Die amptelike tale is Nederlands, Papiaments (die volkstaal) en Engels; 'n ander taal wat gepraat word is Spaans. Die hoofstad en grootste stad is Willemstad. Die eiland beslaan 'n oppervlakte van 444 km² en het 'n bevolking van 148 925 in 2023 gehad.
Die internasionale lughawe op die eiland heet Hato-lughawe.
Etimologie
Volgens 'n verklaring was "Curaçao" die naam waarmee die inheemse mense van dié eiland na hulself verwys het, hul autoniem.[7] Vroeë Spaanse optekeninge ondersteun dié teorie, aangesien in hul optekeninge na die inheemse mense as Indios Curaçaos verwys word.[8]
Vanaf 1525 is die eiland op Spaanse kaarte as Curaçote, Curasaote, Curasaore of Curacaute aangedui.[9] Teen die 17de eeu het dit op die meeste kaarte as Curaçao of Curazao verskyn.[8] Op 'n kaart wat deur Hieronymus Cock in 1562 in Antwerpen geteken is, is die eiland Qúracao genoem.[10]
'n Aanhoudende, maar ongedokumenteerde verhaal vertel dat matrose op lang reise in die 16de en 17de eeu – die vroeë jare van Europese verkenning – dikwels skeurbuik gekry het weens 'n gebrek aan vitamien C. Volgens sommige verslae is Portugese of Spaanse matrose wat siek was, op die eiland wat nou bekend staan as Curaçao, agtergelaat. Wanneer hul skip terugkom het, was sommige herstel, waarskynlik genees van skeurbuik nadat hulle vrugte met vitamien C geëet het. Van toe af het die Portugese vermoedelik daarna verwys as Ilha da Curação ("eiland van genesing")[5] en die Spaanse as Isla de la Curación.[11] Volgens 'n ander verklaring is dit ontleen aan die Portugese woord vir hart (coração) wat verwys na die eiland as 'n sentrum vir handel.
Natuur
Die eiland het 'n taamlik droë klimaat. Die kus was vroeër die tuiste van wortelboommoerasse, maar dit het sterk verminder weens menslike aktiwiteite. Daar word nogtans sedert 2007 geprobeer om hulle weer te herstel.[12]
'n Belangrike onderdeel van die eiland se ekologie is die drie groot suilkaktusse wat op die eiland voorkom:
Datu (Stenocereus griseus)
Kadushi (Subpilocereus repandus)
Kadushi di pushi (Pilosocereus lanuginosus)
Hulle word veral deur endemiese vlermuise bestuif.[13]