Pius Seminarium van Rome,[1] Senigallia,[2] Bisdom van Senigallia,[2] Eerste Vatikaanse Konsilie
Pius IX was die 255ste pous van die Rooms-Katolieke Kerk vir 31 jaar, 11 maande en 23 dae, van 1846 tot 1878. Na Petrus (35 jaar) was hy die langsregerende pous tot dusver (2016).
Onder Pius IX kom die wêreldlike mag van die pous tot 'n einde. Die Rooms-Katolieke Kerk verloor die bestuur oor die hele Kerklike Staat ingesluit die stad Rome aan die nuwe koninkryk Italië. Vanaf 1870 beskou Pius homself as die gevangene van die Vatikaan en weier hy alle samewerking met die Italiaanse staat.
In 1854 kondig Pius IX die dogma van die Onbevlekte Ontvangenis van Maria af. As hoof van de Kerk roep Pius die Eerste Vatikaanse Konsilie (1869–1870) byeen, waarop die onfeilbaarheid van die pous as dogma goedgekeur word. Tydens sy lang pontifikaat word 206 nuwe bisdomme opgerig.
In die jaar 2000 word Pius deur Pous Johannes Paulus II salig verklaar. Dit het baie kritiek uitgelok veral omdat sy houding jeens die Jode nie onomstrede was nie.
Biografie
Jeug en roeping
Pous Pius IX[3] is gebore as Giovanni Maria Mastai-Ferretti op 13 Mei1792 in Senigallia, Hertogdom Urbino. Giovanni was die negende kind uit die huwelik van graaf Girolamo Mastai-Ferretti en Caterina Solazzei di Fano. Die familie Mastai-Ferretti kom oorspronklik uit Lombardye maar het hulle in Senigallia in die hertogdom Urbino gevestig. Giovanni se vader was daar burgemeester van die stad.
Na die laerskool kry Giovanni sy opleiding aan die Collegio Scolpii in Volterra, 'n skool onder leiding van die Piariste. Tydens sy studie blink Giovanni uit in wiskunde.[4]
Pous Pius VII het groot invloed op Giovanni gehad, daarom kies hy die pousnaam Pius.
In 1808 begin Giovanni filosofie en teologie in Rome studeer. Hy bly by sy oom Paolino Mastai-Ferretti wat aan die pouslike hof werk. Die posisie van die Kerk staan in die tyd swaar onder druk. Pous Pius VII is nes sy voorganger Pous Pius VI deur Napoleon Bonaparte gevange geneem, na Frankryk gebring en in die kasteel van Fontainebleau aangehou. Ook Giovanni se oom Paolino word uit Rome verdryf, en 'n ander oom, Andrea Mastai-Ferretti, biskop van Pesaro,[5] – is gevange gehou in Mantua, omdat hy die Franse regering nie wou erken nie.[6] Weens veiligheidsoorwegings besluit Mastai-Ferretti daarom om terug te keer na Senigallia.
In 1814 keer Giovanni terug naar Rome, waar hy aanvanklik vra om toegelaat te word tot die Nobelgarde, 'n leëreenheid opgerig deur Pous Pius VII ter beskerming van die pous. Sy aansoek word geweier omdat hy aan epilepsie ly.
Vervolgens studeer hy aan die Accademia Ecclesiastica, waar diplomate vir die Vatikaan opgelei word. As deel van sy studie help hy met die heropbou van die Kerk in Rome en Senigallia. Op 18 Desember1818 word Giovanni georden tot subdiaken.[7] Daar word beweer dat hy gedurende die periode Vincentius Pallotti (wat later heilig verklaar is) ontmoet het. Pallotti het glo voorspel dat Giovanni pous sou word en dat sy epilepsie genees sou word deur die toedoen van die Maagd van Loreto.[8][9]
Op 10 April1819 word Giovanni Mastai-Ferretti priester gewy. Weens sy epilepsie moes hy toestemming van die pous kry om priester te word. Giovanni wend hom regstreeks tot Pous Pius VII. Die pous gee sy toestemming en wens hom toe dat sy siekte hom nie meer sou teister nie. Giovanni mog egter slegs die mis opdra as hy bygestaan word deur 'n ander priester.[10][11]
Na sy priesterwyding word Giovanni aangestel as spiritueel direkteur van die weeshuis “Tata Giovanni” in Rome. Die weeshuis is opgerig deur 'n arm arbeider Giovanni Borgi, wat hom ontferm het oor die straatkinders van Rome. Hy het hulle in sy eie huis onderdak gebied en vir hulle skoolgehou.[12] Giovanni Mastai-Ferretti was al in die periode 1814–1818 aktief betrokke by die weeshuis en het onder andere godsdiensonderrig aan die kinders gegee. Giovanni het sy eerste mis opgedra in die Santa Anna dei Falegnami-kerk, wat naby die weeshuis was.
Epilepsie
Giovanni het aan 'n vorm van epilepsie gely waarvan die oorsprong waarskynlik gelê het in 'n aangebore beskadiging van die sentrale senuweestelsel of by 'n ongeluk tydens sy jeug toe hy amper verdrink het.[13] Navorsers van die Mayo Clinic in Phoenix, Arizona, in samewerking met die Library of Congress en die Biblioteek van die Vatikaan, het ondersoek in hoe 'n mate die epilepsie 'n rol gespeel het by die besluitvorming en optrede van Pius IX. Omdat mediese dossiers nie bestaan nie, moes hulle hulle gevolgtrekkings baseer op oorlewering en fotomateriaal.[14] Sommige gevolgtrekkings was opmerklik: Epilepsie sou Giovanni na die pousskap gelei het en sou ook 'n invloed gehad het op die dogma van die Onbevlekte Ontvangenis van Maria, omdat Giovanni geglo het dat hy deur haar inspraak van sy epilepsie genees is.
