Die Seychelle is waarskynlik gevorm deur 'n landmassa wat onder die see verdwyn het en waarvan net die hoogste punte bo seevlak uitsteek.
Die sentrale bergagtige granietmassa van vulkaniese oorsprong vorm die hoër liggende Mahé-groep (ongeveer 30 eilande), met Morne Seychellois (912 m) op die eiland Mahé die hoogste bergspits. Die ander eilande, wat koraalagtige formasies gevorm het, lê net enkele meters bo seevlak.
Mahé is die grootste eiland met ’n oppervlakte van 142 km² en huisves ongeveer 90% van die totale bevolking van sowat 65 000. Die meeste woon in die hoofstad Victoria. Die eiland het 'n goeie natuurlike hawe asook 'n internasionale lughawe, wat in 1971 geopen is.
Pralin (39 km²) is die tweede belangrikste eiland en is, benewens twee kleiner eilande, die enigste plek waar die reuseseeklapperneut, die coco-de-mer (Lodoicea seychellarum), voorkom. Die palmboom dra die wêreld se grootste neut, wat tot 18 kg kan weeg.
Ander belangrike eilande in die Mahé-groep is Silhouette (20 km²) en La Digue (10 km²). Hoewel weelderige plantegroei op al die eilande voorkom, wek die hoër liggende Mahé-groep die indruk van hangende tuine. Die Seychelle het 'n tropies-oseaniese klimaat met 'n gemiddelde temperatuur van 24 tot 30°C by seevlak; die jaarlikse reënval op Mahé is 2 300 mm by seevlak.
Die Seychelle is bekend om sy eksotiese voëls, byvoorbeeld op die eiland Aldabra. Cousin-eiland behoort selfs aan die International Council for Bird Preservation. Vanweë uitgebreide integrasie tussen die Europese koloniste, Swart slawe en Asiatiese groepe is die inheemse bevolking teenswoordig uiters vermeng.
Na die Seychelle se onafhanklikheid in 1976 het dit van 'n grootliks op landbou gebaseerde gemeenskap tot 'n markgebaseerde en gediversifiseerde ekonomie ontwikkel, met landbou wat deur vinnig stygende diens- en openbare sektore sowel as toerisme vervang word.
Sedert 1976 het die nominale Bruto binnelandse produk-uitset bykans sewevoudig toegeneem en die koopkragpariteit byna sestienvoudig. In onlangse jare het die regering buitelandse beleggings aangemoedig om hierdie sektore op te gradeer.
Ten spyte van dié land se nuutgevonde ekonomiese voorspoed bly armoede wydverspreid weens 'n hoë vlak van ongelykheid in inkomste, een van die hoogste in die wêreld, en ongelyke verspreiding van rykdom.