Christiaan VI (30 November 1699 - 6 Augustus 1746) was van 1730 tot 1746 koning van Denemarke en Noorweë. Hy was die oudste oorlewende seun van koning Frederik IV en Louise van Mecklenburg-Güstrow en word beskou as een van Denemarke se mees onbekende konings. Hy was egter ’n goeie politikus en is veral bekend vir sy outoritêre bewind. Hy was die eerste koning van die Huis van Oldenburg wat nie in ’n oorlog betrokke was nie. Sy leuse was Deo et populo ("Vir God en die volk").[1][2]
Lewe
Christiaan het ’n beter opvoeding as sy pa en oupa gehad. Hy het Deens verstaan, maar Duits in alledaagse gesprekke gebruik. Hy was skaam en teruggetrokke en het nie baie met die publiek gemeng nie.
Vir die eerste 10 jaar van sy bewind het hy baie met sy neef graaf Christiaan Ernst van Stolberg-Wernigerode beraadslaag. Die graaf het ’n sê in alles gehad, van die aanstelling van kokke in die koningin se kombuis tot die opstelling van beleide. Omstreeks 1740 het graaf Christiaan Ernst se lojaliteit na Frankryk verskuif en het sy invloed afgeneem.
Een van Christiaan se grootste binnelandse hervormings was die instelling van die sogenaamde stavnsbånd, ’n wet waarvolgens kleinboere verplig was om in hul tuisstreek te bly en wat die kleinboere onderwerp het aan die plaaslike adel en die weermag. Hoewel die idee daaragter was om ’n konstante getal soldate te verseker, is dit later algemeen beskou as die ergste onderwerping van die Deense kleinboere, en dit het Christiaan VI se reputasie geknou. Die wet is in 1788 afgeskaf.[3]
Christiaan was waarskynlik die grootste Deense bouer van die eeu. Hy en sy vrou het verskeie paleise laat bou, waarvan sommige steeds staan. Sy buitelandse beleid was vreedsaam en Denemarke het altyd neutraal gebly. Wat die handel betref, was dit ook ’n tydperk van vooruitgang en verskeie nuwe maatskappye en banke is gestig.
Christiaan VI was bekend as ’n godsdienstige heerser. Die godsdienstige druk wat hy toegepas het, asook sy gebrek aan persoonlike sjarme, het hom een van Denemarke se ongewildste absolutistiese konings gemaak.[4]
Verwysings
Eksterne skakels