Of Pius IX medisyne teen epilepsie gebruik het kon nie bevestig word nie. Hulle wys egter daarop dat 'n anti-epilepsie middel wat in die tyd gebruik is, nl. kaliumbromide, kon bydra tot die bewaring van sy liggaam na sy dood. By sy herbegrafnis was die liggaam nog in goeie staat.[14]
In die Epilepsie Museum in Kork, Duitsland, is Pius IX opgeneem in 'n lys van beroemde persone wat aan epilepsie gely het.[15]
Sending na Chili
In 1823 vra Joseph Ignatius Cienfuegos, aartsdiaken van die katedraal van Santiago de Chile, Chili, aan die pous om 'n sending na die Suid-Amerikaanse land te stuur om te help om die kerklike hiërargie daar te herstel. Die land was in 'n stryd om onafhanklikheid met sy voormalige koloniale moederland, Spanje, gewikkel. Spanje het enige vorm van selfbestuur geweier. Chileense biskoppe het of wel na Spanje teruggekeer of is oorlede en baie bisdomme was vakant. Die Vatikaan het geen diplomatieke of kerklike betrekkinge met die nuwe republiek gehad nie.[16][17]
Giovanni Muzi, titulêr-aartsbiskop van Philippi, is aangestel as die apostoliese verteenwoordiger en Giovanni Mastai-Ferretti word aan die sending toegevoeg op aandrang van kardinaal-staatsekretaris Ercole Consalvi. Die sending ondervind reeds van die begin af probleme. Hulle skip word op pad na Chili in die hawe van Palma de Mallorca op die Spaanse eiland Majorka aangehou en die kerklike verteenwoordigers word deur die Spaanse outoriteite ondervra oor die doel van hulle reis.[18] Na 'n kort gevangeskap mag hulle verder reis en op 31 Desember1823 kom die sending aan in Buenos Aires, Argentinië om van daaruit oor land na Chili te gaan.
Hoewel die Chileense bevolking die delegasie uit Rome warm onthaal, is die regering baie skepties oor die inmenging van die Vatikaan. In 1824 neem die Chileense regering maatreëls om die posisie van die Kerk te ondermyn; priesters is in diens van die staat gestel, kerklike besittings genasionaliseer en kloosters is toegemaak.[19] Op 5 Junie1825 keer die delegasie terug na Italië sonder enige resultaat.[20]
Na sy terugkeer uit Chili word Giovanni deur Pous Leo XII aangestel as kanunnik van Santa Maria in Via Lata en benoem tot direkteur van die Ospedale San Michele.[21] Die instelling is in 1693 opgerig deur monseigneur Odescalchi, 'n neef van Pous Innocentius XII en was 'n toevlugsoord vir weeskinders en ou manne en vroue wat in die prostitusie werksaam was. Weens wanbeleid het die Ospedale tekort aan inkomste gehad, iets wat Giovanni in korte tyd reggestel het.[22]
Giovanni word benoem tydens 'n periode van groot sosiale en politieke onrus. Tydens die Franse Rewolusie en die daaropvolgende besetting van Italiaanse gebiede deur Franse troepe het die verlange gegroei vir Italiaanse eenwording en stigting van'n Italiaanse staat, vry van buitelandse inmenging en kerklike bestuur. Verskillende groepe, waarvan die Carbonari die bekendste was, het hulle verset teen die invloed van Oostenryk. Oostenryk het die noordelike deel van Italië as hulle grondgebied beskou en was ook 'n trou bondgenoot van die Kerklike Staat. Omdat die Kerklike Staat nie 'n groot leër gehad het nie, was die staat afhanklik van die steun van buitelandse magte.
Spoleto was een van die sentra van die rewolusionêre groepe. Giovanni sien dit as sy taak om die verbinding met die Vatikaan te herstel. Gebaseer op sy ervaring in Rome, besluit hy om die welsyn van sy gelowiges te verbeter. Hy het weeshuise opgerig waar weeskinders opgelei is vir verskillende beroepe.[23]
In Februarie 1831, net na die verkiesing van Pous Gregorius XVI, loop die spanning in Italië weer hoog op, beginnende in Romagna. Weens die sterk antikerklike karakter van die opstand besluit Giovanni Mastai-Ferretti uit Spoleto te vlug.[24] Toe dit duidelik word dat Pous Gregorius XVI steun kry van die Oostenrykse troepe keer Giovanni terug na sy aartsbisdom, en gaan voort om die belange van die inwoners te beskerm. Agtervolg deur die Oostenrykers neem die rebelle, wat hulle teen die pouslike mag verset het, hulle toevlug na Spoleto. Deur bemiddeling van Giovanni word die rebelle ontwapen maar die Oostenrykers het geen wraak geneem teen die rebelle nie.[25] Giovanni Mastai-Ferretti se opvatting oor die vervolging van die rebelle word deur die volgende verhaal geïllustreer. Toe die polisie 'n lys met die name van die kopstukke van die rebellie opgestel het om aan die pous voor te lê, is die lys eers aan Giovanni gewys. Giovanni het glo gesê: “U begryp nie u beroep of myne nie. Wanneer die wolf die skape wil verslind, waarsku hy nie die herder nie.” Daarna gooi hy die lys in die vuur.[26]
Op 17 Desember1832 word Giovanni deur Pous Gregorius XVI verplaas na die bisdom Imola, waarvan hy op persoonlike titel aartsbiskop word. Ook vir die bisdom was reorganisasie die hoogste prioriteit. Op inisiatief van Giovanni is hospitale en 'n weeshuis gebou, kerke gerestoureer en 'n voorbereidende seminarie opgerig waar manne van minder gegoede afkoms hulle opleiding tot priester kan begin.[27]
Tydens die konsistorie van 23 Desember1839 word Giovanni in pectore (in die hart) as kardinaalpriester benoem. Sy naam word op 14 Desember1840 gepubliseer en hy kry die titelkerk Santi Marcellino e Pietro toegewys.
