Charles Robert Redford Jr. (geb. 18 Augustus1936)[1][2] is ’n Amerikaanse akteur en regisseur en die stigter van die Sundance-rolprentfees. Hy het twee Oscars ontvang: in 1981 vir beste regisseur vir Ordinary People en in 2002 een vir sy lewenslange bydrae tot die rolprentbedryf. In 2010 is Franse ridderskap aan hom toegeken in die Legion d'Honneur..
Vroeë lewe
Redford is in Santa Monica, Kalifornië, gebore. Sy pa was Charles Robert Redford Sr., ’n melkman wat ’n rekenmeester geword het, en sy ma Martha Hart, van Texas.[3][4] Hy het ’n stiefbroer, William, uit sy pa se tweede huwelik.
Sy gesin het na Van Nuys, Los Angeles, verhuis terwyl sy pa in El Segundo gewerk het.[5] Hy het skoolgegaan aan die Hoërskool Van Nuys en daarna het hy ’n jaar en ’n half aan die Universiteit van Colorado studeer.[5] Nadat die universiteit hom gevra het om te gaan, het hy na Europa gereis waar hy in Frankryk, Spanje en Italië gebly het.[5] Hy het later skildering studeer aan die Pratt-instituut in Brooklyn en klas geloop aan die American Academy of Dramatic Arts in New York.[5]
Loopbaan
Televisie
Redford se loopbaan het soos dié van baie ander sterre van die 1950's in New York begin waar ’n akteur werk op die verhoog en televisie kon kry. Vanaf 1959 het hy as gasster opgetree op verskeie programme, onder meer The Untouchables, The Americans, Whispering Smith, Perry Mason, Alfred Hitchcock Presents, Route 66, Dr. Kildare en The Twilight Zone.
Hy het ’n Emmy-benoeming gekry vir beste manlike byspeler vir sy rol in The Voice of Charlie Pont (1962). Een van sy laaste TV-optredes was op 7 Oktober 1963 in Breaking Point, ’n mediese drama oor psigiatrie.
Teater
Redford se Broadway-debuut was ’n klein rol in Tall Story (1959), en dit is gevolg deur rolle in The Highest Tree (1959) en Sunday in New York (1961). Sy grootste Broadway-sukses was as die neusoptrekkerige pasgetroude man van Elizabeth Ashley in Neil Simon se Barefoot in the Park (1963).
Rolprente
Terwyl hy nog onbekend was, het Redford sy rolprentdebuut in War Hunt (1962) gemaak, ’n prent oor die laaste dae van die Koreaanse Oorlog. Dit was ook die debuut van die regisseur Sydney Pollack, saam met wie Redford daarna nog dikwels gewerk het, en die akteur Tom Skerritt. Ná sy sukses op Broadway het Redford groter fliekrolle gekry. Hy het saam met die legende Alec Guinness gespeel in die oorlogskomedie Situation Hopeless … But Not Serious. In Inside Daisy Clover (1965), waarvoor hy ’n Golden Globe as beste nuwe ster gewen het, speel hy ’n biseksuele filmster wat met die jong ster Natalie Wood trou.
Daarna het hy weer saam met haar en ook Charles Bronson gespeel in Pollack se This Property Is Condemned (1966). Dit was ’n nog groter sukses. In dieselfde jaar het hy saam met Jane Fonda en Marlon Brando gewerk aan The Chase. Fonda en Redford het weer saam gespeel in die gewilde rolprentweergawe van Barefoot in the Park (1967)[5] en weer in Pollack se The Electric Horseman (1979).
Redford het rolle in Who's Afraid of Virginia Woolf? en The Graduate van die hand gewys en ’n rol aanvaar in Butch Cassidy and the Sundance Kid (1969), waarin hy die eerste keer saam met Paul Newman gespeel het.[5] Die rolprent was ’n groot sukses en het sy beeld gevestig as ’n intelligente, betroubare en soms siniese goeie ou.
