Die Achaemenidiese Ryk (Oud-Persies: 𐎧𐏁𐏂, Xšassa, letterlik: "Die Ryk"[12]), ook bekend as die Eerste Persiese Ryk,[13] was 'n ryk in Wes-Asië wat deur Kores die Grote gestig is.
Dit was op sy grootste onder Xerxes I, wat die grootste deel van Noord- en Sentraal-Griekeland verower het, insluitende die stad Athene, in 480 v.C. Dit het van die Balkanskiereiland en Oos-Europa in die weste tot die Indusvallei in die ooste gestrek. Dit was groter as enige vorige ryk in die geskiedenis, en het 5,5 miljoen km² beslaan.[7][8]
Die ryk het in die 7de eeu v.C. ontstaan toe die Perse hulle in die suidwestelike deel van die Irannese Plato, in die omgewing van Persis, gevestig het.[14] Van hier af het Kores die Mediese Ryk, waarvan hy vroeër koning was, sowel as Lidië en die Nieu-Babiloniese Ryk verower. Daarna het hy die Achaemenidiese Ryk gestig.
Dit het mense van verskeie afkomste en godsdienste gehuisves en is bekend vir sy suksesvolle model van 'n gesentraliseerde, burokratiese bestuur (deur satrape onder die koning van konings), vir die oprigting van infrastruktuur soos die pad- en posstelsel, die gebruik van 'n amptelike taal in al sy gebiede, en die ontwikkeling van siviele dienste en 'n groot professionele weermag. Die Achaemenidiese Ryk se sukses het die ontwikkeling van soortgelyke stelsels in latere ryke geïnspireer.[15]
Alexander die Grote, 'n ywerige bewonderaar van Kores,[16] het die grootste deel van die ryk teen 330 v.C. verower.[17] Ná Alexander se dood het die grootste deel van die ryk se vroeëre grondgebied onder die gesag van die Ptolemeïese en Seleukidiese Ryk geval, benewens kleiner gebiede wat teen dié tyd hul onafhanklikheid verkry het. Die Irannese elite van die sentrale hoogland het in die 2de eeu v.C. die mag herwin en die Partiese Ryk gestig.[14]
Die Achaemenidiese Ryk is in die Westelike geskiedenis bekend as mededinger van die Griekse stadstate tydens die Grieks-Persiese Oorloë en vir die bevryding van die Joodse gevangenes in Babilon. Die historiese invloedsfeer van die ryk het ver buite sy territoriale en militêre gebiede gestrek en ook kulturele, sosiale, tegnologiese en godsdienstige invloede ingesluit. Benewens die voortdurende konflik tussen die twee state het baie Atheners Achaemenidiese gebruike in 'n wedersydse kulturele uitruiling in hul daaglikse lewe oorgeneem,[18] sommige was in diens van of verbonde aan die Persiese konings.
Die invloed van Kores se edik word in Joods-Christelike tekste genoem en die ryk was deel van die Zoroastrisme se verspreidingsgebied tot in China. Die ryk het ook die toon aangegee vir die politiek, erfenis en geskiedenis van Iran (ook bekend as Persië).[19]
Verwysings
↑(en) Yarshater, Ehsan (1993). The Cambridge History of Iran, Volume 3. Cambridge University Press. p. 482. ISBN978-0-521-20092-9.
↑(en) Josef Wiesehöfer, Ancient Persia, (I.B. Tauris Ltd, 2007), 119.
↑(en) Greek and Iranian, E. Tucker, A History of Ancient Greek: From the Beginnings to Late Antiquity, ed. Anastasios-Phoivos Christidēs, Maria Arapopoulou, Maria Chritē, (Cambridge University Press, 2001), 780.
↑ 8,08,1(en) Taagepera, Rein (1979). "Size and Duration of Empires: Growth-Decline Curves, 600 B.C. to 600 A.D". Social Science History. 3 (3/4): 121. doi:10.2307/1170959. JSTOR1170959.
↑ 9,09,1(en) Morris, Ian; Scheidel, Walter (2009). The Dynamics of Ancient Empires: State Power from Assyria to Byzantium. Oxford University Press. p. 77. ISBN978-0-19-975834-0.
↑ 10,010,1(en) Morris, Ian, 1960-, Scheidel, Walter, 1966- (2009). The dynamics of ancient empires : state power from Assyria to Byzantium. Oxford: Oxford University Press. ISBN978-0-19-970761-4.{{cite book}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
↑(en) Sampson, Gareth C. (2008). The Defeat of Rome: Crassus, Carrhae and the Invasion of the East. Pen & Sword Books Limited. p. 33. ISBN978-1-84415-676-4.
↑(en) Taagepera, Rein (1979). "Size and Duration of Empires: Growth-Decline Curves, 600 B.C. to 600 A.D". Social Science History. 3 (3/4): 123. doi:10.2307/1170959. JSTOR1170959.