Die konklaaf van 1846
Konklaaf
Herkoms kieskollege
Aanwesig
Afwesig
Italië:
50
4
Frankryk:
–
3
Oostenryk:
–
2
Spanje:
–
1
België:
–
1
Portugal:
–
1
50
12
Op 1 Junie1846 sterf Pous Gregorius XVI. Hy word op 6 Junie uit die Sint-Pietersbasiliek begrawe. Die omstandighede vir die hou van 'n konklaaf was nie gunstig nie. In byna alle Italiaanse gebiede heers onrus en hulp is aan die Oostenrykse keiser Ferdinand I gevra om die dreigende opstande te onderdruk.[28]
Soos tydens drie van die vier konklawe van die 19de eeu probeer die wêreldlike vorste die stemgedrag van die kardinale te beïnvloed om so hulle kandidaat verkies te kry.[29] Tydens die konklawe van 1799–1800, 1823 en 1830–1831 het dit gewerk en is die kardinaal teen wie die veto uitgespreek is ook nie verkies nie. By die konklaaf van 1846 was die veto teen Giuseppe Mastai-Ferretti gerig. Vanuit die Franse kant, maar ook binne die Italiaanse gebiede word 'n liberale pous gewens wat die wêreldlike bestuur van die Kerklike Staat sou hervorm. Die name van die kardinale Tommaso Pasquale Gizzi, Ludovico Micara en Giovanni Mastai-Ferretti is genoem, met laasgenoemde die voorkeur van die Franse.[30]
Keiser Ferdinand I van Oostenryk wou 'n absolutistiese pous hê, by voorkeur kardinaal Luigi Lambruschini, wat tydens die pontifikaat van Pous Gregorius XVI kardinaal-staatsekretaris was en wat die harde beleid van Gregorius wil voortsit.[31] Kardinaal Karl Kajetan von Gaisruck, aartsbiskop van Milaan, kry die opdrag van die keiser om die veto teen Massai-Ferretti uit te spreek indien nodig. Die Oostenrykse kardinaal het egter te laat by die konklaaf opgedaag en het nie aan die konklaaf deelgeneem nie.[32]
In aanwesigheid van 50 (almal afkomstig uit Italië) van die 62 kiesgeregtigde kardinale begin die konklaaf op 14 Junie1846 vir die laaste keer in die “Palazzo del Quirinale” in Rome.[33][34] Al vanaf die eerste stemming op 15 Junie is dit duidelik dat Lambruschini en Mastai-Ferretti die sterkste kandidate is.
Tydens die vierde stemming op 16 Junie1846 verkry Giovanni Mastai-Ferretti 36 stemme, wat genoeg was vir sy verkiesing. Hierdeur word die konklaaf van 1846 die tweede kortste konklaaf van die 19de eeu. Die konklaaf van 1878 wat volg op die dood van Pous Pius IX was nog korter en slegs drie stemmings was nodig om Gioacchino Pecci as Pous Leo XIII te verkies.
Op 16 Junie1846 volg Giovanni as Pous Pius IX vir Pous Gregorius XVI op en word gekroon op 21 Junie1846 deur kardinaal Riario Sforza met 'n spesiaal vir die geleentheid gemaakte tiara.[35] Hy regeer tot sy dood op 7 Februarie1878 en word opgevolg deur Pous Leo XIII. Die naam ‘Pius’ beteken 'die vrome'.
Met die benoeming van Pius IX[36][37] is gekies vir 'n meer liberale politiek binne die Kerklike Staat. Sy voorganger Pous Gregorius XVI het met harde hand en die steun van Oostenryk, die absolute mag van die pous probeer handhaaf.[38] Bygestaan deur sy kardinaal-staatsekretaris Luigi Lambruschini het die verset van Gregorius teen elke moderniteit gegroei tot 'n ware kruistog.
Die Oostenrykers was dan ook ontevrede met die verkiesing van Pius IX. Hulle het gevrees dat deur die nuwe pous die rol van Frankryk in die bestuur van die Kerk aansienlik sou toeneem en dat die magsposisie van Oostenryk, met name in die noordelike gebiede van Italië, onder druk sou kom.[39]
Op basis van sy bestuur van de Kerklike Staat is Pius IX aanvanklik liberaal. Op die gebied van geloofsake en die pouslike gesag is hy egter konserwatief. In sy eerste ensikliek Qui Pluribus, van 9 November1846, neem hy stelling in teen modernistiese idees en waarsku teen sektes wat die posisie van die pous en die Rooms-Katolieke Kerk probeer ondermyn. Na 1850 neem die stryd teen vernuwing in felheid toe en lei in 1864 tot die ensikliek Quanta Cura, waarin Pius IX onder meer vryheid van meningsuiting en godsdiensvryheid skerp veroordeel. Saam met die ensikliek word ook die Syllabus Errorum uitgebring met die opsomming van – volgens die Rooms-Katolieke Kerk – tagtig dwalinge. Pius roep alle gelowiges op om afstand te neem van al die leerstellings en menings. Hy meen dat dit sy Apostoliese plig is om sy stem te verhef teen die vergaande valsheid van die dwalinge en dat gelowiges dit behoort te verwerp sonder voorbehoud.[40]
Verlies van die Kerklike Staat
Al sedert die Franse Rewolusie en die daaropvolgende besetting van die Italiaanse gebiede deur Frankryk groei die verlange binne Italië vir eenwording van die land, vry van buitelandse inmenging en met meer mag aan die bevolking dan die Kerk. Verskillende geheime, rewolusionêre groepe is gestig om die ideaal van 'n selfstandige republiek te verwesenlik sonder enige inmenging van die geestelikheid.
