Share to: share facebook share twitter share wa share telegram print page

Shirin Ebadi

Shirin Ebadi
شيرين عبادى
Gebore21 Junie 1947
NasionaliteitVlag van Iran Iran
BeroepProkureur en regter
Bekend virVerdedigers van Menseregtesentrum
Handtekening

Shirin Ebadi (Persies: شيرين عبادى Širin Ebādi), die dogter van Mohammed Ali Ebadi, is in 1947 in die stad Hamedan gebore. Haar vader, wat ten tye van haar geboorte die hoof van Hamedan se Registrasiekantoor was, was een van die eerste lektore in handelsreg en het verskeie boeke geskryf. In 1948 het haar gesin na Teheran verhuis, waar sy sedertdien woon.

Sy het in 1968 'n graad in die regte aan die Universiteit van Teheran verwerf. In 1970 het sy die eerste vrou in die geskiedenis van Iran se regspleging geword om as regter te dien. Intussen het sy haar studie voortgesit en in 1971 'n doktoraat in privaatreg met lof verwerf.

Sy het in 1975 die President van Regsbank 24 van die [Teheranse] Stadshof geword. Ná die oorwinning van die Islamitiese Revolusie in Februarie 1979 is sy en ander vroulike regters uit hul ampte ontslaan en het hulle klerklike pligte gekry. Dit was weens die oortuiging dat Islam vroue verbied om as regters te dien. Shirin het 'n klerk geword in die hof wat eens onder haar beheer was. Nadat sy en die ander vroulike regters beswaar aangeteken het, is hulle tot die pos van "deskundiges" in die Justisiedepartement bevorder. Sy was egter nie tevrede hiermee nie, en het gevolglik vroeë aftrede versoek, wat toegestaan is. Ebadi het daarna weer aansoek gedoen om te praktiseer, maar haar aansoek is van die hand gewys aangesien die Balieraad vir 'n geruime tyd ná die revolusie gesluit gebly het en deur die Regsbank bestuur is.

Ebadi was dertien jaar werkloos. In hierdie tyd het sy verskeie boeke geskryf en talle artikels in Iranse tydskrifte gepubliseer gekry wat haar bekend gemaak het. In 1992 het sy daarin geslaag om 'n prokureurslisensie te bekom en het sy haar eie praktyk begin. Sy het talle sake verdedig, onder meer persverwante sake, politieke en 'n groot aantal maatskaplike sake (insluitende kindermishandeling). Sy gee ook in haar opleidingskursusse in menseregte lesings aan 'n aantal studente van buite Iran.

Belangrikste prestasies

Shirin Ebadi is 'n Iranse prokureur, skrywer, lektor en menseregte-aktivis. Sy was by verskeie maatskaplike aktiwiteite betrokke, insluitende verskeie navorsingsprojekte vir die UNICEF-kantoor in Teheran, wat verskillende stadiums van gratis onderrig in kinderregte en menseregte aangebied het en by die Islamitiese Raadplegende Raad (Majlis) aanbeveel het dat die wet wat alle vorme van geweld teenoor kinders verbied, bekragtig word.

Sy het ook in talle menseregtesake opgetree, soos dié van 'n moeder wie se kind (Arin Golshani) wreed tot die dood gemartel in haar stiefma se huis aangetref is nadat die kind van haar ma geskei is volgens die Iranse wet op die toesig oor kinders. Ander sake sluit in dié van verskeie joernaliste of hul families wat in verband met vryheid van spraak beskuldig of gevonnis is of die families van die slagoffers van reeksmoordenaars.

Ebadi is ook medestigter van die Menseregte-verdedigingsentrum en die Vereniging vir die Ondersteuning van Kinderregte. Hoewel sy nie meer president van die Vereniging vir die Ondersteuning van Kinderregte is nie, verleen sy nog steeds hulp as regsadviseur.

Vanweë haar werk het sy talle pryse en vererings ontvang. In 1996 is sy gekies as 'n amptelike waarnemer van Human Rights Watch, en is haar boek, The Right of the Child (Die Reg van die Kind), as Boek van die Jaar gekies deur die Kultuur- en Islamitiese Voorligtingsministerie. Sy was in 2001 ook 'n ontvanger van die Menseregtestigting se Rafto-prys in Noorweë en het ook die 2003-Nobelprys vir Vrede ontvang vir menseregte-aktiwiteite.[1]

Verwysings

  1. "The Nobel Peace Prize 2003" (in Engels). Nobelprize.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Augustus 2018. Besoek op 6 Oktober 2017.

Eksterne skakels

Kembali kehalaman sebelumnya