Die eerste biskop van Rome wat homself Pous genoem het, was Siricius (384-399). Sy voorgangers word egter met terugwerkende krag gewoonlik as Pous aangedui.
Pous en Teenpous
Vanaf die derde eeu tot die vyftiende eeu was daar met tussenposes meer as een pous gelyktydig. In die gevalle erken die Katolieke Kerk een van die pouse as regmatig en reduseer die ander daardeur tot teenpous. In baie gevalle is dit egter nie moontlik om bo alle twyfel vas te stel of 'n pous regmatig was of nie. Party pouse wat in hulle eie tyd as regmatig beskou is, word tans as teenpouse beskou of word om een of ander rede nie getel nie.
Nommering
Deur die problematiek van teenpouse kom daar in die nommering van pouse verskeie onreëlmatighede voor. Die latere naamgenote van Pous Felix II wat eers as 'n teenpous beskou is, moes almal hernommer word toe hy as wettige pous erken is. Die teenpouse Alexander V en Johannes XVI word in die nommering wel getel, daarom is daar nie “wettige” pouse met die name nie en gaan die poustelling van Alexander IV na Alexander VI en van Johannes XV na Johannes XVII. Deur die verwarring met die telling bestaan Johannes XX glad nie as pous of teenpous nie.
'n Ander problem is veroorsaak deur foute wat gemaak is in die kopiëring van dokumente. Ouer lyste verwys na 'n Pous Donus II. Later het geblyk dat dit 'n fout was weens verwarring met die titel “dominus” (heer). In werklikheid was daar maar een pous met die naam Donus. Die name Martinus II en Martinus III ontbreek op die lys en na Martinus I kom Martinus IV. Dit is veroorsaak deur verwarring met die naam Marinus. Marinus I en Marinus II is verkeerdelik as Martinus benoem. 'n Spesiale geval is die van die Pousin Johanna, wat waarskynlik nie werklik bestaan het nie en dus glad nie in hierdie lys opgeneem is nie.
In die tyd van die verkiesing van Pous Stefanus (II) is die pous gekies vanuit die priesters en diakens van Rome. Per definisie was die pous biskop van Rome en is as wettig aanvaar as hy in die amp bevestig word. Stefanus (II) is dus nie as wettige pous beskou nie omdat hy drie dae na sy verkiesing aan 'n beroerte dood is en nooit as biskop gewy is nie. Sy opvolger was Pous Stefanus II want daar was reeds 'n Pous Stefanus I (254 – 257). Pous Marinus I was in 882 eerste biskop wat as pous verkies is, wat nie uit Rome gekom het nie.
Van 752 tot 942 was daar sewe pouse met die naam Stefanus. Oorspronklik is hulle nie verder onderskei nie. Nommering van name van pouse tydens hulle pontifikaat het eers in die 10de eeu begin. Die sewe pouse is na hulle dood as Stefanus II tot VIII respektiewelik aangedui. In 1057 toe nommering van name standaard geword het, het Pous Stefanus IX homself met die ordinale nommer beskrywe en sy dokumente geteken as "Stefanus Nonus Papa".
Ongeveer aan die begin van die 13de eeu is die verkiesing as Pous (eerder as die wyding as biskop) as die begin van 'n pontifikaat gesien. Teen die tyd was die meeste pouse reeds biskop ten tye van hulle verkiesing. Dit het 'n duidelike oordrag van die pouslike mag tot gevolg gehad, sonder inmenging van buite. Wyding as biskop het dus 'n formaliteit vir die pous geword. Die laaste pous wat nie 'n biskop was toe hy verkies is, was Pous Gregorius XVI in 1831. Die pous was dus 'n wettige pous na sy verkiesing, selfs voor sy kroning. Pouse Celestinus IV (1241) en Urbanus VII (1590) was dus wettige pouse alhoewel hulle gesterf het voordat hulle gekroon is. Die mees ekstreme geval is die van Pous Adrianus V wat as pous verkies is in 1276 sonder dat hy eers 'n priester was. Hy is 'n maand later dood sonder ooit gewy te word, maar word steeds as wettige pous erken. Die beleid is vol slaggate soos die geval van Vicedomino de Vicedominis[1] bevestig. Die kardinaal is op 5 September1276 as pous gekies, maar sterf voordat die verkiesing bekend gemaak is. Hy word nie as wettige pous getel nie.
In die 16de eeu, tydens die konsilie van Trente en die Roomse kontra-reformasie het die kerk die leierskap van die pous probeer versterk deur aan te dui dat die pous se verkiesing die werk van die Heilige Gees is en dat hy dus pous is vanaf die oomblik dat hy verkies is. Pous Stefanus (II) is toe as wettig getel en die volgende pouse hernommer as Stefanus III tot Stefanus X selfs teen die feit dat die laaste een as Pous Stefanus IX bekend gestaan het gedurende sy leeftyd.