Die Italiaanse geestelike en filosoof Vincenzo Gioberti (1801–1852) het 'n ander idee voorgestel. In sy publikasie Del primato morale e civile degli Italiani (die morele en siviele primaatskap van die Italianers) word 'n federasie van de Italiaanse state voorgestel met die pous as president. Hy beskryf die pousskap as “die laaste grootsheid van Italië”. Pius IX, wat aan die begin vir Gioberti bewonder het, verander in 1850 sy houding toe blyk dat Gioberti die mag van die geestelikheid aan bande wil lê. Gioberti se publikasies is verbied en op die lys van verbode boeke (die Indeks) geplaas weens sy vyandige houding teenoor die Jesuïete.[41]
'n Ander voorstel was om Italië te verenig onder die Huis van Savoje, wat toe in die koninkryk Sardinië regeer het en gesien is as die enigste nie-buitelandse dinastie binne Italiaanse grense.[41]
Om tegemoet te kom aan die onrus in die Kerklike Staat besluit Pius IX op 16 Julie1846 amnestie te verleen aan politieke gevangenes en dissidente.[42] Op 8 Augustus1846 volg die benoeming van kardinaal Tommaso Pasquale Gizzi, die gunsteling van die liberale tydens die konklaaf van 1846, tot kardinaal-staatsekretaris.[33] Vir die regering van die staat stel Pius IX 'n kommissie aan, bestaande uit ses kardinale waaronder die deur die Romeinse volk gehate kardinaal Lambruschini.[43] Een van die belangrikste take van die nuwe regering was om orde bring in die finansiële situasie waarin de Kerklike Staat verkeer. Die Franse oorheersing en die weerstand teen moderne tegniek het daartoe gelei dat die staat afhanklik geword het van die buiteland. Soos hy reeds tydens sy periode in Spoleto gemaak het, gee Pius IX opdrag dat verbeteringe aan die infrastruktuur aangebring word. Hy laat 'n spoorwegnet aanlê, verlaag die belasting op voedingsware, versprei belasting meer eweredig en moedig landbouaktiwiteite aan soos die verbouing van rys.[39]
Om die bevolking aan sy kant te kry deel hy op groot skaal aalmoese uit en hou elke Donderdag publieke oudiënsies. Politieke vervolgings word gestaak.[44]
Op 19 April1847 maak Pius IX bekend dat hy 'n adviesraad (“Consulta di Stato”) gaan aanstel wat volledig uit leke sou bestaan uit die verskillende provinsies van die Kerklike Staat. Ook het hy 'n siviele polisie, die Guardia Civica opgerig en 'n kabinetsraad.[45]
Ondanks die toenaderings bly onrus bestaan. Die filosoof en politikus Giuseppe Mazzini, leier van La Giovine Italia (Jong Italië), verwoord die strewe na hervorming kort na die verkiesing van Pius IX in 'n pamflet as: “Die pous sal verder gaan met hervormings uit beginsel én bittere noodsaak.”[46] 'n Wetenskaplike kongres gehou in Genua in 1847 blyk 'n samekoms van rewolusionêre te wees wat die afskaffing van die mag van die geestelikheid bepleit. Deelnemers aan die kongres wys daarop dat die regering gefaal het omdat nie doeltreffend opgetree is om die gevolge van rampe te oorkom. In 1845 en 1846 het die oes misluk en hongersnood het gedreig. Daar was ook groot oorstromings waardeur dele van Rome onder water gekom het. Met name die Jode in die ghetto is daardeur getref, waardeur Pius IX gedwing is om die reëls vir die verblyf van Jode aansienlik te vergemaklik.[47]
Die viering van Pius IX se eerste jaar as pous het uitgeloop op 'n patriotiese betoging. Pius se verbod op toekomstige feeste word deur die rewolusionêre aangegryp om hulle ontevredenheid met die pous se beleid te uit. Dit lei tot die aftrede van kardinaal Gizzi as staatsekretaris. Hy word opgevolg deur kardinaal Gabrielle Ferretti, 'n neef van die pous. As verweer teen die beskuldiging van nepotisme benadruk Pius dat die aanstelling van Ferretti die liberale gedagte sal deursit.[51]
Die oprigting van die munisipale bestuur van Rome op 2 Oktober1847 was vir veel mense die bewys dat die kerklike mag in die stad beëindig is. Daar was nog geestelikes in die bestuur, maar hulle mag was beperk.[52]
Die omwentelings van 1848
Die rewolusiejaar van 1848 veroorsaak in groot omwenteling binne die gevestigde orde in Europa. By die militêre bondgenote van die Kerklike Staat (Frankryk, Oostenryk en die koninkryk van die beide Sisilië) is daar groot magsverskuiwings wat daartoe lei dat konings en ander heersers aftree en dat die koninkryk van die beide Sisilië 'n nuwe grondwet kry.
Verskillende groepe in Rome maak gebruik van die gebeurtenisse in die buiteland om hulle eise te benadruk. Pius IX word gedwing onder druk van die publieke opinie om meer invloed aan die burgers in die bestuur toe te staan. In Maart 1848 vaardig hy 'n nuwe grondwet uit, die Statuto.[53] Die eis aan die pous om oorlog verklaar teen die gehate Oostenryk weier Pius IX resoluut. Tydens die konsistorie van 29 April1848 verklaar Pius IX dat 'n oorlog in stryd sou wees met die filosofie van die kerk, omdat Ons op aarde is om die plek in te neem van Hom wat die outeur van vrede en die voorvegter van liefdadigheid is.[54] Die weiering van Pius is gesien as verraad jeens die volk se wil.
