Pous Gregorius V is gebore as Bruno van Karintië in Stainach, Steiermark ongeveer in 972. Hy was die tweede seun van Otto I van Wormsgau ( vanaf 978 hertog van Karintië) en sy vrou Judith, dogter van graaf Heinrich en die kleinseun van keiser Otto I van die Heilige Romeinse Ryk. Hy is eers deur aartsbiskop Wiligis in Mainz en later deur Johannes Philagatos opgevoed. Bruno het as huispriester vir sy neef keiser Otto III gewerk en die keiser het hom voorgestel as die nuwe pous. Op 3 Mei996 volg hy Pous Johannes XV op en regeer tot sy dood op 18 Februarie999. Hy word opgevolg deur Pous Silvester II. Hy was die eerste Duitse pous. Soms word Pous Bonifatius II as die eerste Duitse pous getel, maar hy was eintlik 'n Oos-Goot.
Die naam ‘Gregorius’ beteken 'wagter'.
Pontifikaat
Pous Gregorius V was lojaal aan die keiser. Op 21 Mei996 kroon hy sy neef Otto III tot keiser van die Heilige Romeinse Ryk. 'n Paar dae na die kroning hou hulle saam 'n sinode waarop Arnulf weer as aartsbiskop van Reims aangestel word en Gerbert die toekomstige Pous Silvester II afgeset word. Op dieselfde sinode word Robert II van Frankryk gedwing om die reg om biskoppe in Frankryk aan te stel, op te gee.
Tot by die sinode van Pavia 997 het Gregorius 'n teenstander gehad in Teenpous Johannes XVI die kandidaat van Crescentius II en die adel van Rome. Die keiser Otto III het 'n einde gemaak aan die probleem deur Rome te verower in April 997. Die troepe het Johannes gevang, sy neus en ore afgesny, sy tong uitgesny en hom blind gemaak. Hy is verban na die klooster in Fulda waar hy op 2 April1013 sterf. Crescentius is aan die mure van die Engeleburg opgehang op 29 April998.[1]
Die pous sterf op 18 Februarie999 in Rome, waarskynlik aan malaria.
Bibliografie
Duff, Eamon (2001). Saints and Sinners: A History of the Popes, Yale University Press. ISBN 0-300-09165-6
Maxwell-Stuart, P. G. (2002). Chronicle of the Popes: The Reign-by-Reign Record of the Papacy from St. Peter to the Present, Thames & Hudson. ISBN 0-500-01798-0.