Die Gereformeerde kerk Skeurvallei was die tweede gemeente van die GKSA in Kenia.
Die gemeente is op 19 Augustus1950 gestig met sy middelpunt op die dorp Naivasha. Die bestaan van ’n Afrikaanse skool, waarin die NG Kerk ’n groot rol gespeel het, op Thomson's Falls (Nyahururu), het gelei tot die uitbreiding van dié omgewing en het tot die ontstaan van die gemeente Skeurvallei aanleiding gegee. Heelparty lidmate het in die omgewing van Naivasha gewoon.
Die gemeente was in kombinasie met die Gereformeerde kerk Eldoret en het selfs ’n boufonds gestig, maar die meeste van die lidmate het tydens en kort ná Kenia se onafhanklikwording teruggetrek na Suid-Afrika sodat Skeurvallei in 1963 ontbind het en Eldoret in 1966. In 1960 het Skeurvallei 42 belydende en 27 dooplidmate gehad en Eldoret onderskeidelik 123 en 85.
Bronne
(af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
(af) Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1960. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1961. Potchefstroom: Administratiewe Buro.