Die Gereformeerde kerk Stoffberg is die derde oudste van die 16 gemeentes in die GKSA se Klassis Lydenburg. Einde 2015, toe hier 42 belydende en vyf dooplidmate was, was dit een van vyf gemeentes in dié Klassis met minder as 50 belydende lidmate. Die ander was Belfast (27), Carolina (37), Waterval-Boven (9) en Wondersig (32).
Die Gereformeerde kerk Roossenekal, soos dit eers bekendgestaan het, het in Maart 1906 van Lydenburg afgestig. Die eienaar van die plaas Lampfontein het ’n perseel vir ’n kerkgebou beskikbaargestel. Daarop is die eerste kerk gebou, wat bestaan het uit vier klipmure, ’n sinkdak sonder plafon, en ’n misvloer.
Mettertyd het die swaartepunt van die gemeente na Stoffberg/Laersdrif verskuif. In 1934 het die gesin Ligthelm 5 morg grond op die plaas Blinkwater by Stoffberg vir die oprigting van ’n kerkgebou geskenk. Eers is net ’n timmerasie opgerig wat met seile oorgetrek is tydens eredienste. Later het dit ’n grasdak gekry, maar eindelik het lidmate stene en ander boumateriaal vir ’n permanente gebou geskenk, asook hout vir ’n preekstoel en kerkbanke. Broeder Ligthelm het die plan geteken en Stoffel Venter en Willie Jacobs was die bouers. In dié nuwe gebou is die paraffienlampe uit die Lampfontein-kerk ingebou. Die nuwe kerk, in wese ’n saalkerk, se hoeksteen is op 15 Mei1937 gelê. Eers in 1975 kon die gemeente die traporrel wat destyds geskenk is, met ’n pyporrel vervang.
Op 26 Maart1968 is die gemeente se naam na die Gereformeerde kerk Stoffberg verander. Vandag nog gebruik die gemeente Stoffberg dieselfde gebou wat in 1937 opgerig is.
Predikante
Nagel, Cornelius Johannes, 1977 – 1981 (in kombinasie met Belfast)
Putter, Christiaan Johannes Jacobus, 1982 – 1983
Van der Walt, Adriaan, 1984 – 1996 (van 1993 – 1996 in kombinasie met Belfast; aanvaar sy emeritaat)
Bronne
(af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.