Die Halaf-beskawing is ’n prehistoriese argeologiese kultuur in Noord-Mesopotamië wat rofweg van 6100 v.C. tot 5100 v.C. geduur het.[1] Dit was hoofsaaklik in die vrugbare vallei van die Khaburrivier van Suidoos-Turkye, Sirië en Noord-Irak geleë, hoewel materiaal wat deur Halaf beïnvloed is, deur die hele Groter Mesopotamië ontdek is.
Hoewel die beskawing genoem is na die terrein by Tell Halaf in Noord-Sirië, wat tussen 1911 en 1927 deur Max von Oppenheim uitgegrawe is, is die vroegste Halaf-materiaal in 1908 deur John Garstang ontdek by Sakce Gözü, toe in Sirië maar nou deel van Turkye.[2] Klein hoeveelhede Halaf-materiaal is ook in 1913 deur Leonard Woolley uitgegrawe by Carchemish, aan die grens van dié twee lande.[3] Die belangrikste terrein vir die Halaf-tradisie is egter by Tell Arpachiyah, nou in die voorstede van Mosoel, Irak.[4]
Die Halaf-tydperk is gevolg deur die Halaf-Obeid-oorgangstydperk, wat die laat Halaf (omstreeks 5400-5000 v.C.) ingesluit het, en daarna deur die Obeid-tydperk.
Kultuur
Argitektuur
Hoewel geen Halaf-nedersetting baie goed uitgegrawe is nie, is ’n paar geboue wel uitgegrawe: die tholoi van Tell Arpachiyah, ronde strukture met koepels wat deur lang kamers bereik is. Hulle is van modderstene gebou, soms op steenfondamente, en kon vir rituele gebruik gewees het (een het ’n groot getal vroulike beeldjies bevat). Ander ronde geboue was waarskynlik huise.
Halaf-erdeware
Die bekendste erdeware van Tell Halaf, wat Halaf-ware genoem word en deur gespesialiseerde pottebakkers gemaak is, is soms geverf, soms met meer as twee kleure. Hulle het geometriese en dieremotiewe gehad. Daar was ook ongeverfde kookware en ware met gepoleerde oppervlakke.
Halaf-ware is ook in ander dele van Noord-Mesopotamië ontdek soos by Nineve en Tepe Gawra, Chagar Bazar en Tell Amarna,[5] sook baie terreine in Anatolië (Turkye), wat daarop dui dat dit algemeen in die streek gebruik is. Daarbenewens is vroulike beeldjies gemaak van gedeeltelik gebakte klei en steen, asook seëls van steen. Die seëls dui vermoedelik op die ontwikkeling van idees van persoonlike eiendom, want soortgelyke seëls is in latere tye vir dié doel gebruik. Die Halafiërs het gereedskap van klip of klei gebruik. Koper is ook gebruik, maar nie vir gereedskap nie.
Deel van ’n bak, 5600-5000 v.C.
Halaf-ware.
Vrugbaarheidsbeeldjie, dalk ’n godin, 5000-4000 v.C.
Halaf se einde (Noord-Obeid)
Die Halaf-kultuur het teen 5000 v.C. tot ’n einde gekom ná die sogenaamde Halaf-Obeid-oorgangstydperk.[6] Baie Halaf-nedersettings is verlaat en die oorblywendes toon Obeid-kenmerke.[7] Die nuwe tydperk word Noord-Obeid genoem om dit te onderskei van die ware Obeid-tydperk in Suid-Mesopotamië,[8] en vir dié oorgang is daar twee verduidelikings. Die eerste is ’n inval en ’n vervanging van die Halafiërs deur die Obeidiërs, maar daar is geen diskontinuïteit tussen die Halaf- en Noord-Obeid-kultuur nie, wat die teorie van ’n inval uitsluit.[7][9] Die aanvaarbaarste teorie is dat die Halafiërs die Obeidiese kultuur aangeneem het,[7] en die meeste geleerdes aanvaar dié teorie.[8][9][10]
↑Castro Gessner, G. 2011. "A Brief Overview of the Halaf Tradition" in Steadman, S and McMahon, G (eds.) The Oxford Handbook of Ancient anatolia. Oxford: Oxford University Press. p. 780
↑Castro Gessner, G. 2011. "A Brief Overview of the Halaf Tradition" in Steadman, S and McMahon, G (reds.) The Oxford Handbook of Ancient anatolia. Oxford: Oxford University Press. p. 781
↑Campbell, S. 2000. "The Burnt House at Arpachiyah: A Reexamination" Bulletin of the American Schools of Oriental Research no. 318. p. 1
Akkermans, Peter M.M.G.; Schwartz, Glenn M. (2003). The Archaeology of Syria: From Complex Hunter-Gatherers to Early Urban Societies (c. 16,000–300 BC). Cambridge University Press. ISBN978-0-52179-666-8.
Liverani, Mario (2013). The Ancient Near East: History, Society and Economy. Routledge. ISBN978-1-134-75091-7.
Masetti-Rouault, Maria Grazia; Rouault, Olivier; Wafler, Markus (2000). La Djéziré et l'Euphrate syriens de la protohistoire à la fin du second millénaire av. J.C, Tendances dans l'interprétation historique des données nouvelles, (Subartu). Brepols. ISBN978-2-50351-063-7.