Kalmikië (ook Kalmoekië; Kalmikies: Хальмг Таңһч, Chalmg Tangchtsj; Russies: Республика Калмыкия, Respoeblika Kalmikija), is ’n outonome republiek (’n deelgebied van Rusland). Dit is geleë aan die Kaspiese See. Dit is die enigste gebied in Europa waar Boeddhisme die hoofgodsdiens is. Die hoofstad is Elista en die amptelike tale Russies en Kalmikies.
Geskiedenis
Vroeë geskiedenis
Die Kalmikiërs stam grotendeels van Mongoolse nomadiese volke wat hulle in die 17de eeu hier gevestig het. Binne 25 jaar word hulle onderdane van die Russiesetsaar. In ruil vir die beskerming van Rusland se suidelike grens kry hulle ’n jaarlikse toelae en toegang tot die markte van die Russiese grensgebiede. Die streek bereik die hoogtepunt van sy militêre en politieke mag onder Ajoeka Khan (1669–1724).
Ná Ajoeka Khan se dood word die streek ál minder onafhanklik en ’n groot deel van die bevolking begin wegtrek. Om dit stop te sit, neem Katharina die Grote hul onafhanklikheid weg en dra alle regeringsmag oor aan die goewerneur van Astrachan. Ná die Tweede Wêreldoorlog word groot dele van die bevolking deur Josef Stalin na Siberië verban. Omtrent die helfte keer ná sowat twintig jaar weer terug. Op 9 Januarie1957 word die streek ’n outonome oblast en op 29 Julie1958 ’n outonome republiek. Ná die val van die Sowjetunie behou dit sy status as outonome republiek.
Huidige beleid
Die huidige president is sedert die verkiesings van 1993 die multimiljoenêr Kirsan Iljoemzjinof, wat voorsitter van die internasionale skaakfederasie FIDE is. Sy droom is om van Kalmikië ’n skaakparadys en onafhanklike staat te maak.
Iljoemzjinof het in 1994 die grondwet afgeskaf en die "diktatuur van die gesonde verstand" ingevoer. Dit beteken die president bepaal die beleid. Hy alleen kan mense aanstel en afdank. Volgens sy visie werk die mans, die vroue sorg vir die kinders, die kinders speel skaak en hy sorg vir die res.
Hy wil Kalmikië laat afskei van die Russiese Federasie en in plaas daarvan ’n "geassosieerde lid" laat word. Hy glo die republiek staan de facto reeds buite die federasie omdat dit geen geld meer uit die federale begroting kry nie, maar wel belasting betaal. Rusland staan dié planne teen.