Hoewel die opstande met die hulp die Oostenrykse leër onderdruk is, bly daar onvrede binne Italië. Op 15 November1848 word Pellegrino Rossi, minister van justisie van die Kerklike Staat, vermoor. Vervolgens trek die opstandelinge na die Palazzo del Quirinale, waar Pius IX skuil saam met buitelandse afgesante. Tydens die bestorming van die pouslike verblyf, waarby 'n medewerker van Pius IX sneuwel, dring die rewolusionêre deur tot by die pous self, wat beskerm word deur lede van die Switserse Garde en die Nobelgarde. Buitelandse ambassadeurs wys die opstandelinge daarop dat elk onreg teen die pous hardhandig gewreek sou word. Daarop word besluit om die pous in die paleis gevange te hou.
Weens die onveilige situasie besluit Pius IX om Rome voorlopig te verlaat. Verklee as 'n gewone priester ontsnap hy op 24 November1848 met die hulp van Spaur, die Beierse ambassadeur en die Franse ambassadeur graaf d’Harcourt.[55] Hoewel Pius eers van plan was om naar Spanje uit te wyk, kies hy uiteindelik vir Gaeta, 'n plek in die koninkryk van die beide Sisilië.
Op 9 Februarie1849 word Rome 'n republiek. Pius IX, wat vinnig na Rome wou terugkeer, roep alle katolieke nasies op om te help om sy mag terug te kry. Spanje, Frankryk en Oostenryk wou help en Duitsland en Rusland ook, maar die laaste twee wou die pouslike mag onderwerp aan die toesig van die groot moondhede om sodoende nuwe probleme binne die Italiaanse gebiede te voorkom.[56] Die koninkryk van Sardinië was egter van mening dat 'n oorlog teen Oostenryk en die onderwerping van die koninkryk van die beide Sisilië aan Italië noodsaaklik sou wees om die unifikasie van Italië te bewerkstellig.[57]
Na die herowering van Rome aan die begin van Julie 1849 deur Franse troepe word 'n einde gemaak aan die republiek. Drie kardinale, Gabriele della Genga Sermattei – 'n neef van Pous Leo XII, Luigi Vannicelli Casoni en Lodovico Altieri word deur die pous as 'n driemanskap aangestel om die Kerklike Staat te regeer. Hierdie Commissione governata di Stato neem dadelik maatreëls wat Pius wou hê: elke vorm van liberalisering binne die politiek van de Kerklike Staat word teruggedraai en bepaalde vryhede waaronder die vryheid van die pers word beperk.[58] Ook die regspraak word verskerp en die inkwisisie word opnuut ingevoer.
Die Franse regering reageer krities op die ontwikkelinge en wys die Vatikaan daarop dat hulle die pous gehelp het met die veronderstelling dat die pous sy beleid sou aanpas veral by die sekularisasie van die bestuur.[59]
Pius het in 1849 na dadelik na Rome teruggekeer omdat hy gevrees het dat die Franse maar halfhartig was in die herstel van die pouslike mag. Die Franse bewind het die pous weer aangestel as staatshoof slegs om die Franse geestelikheid aan hulle kant te kry. Hulle dring egter daarop aan dat die bestuur van die Kerklike Staat in burgerlike hande moet kom. Die Franse regering sou toesig hou.[60] Pius het deur sy verbanning 'n fel teenstander van elke vorm van modernisering geword. Hy beskou die Franse reaksie as 'n toenadering tot die rewolusionêre en wys dit ten sterkste af.[61]
Op 12 April1850 keer Pius uiteindelik terug na Rome en besluit om in die Apostoliese paleis binne die Vatikaan te gaan woon. Die driemanskap word ontbind en die uitvoerende mag kom weer in hande van kardinaal Giacomo Antonelli.
1850–1870
Hoewel dit lyk asof die situasie in die Kerklike Staat stabiliseer, bly, danksy die aanwesigheid van Franse troepe, die rewolusionêre beweging aktief.[62] Die woede van die teenstanders is gerig teen die geestelikheid sowel as die Franse soldate. Die Franse begin om enigiemand wat gewapend op straat gekom het onmiddellik tereg te stel.[63] Onder leiding van premier Camillo Benso di Cavour van die koninkryk Sardinië word die oproep vir die eenwording van die Italiaanse gebiede in stand gehou en neem die regering steeds sterker antiklerikale standpunte in: in 1854 word byvoorbeeld die bestaan van kloosters verbied.[64]
Die dubbelrol van die in 1852 tot keiser gekroonde Napoleon III is deurslaggewend. Tydens 'n ontmoeting tussen Cavour en die Franse keiser in 1858 by Plombières word 'n plan opgestel vir 'n oorlog teen Oostenryk. Na verdrywing van die Oostenrykers sou die koninkryk Sardinië sy gebied uitbrei en dele van die Kerklike Staat inlyf deur goedkeuring van die bevolking (via 'n referendum) of deur verowering. Napoleon III dring egter aan op pouslike onafhanklikheid gewaarborg deur die aanwesigheid van Franse troepe.[64]
Op 4 Julie1859 word die Oostenrykse leër verslaan by Magenta en kom Milaan en Toskane in hande van die koninkryk Sardinië. 'n Opstand in die stad Bologna word deur koning Victor Emmanuel II as voorwendsel gebruik om die orde in die stad te herstel en referenda in die res van die Kerklike Staat af te dwing.
