Naudé was baie jare 'n Nasionale Party-politikus en het van 1950 tot 1954 gedien as Minister van Pos- en Telegraafwese, van 1954 tot 1956 as Minister van Gesondheid en van 1956 tot 1961 as Minister van Finansies. Hy is toe gekies as President van die Senaat, en in terme van die republikeinse grondwet sou hy ex officio as staatspresident moes dien wanneer die pos vakant was. Hy moes die rol onverwags vul toe dr. Eben Dönges, wat gekies is om C.R. Swart as staatspresident op te volg in 1967 'n beroerte gehad het wat hom in 'n koma gelaat het voor hy ingehuldig kon word. Naudé was tien maande lank waarnemende staatspresident tot Dönges gesterf en Jim Fouché in sy plek ingehuldig is.
Biografie
Tom Naudé is op 15 April1889 in Middelburg in die Oos-Kaap gebore. Hy het ook op Middelburg skoolgegaan waar hulle in 'n dubbelverdieping in Van der Waltstraat gewoon het.
Hy vestig hom in 1910 as prokureur op Pietersburg. Sy protes teen Suid-Afrika se deelname aan die Eerste Wêreldoorlog lei daartoe dat hy vir drie maande in die Booysens Interneringskamp moes deurbring.
Van 1915 tot 1920 was hy stadsraadslid. Hy word daarna op 30-jarige ouderdom verkies tot Volksraadslíd vir Pietersburg en verteenwoordig die kiesafdeling vir 41 jaar. In die Parlement het hy feitlik elke denkbare pos beklee. Hy was hoofsweep, minister, Speaker, President van die Senaat en met die siekte van dr Dönges, waarnemende Staatspresident.
Gedurende sy ampstermyn as Minister van Pos- en Telegraafwese en ook as oud-Middelburger is hy gevra om die hoeksteen by die bou van die nuwe stadsaal in 1951 te lê.