maxwell-Stuart, P. G. (2002). Chronicle of the Popes: The Reign-by-Reign Record of the Papacy from St. Peter to the Present, Thames & Hudson. ISBN 0500017980.