Hy het daarna ’n paar prente beleef wat nie groot sukses behaal het nie, onder meer Downhill Racer (1969), Tell Them Willie Boy Is Here (1969), Little Fauss and Big Halsy (1970) en The Hot Rock (1972). Sy loopbaan het weer ’n hupstoot gekry met die treffer Jeremiah Johnson (1972),[5] die politieke satire The Candidate (1972), die uiters gewilde periodedrama The Way We Were (1973) en die grootste treffer van sy loopbaan, The Sting (1973), wat een van die 20 flieks is wat die meeste geld ooit gemaak het as inflasie in ag geneem word. Hy is ook benoem vir ’n Oscar vir beste akteur.[5]
Tussen 1974 en 1976 is Redford gekies as die topnaam in Hollywood.[5] Sy treffers sluit in The Great Gatsby (1974), The Great Waldo Pepper (1975) en Three Days of the Condor (1975). Die gewilde All the President's Men (1976) van regisseur Alan J. Pakula was ’n landmerk vir hom. Nie net was hy die uitvoerende vervaardiger en medespeler nie, maar die prent se ernstige tema (die Watergate-skandaal) en die poging om ’n realistiese uitbeelding van joernalisme te skep, het ook die akteur se belangstelling in politieke kwessies weerspieël.[5]
Hierna het Reford gekonsentreer op regisseerwerk. Sy eerste prent as regisseur, Ordinary People, was een van die hoogs aangeskrewe prente van die dekade en het ’n paar Oscars gewen, insluitende vir beste regisseur vir Redford self. Sydney Pollack se Out of Africa (1985), met Redford en Meryl Streep, was ook ’n groot sukses en het sewe Oscars gewen, onder meer vir beste prent. Dit was Redford se grootste sukses van die dekade en die grootste van die ses prente waarin hy saam met Pollack gewerk het.[5] Sy volgende prent, Legal Eagles (1986), was nie so ’n groot sukses nie.
Redford het ’n groot ster gebly deur die 1990's en 2000's. Hy het sy derde prent as regisseur, A River Runs Through It, in 1992 uitgereik. Dit was weer ’n sukses en het ook ’n jong Brad Pitt se loopbaan ’n hupstoot gegee. In 1993 het hy weer ’n gewilde rol gespeel as die miljoenêrsakeman wat mense se morele waardes met omkopery toets in Indecent Proposal; dit was een van die jaar se groot treffers. Hy het saam met Michelle Pfeiffer gespeel in Up Close & Personal (1996) en saam met Kristin Scott Thomas in The Horse Whisperer (1998), waarvan hy ook die regisseur was.[5] Hy het ook tussendeur gewerk aan rolprente met ’n politieke tema, soos Havana (1990) en Sneakers (1992), waarin hy onder andere saam met River Phoenix gespeel het.
Hy het in 2001 in The Last Castle en Spy Game gespeel (in laasgenoemde weer saam met Brad Pitt). In 2004 het The Clearing gevolg saam met Helen Mirren.
In dieselfde jaar was hy ook die regisseur van The Motorcycle Diaries oor ’n jong mediese student, Ernesto "Che" Guevera, en sy vriend Alberto Granado. Dit het ook politieke en sosiale kwessies aangeraak wat Guevara beïnvloed en sy toekoms help bepaal het.
In 2005 was hy weer voor die kameras in An Unfinished Life saam met Jennifer Lopez, maar die prent het lank op die rak bly lê omdat dit as ’n cliché en oorsensimenteel beskou is. Intussen het hy weer saam met Meryl Streep gewerk, 22 jaar ná Out of Africa, aan sy persoonlike projek Lions for Lambs (2007), waarin ook Tom Cruise verskyn. Ná ’n groot ophef het dit gemengde resensies gekry en teleurgestel by die loket.
In 2012 het Redford gespeel in The Company You Keep, waarvan hy ook die regisseur was, en in 2013 in All Is Lost. In April 2013 het Redford aangekondig hy sal volgende keer in ’n onkonvensionele rol te sien wees in Marvel Studios se superheldprent Captain America: The Winter Soldier. Hy sal die rol speel van die hoof van S.H.I.E.L.D.[6]
Sundance
Redford het ’n hele ski-area aan die oostekant van Berg Timpanogos noordoos van Provo, Utah, gekoop en dit hernoem tot Sundance.[5] Sy vrou, Lola, is van Utah en hulle het in 1963 ’n huis in die gebied gebou. Dele van die prent Jeremiah Johnson (1972), een van Redford se gunstelinge, is daar naby verfilm. Redford het die Sundance-rolprentfees gestig wat fokus op onafhanklike rolprentvervaardigers. In 2008 het Sundance 125 rolprente uit 34 lande gewys, met meer as 50 000 mense wat dit bygewoon het.[7] Die naam Sundance kom van sy Sundance Kid-karakter.
Oscar vir beste regisseur, Directors Guild of America-prys vir regie – rolprent, Golden Globe vir beste regisseur
1988
The Milagro Beanfield War
Political Film Society-benoeming
1992
A River Runs Through It
Golden Globe-benoeming vir beste regisseur
1994
Quiz Show
Oscar-benoeming vir beste prent en regisseur, BAFTA-benoeming vir beste prent, Directors Guild of America-benoeming vir regie – rolprent, Golden Globe-benoeming vir beste regisseur
1998
The Horse Whisperer
Golden Globe-benoeming vir beste regisseur
2000
The Legend of Bagger Vance
2007
Lions for Lambs
2010
The Conspirator
2012
The Company You Keep
Verwysings
↑"Charles Robert Redford". California Birth Index, 1905–1995. Ancestry.com. Besoek op 16 Junie 2011.
↑"Monitor". Entertainment Weekly. No. 1220/1221. 17 Augustus 2012. p. 28.