Gedurende die pontifikaat van Pous Johannes XXIII is Pous Stefanus (II) weer van die lys verwyder. Die "Annuario pontificio" wat die Kerk se amptelike lys van pouse bevat, is gewysig in die 1961 uitgawe en die nommers van die Stefanus pouse is weer van II na IX getel.
Hoewel Pous Stefanus (II) nie sedert 1961 in die "Annuario pontificio" voorkom nie, word hy in baie bronne steeds as pous aangegee omdat baie staatmaak op die 1913 uitgawe van die "Catholic Encyclopedia" wat in die publieke domein is. Selfs die "Encyclopedia Brittannica" verwys na hom as die "unconsacrated pope Stephen (II)" en gee sy opvolger aan as "Stephen (II) III" of as "Stephen II (III)".
Die hele stryery is van geen historiese of teologiese belang nie, omdat Pous Stefanus (II) dood is voordat hy enige besluite kon neem. Dit is dus sleg van belang vir die lys van Pouse.
Name
In die eerste eeue na Christus het pouse gewoon hulle doopname behou nadat hulle pous geword het. Die eerste pous waarvan ons weet dat hy sy naam verander het, was Johannes II (533-535). Sy eintlike naam was Mercurius, maar die verwysing naar die heidense god Mercurius is ongepas geag. Vanaf Gregorius V (996-999) en Silvester II (999-1003), wat beide Germaanse name gehad het, is dit gebruiklik dat pouse by hulle verkiesing 'n nuwe naam aanneem. Die laaste pous wat sy doopnaam behou het was Adrianus VI (1522–1523), sy naam was Adriaan. Na Pous Lando (913-914) het geen pous ooit 'n naam gekies wat nie deur 'n vorige pous gedra is nie. 'n Klein uitsondering op die reël was Johannes Paulus I (1978), wat twee vorige name gekombineer het.
Die pouse se name word in die meeste Europese tale vertaal indien 'n lokale ekwivalent bestaan. So word pouse met die Latynse naam “Gregorius” in Engels “Gregory” in Duits “Gregor” en in Frans “Grégoire”. In baie van die nie-westerse tale word name uit 'n ander taal gebruik soos Franse name in Turks en Spaanse name in Tagalog. In Afrikaans is daar nie 'n gestandaardiseerde spelling vir die name van pouse nie en word die Nederlandse ekwivalente met aangepaste spelling meestal gebruik.
In navolging van Nederlands word in Afrikaans byna uitsluitend die Latynse name gebruik. Hier is sowel die Nederlandse as die Afrikaanse gebruik nie konsekwent nie. In Afrikaans spel ons (?) Nicolaas (Nicolaus), Johannes (Ioannes), Adrianus (Hadrianus) en Celestinus (Coelestinus) en word ph deur f vervang, soos in Stefanus (Stephanus). Veral die spelling van name wat nie alleen by pouse maar ook by ander persone voorkom is nie konsekwent nie. Name soos “Alexander” (Aleksander) word in verskeie bronne waaronder die WAT en die HAT op verskillende plekke verskillend gespel sonder om aan te dui wat verkies word.
Ook in Latyn kom variasies voor. Die eerste drie pouse wat nou “Sixtus” genoem word, was aanvanklik Xystus. Ander voorbeelde van variasies is Cono/Conon, Cletus/Anacletus en Deusdedit/Adeodatus. Spellingvariasies kom ook voor soos Bonifatius/Bonifacius en Silvester/Sylvester.
Statistiek
In totaal 309 pouse, van wie:
267 deur die Katolieke Kerk erken (Teenpous Felix II word deesdae as pous erken hoewel hy saam met Pous Liberius regeer het),
Die mees algemene naam is Johannes (26 keer tot XXIII en twee keer in die kombinasie Johannes Paulus), waarvan VIII en XXIII dubbel voorkom (regmatig en teenpous), XVI slegs deur 'n teenpous is gebruik en XX nie voorkom nie. Die tweede plek word gedeel deur die name Gregorius en Benedictus (beide 18 keer tot XVI), gevolg door Clemens (17 keer tot XIV) op die derde plek.
Die kortste pontifikaat was die van Urbanus VII, met twaalf dae in 1590. Totdat sy naam in 1961 geskrap is, was Stefanus (II) se pontifikaat die kortste. Hy was net drie dae lank pous.
Die langste pontifikaat was die van Petrus, wat volgens historiese bronne 34 of 37 jaar regeer het. As Petrus buite rekening gelaat word, was die pontifikaat van Pius IX, met 31 jaar, 7 maande en 23 dae van 1846 tot 1878, die langste.