Pius IX was baie verontwaardig en besluit om die koning te ekskommunikeer. Die pous dreig ook elkeen wat aan die referenda sou deelneem met dieselfde straf.[64] Die eis van Victor Emmanuel dat hy ook die mag wil oorneem in Umbrië en Marche lei daartoe dat Pius IX probeer om dit te voorkom met 'n leër van vrywilligers, die Zouavi Pontifici. Die leër is deur die pous gestig met 'n oproep aan alle Katolieke ongetroude jong mans om die pous te help om sy wêreldlike mag te behou. Onder die vrywilligers was 3181 Nederlanders en 1634 Belge. Die Nederlandse groep is veral bymekaar gemaak deur die pastoor van die dorp Oudenbosch, Willem Hellemons, wat daarna die bynaam Zouavepastoor gekry het.
Op 18 September1860 word die Zouave by Castelfidardo verslaan en na 'n tweede nederlaag op 30 September van dieselfde jaar by die Italiaanse stad Ancona was die oorlog oor. Met die uitsondering van Rome en sy onmiddellike omgewing word die res van Italië nou regeer deur koning Victor Emmanuel. Op 17 Maart1861 word die koninkryk Italië geproklameer.
In die volgend nege jaar probeer Pius IX sy mag oor die gereduseerde Kerklike staat te handhaaf met die hulp van die Franse en die Zouave. Met die dekreet Non Expedit in 1868 probeer die pous om nog invloed te kry by die Katolieke bevolking. In die dekreet word Katolieke verbied om aan die parlementsverkiesings deel te neem en hulle mag ook nie kandidaat vir die parlement wees nie.[65] Die Italiaanse koning, het die saak nie verder gevoer nie, behalwe om aan te dui dat as die Franse vertrek die saak sou verander. In 1870 word die Franse troepe deur keiser Napoleon III teruggeroep omdat Frankryk in 'n oorlog gewikkel was met Pruise, die Frans-Duitse Oorlog. Victor Emmanuel gryp die kans en op 20 September1870, nadat Pius IX self opgeroep het tot kapitulasie, word die stad Rome by Italië ingelyf en tot hoofstad uitgeroep. Pius trek terug na die Vatikaan en beskou homself as 'n gevangene.[66]
Op 13 Mei1871 word in die Italiaanse parlement “La legge delle Guarentigie” aangeneem. Die wet erken die soewereiniteit van die pous, onderneem om skadevergoeding te betaal en erken die reg van die pous op die Vatikaan en sy somerpaleis Castel Gandolfo. Pius IX weier egter die toegewing in sy ensikliek Ubi Nos van 15 Mei1871. Sy direkte opvolgers wou ook nie met die Italiaanse regering onderhandel nie. Pas by die afsluiting van die Lateraanse Verdrag onder Pous Pius XI in 1929 kom 'n einde aan die impasse.
Kontinuïteit
Om die kontinuïteit van die pousamp te waarborg besluit Pius IX kort na die anneksasie van Rome in 1870 om drie geheime konstitusies op te stel om die verkiesing van sy opvolger te bespoedig. Pius het gevrees dat die Italiaanse regering na sy dood druk sou plaas op die kardinale om 'n kandidaat van hulle keuse te verkies. Die vrees was nie ongegrond nie.
Die konstitusie In Hac Sublimi van 21 Augustus1871 breek met die ou bepalings van die konklaaf en verbied alle eksterne inmenging ten sterkste. Om die verkiesing so snel moontlik te laat begin bepaal Pius ook die konklaaf moet begin onmiddellik nadat die helfte plus een van die stemgeregtigde kardinale aangekom het op die plek van die konklaaf.[67]
In Licet per apostolicas van 8 September1874 beklemtoon Pius dat beslissing wat normaalweg slegs deur die pous geneem kan word nie deur die kardinale geneem mag word nie. Hy eis ook volledige geheimhouding oor die verloop van die konklaaf.[68]
Die laaste konstitusie, Consulturi, van 10 Oktober1877 roep die kardinale op om die konklaaf te verdaag – selfs al het dit reeds begin – wanneer hulle die indruk kry dat die nuwe riglyne nie nagekom word nie.[68]
Die drie konstitusies, wat pas na die dood van Pius IX bekend gemaak mog word, was nie die enigste maatreël wat Pius tref nie. Behalwe die verbod dat kardinale nie tydens sy lewe mog vergader om oor 'n opvolger te besin het Pius ook die samestelling van die kollege van kardinale aansienlik verander, veral betreffende nasionaliteit. By sy eie verkiesing was daar slegs agt nie-Italiaanse kardinale. By die konklaaf van 1878 was daar 25. Neëntien van hulle was na 1870 aangestel.[33][69]
Geloofskwessies
Dogma van die Onbevlekte Ontvangenis van Maria
In 1848 benoem Pius IX 'n kommissie van teoloë wat die dogma van die Onbevlekte Ontvangenis van Maria moet voorberei. Die dogma bepaal dat Maria as Moeder van God vanaf haar geboorte vry was van die erfsonde. Volgens die Kerk is die besondere status bevestig deur die boodskap van die aartsengel Gabriël toe hy aan Maria die moederskap van Jesus bekendgemaak het: “Ek groet jou begenadigde! Die Here is by jou.” (Lukas 1:28) Die stelling het in die loop van die geskiedenis voor- en teenstanders gehad. Tot die teenstanders behoor Albertus Magnus en Thomas van Aquino, bekende kerkleraars. Hulle het aangevoer dat Maria tot die mensheid behoort en dus ook belas was met die erfsonde.
