Tsjoekotka (Russies: Чукотский автономный округ, Tsjoekotski aftonomni okroeg; Tsjoektsjies: Чукоткакэн автономныкэн округ, Tsjoekotkaken aftonomniken okroeg) is ’n outonome okroeg (’n deelgebied) van Rusland. Die hoofstad is Anadir, die oostelikste plek in Rusland met dorpstatus.
Die streek lê geografies in die Russiese Verre Ooste en word deels deur die Verre Oosterse Federale Distrik geadministreer. Volgens die Russiese sensus van 2010[2] het dit ’n inwonertal van 50 526. Dit is die tweede yls bevolkte deelgebied in Rusland.
Die Elgigitgin-meer, ’n impakkrater, en die Anjoeiski-meer, ’n uitgewerkte vulkaan, word in Tsjoekotka aangetref. Oelen is die oostelikste nedersetting in Rusland en die naaste plek aan die VSA (Alaska). Met sy oppervlakte van 737 700 km2 is die outonome okroeg sowat 6% groter as die Amerikaanse deelstaat Texas en is dit die sewende grootste deelgebied van Rusland. Dit is ook die noordoostelikste deelstaat en word net in die weste begrens deur Sacha (Jakoetië), in die suidweste deur Magadan-oblast en in die suide deur Kamtsjatka-krai.
Geskiedenis
Die eerste inwoners van die streek was Paleo-Siberiese jagters wat van Sentraal- en Oos-Asië hierheen gekom het. Die gebied was toe deel van die Beringlandbrug, wat vermoedelik menslike migrasie na die Amerikas moontlik gemaak het.
Tsjoekotka was tradisioneel die tuiste van die inheemse Tsjoektje, Siberiese Joepiks, Korjake, Tsjoewane, Ewene, Joekagiere en Russiese setlaars.
Nadat die Russe die khanateKazan en Astrachan in die 6de eeu verower het, was die handelsroetes na die Oeral, Siberië en Sentraal-Asië oop vir reisigers en handelaars, en Kosakke het ooswaarts getrek. Die Kosakke het forte op strategiese plekke gebou en die inheemse volke aan die tsaar onderwerp.
In die eerste helfte van die 17de eeu het Rusland die verre noordooste bereik. In 1641 het die Kosakke die eerste verwysing na die Tsjoektje gemaak. In 1649 het die Russiese ontdekkingsreisiger Semjon Dezjnjof die verre noordoostelike kus verken en ’n winterkwartier in die Anadirrivier gebou wat later die ommuurde nedersetting Anadirsk geword het. Dezjnjof het die volgende 10 jaar probeer om die Tsjoektsje te onderwerp en heffings in te stel, maar was meestal onsuksesvol. Eindelik het sy mense die fort verlaat weens die strawwe noordelike weersomstandighede en die gebrek aan diere om vir kos te jag.
Aan die einde van die 17de eeu het die fort weer in ’n mate belangrik geword toe die seeroete tussen Anadirsk en Kamtsjatka ontdek is. Dit is gebruik as ’n basis vir ekspedisies na Kamtsjatka, en alle forte en nedersettings was aan Anadirsk onderworpe. Nadat Kamtsjatka se ryk hulpbronne ontdek is, het die Russiese regering met nuwe oë na die noordoostelike streek gekyk. In 1725 het tsaar Pieter die Grote aan Vitus Bering opdrag gegee om die streek te verken en aan Afanasi Sjestakof om die Tsjoektsje te onderwerp. Die ekspedisie het misluk toe die eerste vloot gestrand het en die oorlewendes, insluitende Sjestakof, deur die Tsjoektsje vermoor is.
Ná nog mislukte pogings het die Russe besef die Tsjoektsje kan nie met militêre mag onderwerp word nie en hulle het die volk burgerskap van die Russiese Ryk aangebied. ’n Vredesooreenkoms is in 1778 gesluit waarvolgens die Tsjoektsje nie heffings hoef te betaal het nie.
Tsjoekotka het hoofsaaklik buite beheer van die Russiese Ryk gebly en gevolglik het ander lande (Amerika, Brittanje en Noorweë) van 1820 af in die gebied begin jag en handel dryf. Nadat Alaska aan die VSA verkoop is, het veral Amerikaanse walvisjagters en handelaars hulle bedrywighede in Tsjoekotka uitgebrei en buitelandse invloed het ’n hoogtepunt bereik. Teen 1880 het die Russe kusbeheer begin toepas om Amerikaanse skepe te keer en op hulle besittings beslag te lê. In 1888 is die administratiewe streek Anadir gestig. Russiese invloed het egter weer afgeneem en omstreeks 1900 het talle buitelanders na Tsjoekotka gestroom, gelok deur die Yukon-goudstormloop van 1898.
In 1909, in ’n poging om weer beheer oor die gebied te verkry, het Rusland twee distrikte in die streek geskep: die distrikte Anadir en Tsjoekotka. Konsessies is aan buitelandse maatskappye toegeken om tussen 1902 en 1912 goud, yster en grafiet in Tsjoekotka te ontgin.
Amerika en Kanada het probeer om veral op Wrangeleiland aanspraak te maak. In 1916 het die Russe die onbewoonde eiland amptelik geannekseer. In 1921 het die Kanadees Vilhjalmur Stefansson probeer om die eiland vir Kanada op te eis deur ’n klein nedersetting daar te bou. In 1924 het Rusland die eiland finaal beset, alle inwoners verwyder en dus buitelandse invloed stopgesit.
Sowjettydperk
Toe Nazi-Duitsland Rusland in 1941 tydens die Tweede Wêreldoorlog aanval, is met die ontginning van tin begin. Dit het vinnig ontwikkel en dié nywerheid sou die streek se ekonomiese basis word. Geoloë het ook in die oorlog groot goudreserwes ontdek wat in die 1950's ontgin sou word.
Die Tsjoekotka-okroeg (later outonome okroeg) is in 1930 geskep. In 1932 is die Kamtsjatka-oblast gestig, met jurisdisie oor Tsjoekotka.
Ná die Sowjetunie
In 1991 het Tsjoekotka uit eie reg ’n deelgebied van die Russiese Federasie geword. Van 2001 tot 2008 was Roman Abramowitsj die streek se goewerneur. Hy het miljarde roebels, ook van sy eie geld, in die ekonomie belê deur die infrastruktuur, skole en behuising te ontwikkel. Dit het die inwoners se inkomste meer as verdriedubbel.[3] Hy is in 2008 opgevolg deur Roman Kopin, wat deur die destydse president, Dmitri Medwedef, benoem is.