Maine (Engels: State of Maine) is die grootste van die deelstate van Nieu-Engeland, geleë in die uiterste noordooste van die Verenigde State van Amerika waar dit die oostelike helfte van Nieu-Engeland vorm. Maine is gestig op 15 Maart1820. Die deelstaat grens aan die Atlantiese Oseaan in die ooste en die suide, New Hampshire (as enigste Amerikaanse deelstaat) in die weste en die Kanadese provinsies van Quebec en New Brunswick in die noordweste en noordooste. Sowat tagtig persent van Maine is bebos met dennebome (Engels: pine trees) - vandaar die bynaam Pine Tree State.
Maine se ruwe terrein is tussen 350 en 400 miljoen jaar gelede gevorm uit gesmelte gesteentes wat uit die binneste van die aarde opgestyg het om dwarsoor die noorde van die huidige Nieu-Engeland bergreekse te vorm. Sowat 25 000 jaar gelede was Maine se landskappe onder 'n reusegletser begrawe wat vanuit Kanada suidwaarts beweeg het om met sy dik yslaag oor 'n tydperk van duisende jare die pieke van berge plat te slyp en diep rivierbeddens te vorm. Ook Maine se bergrûens het hul ontstaan aan sand en klei te danke wat deur die gletser meegesleur is.
Toe die gletsers se ysmassa tussen 18 000 en 11 000 jaar gelede begin terugtrek het, het die Atlantiese Oseaan se watervlak tot 'n dusver ongekende hoogte gestyg. Maine se kuslyn met sy ruwe kranse en sowat 5 000 eilande is in hierdie periode geskep. So was die rotskranse en eilande oorspronklik berge waarvan die valleie deur oseaanwater oorstroom is.[1] Die oppervlakke van Maine se eilande varieer grootliks - so is sommige groot genoeg om honderde bewoners te huisves, ander weer so klein dat nie eens 'n boom daarop sou kan groei nie.
Verwysings
↑Margaret Dornfeld: Celebrate the States - Maine. Tarrytown, NY: Benchmark Books / Marshall Cavendish 2001, bl. 12