Tydens die vyfde sitting van die Konsilie van Trente op 17 Junie1546 is die leer van die erfsonde opnuut bevestig, maar die konsilievaders het dit duidelik gestel dat Maria nie outomaties met die sonde belas was nie.
Onder Pius se voorganger, Pous Gregorius XVI, was daar al planne om die dogma af te kondig, maar eers onder Pius IX is daadwerklike voorbereidings begin. Pius is aangespoor deur kardinaal Lambruschini, wat gedink het dat die definisie van die dogma die betekenis van die Christelike waarhede sou herstel en die geeste terugbring van die pad van die naturalisme.[70] Pius stel nie net 'n kommissie aan, maar roep ook alle kardinale en biskoppe op om hulle mening te gee in die ensikliek Ubi Primum van 2 Februarie1849.
Op 8 Desember1854 word die dogma afgekondig in die bul Ineffabilis Deus. Ter bevestiging hiervan word in 1857 die standbeeld Onbevlekte Ontvangenis van Maria – gemaak deur die Italiaanse beeldhouer Giuseppe Obici deur die pous gewy op die Piazza di Spagna in Rome. Ook nou nog vind 'n viering elke jaar op 8 Desember plaas waarby die regerende pous teenwoordig is.[71] Daar word dikwels verkeerdelik aangeneem dat die “onbevlekte ontvangenis” verwys na die maagdelike geboorte van Christus.
Die dogma het 'n toename in Mariaverering binne die Rooms-Katolieke Kerk teweeg gebring. Vir Pius IX was daar 'n bevestiging van die besluit op 25 Maart1858 toe Maria aan Bernadette Soubirous sou verskyn het met die woorde “Que soy era Immaculada Councepciou” (vertaling: Ek is die Onbevlekte Ontvangenis).[72]
Die (Eerste) Vatikaanse Konsilie
Op 6 Desember1864 maak Pius IX bekend dat hy 'n ekumenies konsilie wil hou. Die byeenkoms van kerklike leiers sou in die Vatikaan en spesifiek in die Sint-Pietersbasiliek gehou word. Die toevoeging “Eerste” dateer uit die tyd van die Tweede Vatikaanse Konsilie (1962–1965). Die doel van die konsilie was om die posisie van die Kerk te versterk en bepaalde maatskaplike veranderings te bespreek. Veral materialisme, rasionalisme en liberalisme sou bespreek word. Die pous wil die invloede daarvan beperk of veroordeel. Die tydstip van die aankondiging was nie toevallig nie. Twee dae later volg die ensiklieke Quanta Cura en die Syllabus Errorum waarin stelling ingeneem word teen die, in die oë van die pous, dwalinge en ketterye wat die maatskappy bedreig.[73]
Om die impak van die konsilie te vergroot stel Pius voor dat alle kerklike leiers gevra word om voorstelle ter bespreking in te dien. Om al die versoeke te orden en 'n agenda vir die konsilie op te stel word 'n kommissie, die Congregazione speciale direttice per gli affari del futuro concilio generale, benoem, gelei deur vyf kardinale. Die plan was om die konsilie te open op 29 Junie1867 die 1800ste gedenkdag van die martelaarskap van die apostels Petrus en Paulus. Die Duitse oorlog van 1866 waardeur onder meer Italië en Oostenryk teen mekaar te staan kom en die terugtrekking van Franse troepe uit Rome, veroorsaak dat die voorbereidings eers op 30 Oktober1867 hervat kon word.
Met die bul Aeterni Patris [74] ('Oor die Ewige Vader') van 29 Junie1868 word die definitiewe openingsdatum vasgelê op 8 Desember1869. Kardinale, biskoppe en kloosterowerstes word uitgenooi. In teenstelling met vorige konsilies is geen wêreldlike leiers uitgenooi nie. Hulle mog egter wel die besprekings bywoon, maar mog nie deelneem nie en het ook nie stemreg gehad nie.[62] In twee aparte briewe nooi Pius ook lede van die Oosters-Ortodokse Kerk[75] en protestante[76] uit om deel te neem aan die konsilie; op voorwaarde dat hulle eers moet terugkeer na die Moederkerk in Rome.
Na 'n voorbereiding van vyf jaar is die agenda vasgestel. Naas die voorstelle vir drie dogmatiese afkondiginge, wat betrekking het op die katolieke geloofsleer, die Kerk van Christus en die Christelike huwelik, sou ook onderwerpe met betrekking tot die amp van biskop, studies aan seminarie, verbetering van die Christelike moraal en die vaslegging van kerklike feeste ter sprake kom. Verskeie prelate <!—name asb? --> het ook gevra dat die kerklike wetboek hersien moet word.[62]
Onfeilbaarheid
Die meeste aandag by die konsilie het egter gegaan na die afkondiging van die dogma van die onfeilbaarheid van die pous. Buite die Kerk het die gevoel gegroei dat die konsilie spesifiek gehou word om die dogma te bevestig. Aanvanklik word dit deur die Vatikaan weerspreek. Op 6 Februarie1869 publiseer La Civiltà Cattolica, 'n sterk met die Vatikaan verbinde koerant uitgegee deur die Jesuïete, 'n berig, waarin aangedui word dat op versoek van verskeie prelate die onfeilbaarheid bespreek gaan word.[77] Vanuit Engeland, Frankryk, Duitsland, Rusland en Oostenryk word gevrees dat die nuwe dogma die outoriteit van die pous sou vergroot ten nadele van die lokale kerke. Hierdie lande het hulle geestelikes dan ook aangeraai om nie aan die konsilie deel te neem nie, maar uiteindelik het net die prelate van Rusland nie na Rome gereis nie.[62]
Pius IX gee aan besoekers die indruk dat hy nie veel sien in die dogma van die onfeilbaarheid. Hy het egter in twee ensiklieke gepleit vir die onbetwiste soewereiniteit van die pous en die onfeilbaarheid wat daarmee sou saam gaan. In “Qui Pluribus” (paragraaf 10) skryf hy dat in die pousskap verskille aangaande geloof- en morele sake onfeilbaar besleg word. In “Nostis et Nobiscum” (paragraaf 17) argumenteer hy dat die onveranderbare leeramp van die geloof voortlewe in die pousskap.
