Genl. Louis Botha (1862–1919) was 'n Boeregeneraal van die ou Zuid-Afrikaansche Republiek tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Hy het tydens die laaste twintig jaar van sy lewe 'n baie belangrike rol in die politiek van Suid-Afrika gespeel, onder meer as een van die grondleggers daarvan,[1] en van 1910 tot 1919 die eerste eerste minister van die Unie van Suid-Afrika.[2]
As jongman het hy in 1880 in die geheim aan die Eerste Vryheidsoorlog deelgeneem, hoewel dié oorlog nie die Vrystaat betrek het nie.[1]
In 1884 het hy aan 'n ekspedisie onder leiding van Lucas Meyer deelgeneem om die hoofkaptein van Zoeloeland, Dinuzulu, op sy troon te herstel. Dinizulu het uit dankbaarheid 'n stuk grond aan hulle gegee, waarvan Botha se deel die plaas Waterval naby Vryheid was.
Teen 1894 was hy 'n vooraanstaande lid van die gemeenskap en in 1899 is hy tot die Parlement verkies. In Oktober van daardie jaar het hy die uitreiking van die ultimatum aan die Britse regering, wat tot die Tweede Vryheidsoorlog aanleiding gegee het, teengestaan.
Toe die oorlog kort daarna uitbreek, het Botha egter wel kommandant van die Vryheid-kommando geword onder aanvoering van dieselfde Lucas Meyer, toe 'n generaal, en hy is self ook later tot generaal bevorder.
Tweede Vryheidsoorlog
Uit die staanspoor was dit duidelik dat Botha 'n goeie oog vir militêre strategie gehad het en binne weke is hy tot veggeneraal bevorder.[1]
In 1900 is hy as kommandant-generaal van die Transvaal aangestel en was hy leier van die Transvaalse afvaardiging by die kongres wat op die Vrede van Vereeniging uitgeloop het. In 1906 is koloniale bestuur aan die eertydse Zuid-Afrikaansche Republiek toegeken. Botha het as leier van die Het Volk-party in 1907 eerste minister geword en met Uniewording in 1910 is hy tot leier van die pasgestigte Suid-Afrikaanse Party verkies, wat hom toe ook eerste minister van die land gemaak het.
Laaste jare
In sy hoedanigheid as kommandant-generaal van die Unieweermag het hy in Junie 1915, tydens die Eerste Wêreldoorlog, die oorgawe van die Duitse magte in Suidwes-Afrika bewerkstellig. Hy was ook die leier van die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die vredeskonferensie in Parys, Frankryk in 1919, wat die Vrede van Versailles tot gevolg gehad het. Hy is kort daarna op 27 Augustus1919 oorlede.
Nalatenskap
Botha het nou met lord Alfred Milner saamgewerk om Uniewording te bewerkstellig, waartoe sy matige sienswyse veel bygedra het. Sy pogings om die breuk wat weens die oorlog tussen die Afrikaners en die Engelssprekendes ontstaan het, te herstel, het grotendeels geslaag. Sommige lede van die eerste Uniekabinet, veral genl. J.B.M. Hertzog, was van mening dat hy Afrikanerbeginsels opgeoffer het. Toe Hertzog teen die einde van 1912 weier om te bedank, het Botha self bedank en sy kabinet opnuut saamgestel, maar sonder Hertzog. Hertzog en sy ondersteuners het daarna die Nasionale Party gestig.