Gorodowikofsk of Basjanta (Russies: Городовиковск, Kalmikies: Бәәшңтә) is die derde grootste stad van Kalmikië, Rusland en die setel van die gelyknamige Gorodowikofsk-rajon en Gorodowikofsk Stedelike Munisipaliteit. Dit lê 182 kilometer suidwes van die republiek se hoofstad, Elista.
Geskiedenis
Gorodowikofsk is in 1871 as 'n dorpie gestig en het oorspronklik die naam Basjanta gehad, 'n Kalmikiese fonetiese aanpassing van die Russiese woord vir "toring". In 1971 het dit die status van 'n stad gekry en is ter ere van die Sowjets-Kalmikiese militaris Oka Gorodowikof hernoem.[1]
Demografie
Volgens Sensus 2010 het Gorodowikofsk 9 565 inwoners gehad. Etniese Russe en Kalmikiërs vorm die meerderheid van die stad se bevolking.[2]