Na die amptelike opening van die konsilie deur Pius op 8 Desember1869 bleik egter gou dat die meeste deelnemers hulle rig op die vraagstuk van die onfeilbaarheid. Hoewel die voorstanders ruim in die meerderheid was, gryp die teenstanders elke geleentheid aan om die besluitvorming hieroor te vertraag deur fel besprekings te voer tydens verskillende byeenkomste. Daarom besluit Pius IX self in te gryp en die reglemente van die konsilie te wysig.[78] Die pous prys ook die voorstanders van die dogma in die openbaar. In 'n brief van 12 Maart1870 beskuldig Pius die teenstanders van roekeloosheid, dwaasheid en groot brutaliteit.[79]
Die patriarg van die Grieks-melkities-katolieke Kerk, Gregorius II Youssef-Sayour verlaat die konsilie vroegtydig sodat hy nie nodig gehad het om oor die dogma te stem nie. Hy het gevrees dat die dogma die Oosters-Ortodokse Kerk se patriarge sou vererg en elke kan op moontlike hereniging met die Oosters-Ortodokse Kerke sou kelder.[80][81]
Nadat Pius IX op 6 Maart1870 toestemming gegee het om die beplande konstitusie “Pastor Aeternus” uit te brei met die hoofstuk “Romanum Pontificem in rebus fidei et morum definiendis errare non posse” (vertaling: Die pous van Rome kan nie dwaal wanneer hy sake aangaande geloof en moraal definieer nie) het die stemming op 18 Julie1870 plaasgevind. 433 Aanwesiges het daarvoor gestem en 2 teen. 'n Groot aantal biskoppe het teen die tyd die konsilie reeds verlaat, aan die een kant weens die uitbreek van die Frans-Duitse Oorlog van 1870–1871 en andersyds omdat hulle die tyd vir die stemming nie gepas gevind het nie.[82]
Ondanks die kritiek was die uitsprake van die konsilie vir slegs min katolieke 'n aanleiding om met die Kerk te breek. In Frankryk was dit Hyacinthe Loyson en in Duitsland die historikus Ignaz von Döllinger, wat aan die basis gestaan het van die aan die einde van die 19de eeu opgerigte Oudkatolieke Kerk in Duitstalige lande.[83] Die afkondiging van die dogma het wel groot invloed op die Protestantse beeldvorming van die Katolieke Kerk. In 1871 word die onfeilbaarheidsdogma deur rykskanselier Otto von Bismarck aangegryp om die stryd teen die Katolieke Kerk aan te gaan. Bismarck vrees dat 'n groeiende mag van die Katolieke gesteun deur Frankryk en Oostenryk die dominante posisie van die Protestantisme in Pruise sou onderdruk. Die stryd staan later in die geskiedenis bekend as die Kulturkampf (1871–1878). Ook in Switserland splits katolieke van die Kerk af en die Oostenrykse regering sê die konkordaat met die Vatikaan wat in 1855 gesluit is, op weens veranderde omstandighede.[62]
Oor die vraag hoekom Pius IX die pouslike onfeilbaarheid in dogma wil laat vaslê, bestaan verskillende teorieë. Dit is onwaarskynlik dat hy sy onfeilbaarheid wou inspan om vir die verlore wêreldlike mag (die verlies van die Kerklike Staat) te kompenseer omdat Pius self geglo het dat sy wêreldlike mag herstel sou word. Met die konsilie en die afkondiging van die onfeilbaarheid wou Pius juis aantoon hoe belangrik sy wêreldlike mag juis was vir die uitvoering van sy roeping.[84] Die feit is deur Pius self bevestig in sy ensikliek Respicientes van 1 November1870, na die inname van die stad Rome, waarin hy daarop wys dat hy van plan is om alle besittings van die Heilige Stoel terug te kry sodat hy dit aan sy opvolgers kan oordra (paragraaf 12). Ook deur sy optrede en die manier waarop die dogma uiteindelik goedgekeur is – deur meerderheidstem eerder as deur konsensus – het Pius 'n sterk persoonlike stempel daarop geplaas.[80]
Op 1 September1870 word die konsilie verdaag na 11 November. Omdat Rome deur Italië ingeneem word op 20 September1870 besluit Pius op 20 Oktober1870 om die konsilie vir onbepaalde tyd te verdaag.[85] Hy weier daarmee die versoek van die Italiaanse regering dat die konsilie normaal kon aangaan. Ook die voorstel van die Engelse aartsbiskop Spalding om die konsilie na Mechelen in België te verskuif is nie aanvaar nie.[82]
Met die dekreet Quemadmodum Deus van 8 Desember1870 vervul Pius een van die aanbevelings van die deelnemers aan die konsilie: die uitroep van uitroep van Josef van Nasaret, volgens die Kerk die stiefvader van Jesus, as patroon van die Kerk. Verskeie ander onderwerpe word deur latere pouse aangepak soos:
Optrede teen sektariese genootskappe (Pous Leo XIII in 1884)
Die hersiening van die kerklike wetboek (Pous Pius X in 1917)
Die dogma van Maria se hemelvaart (Pous Pius XII in 1950)
Die Jode
Met die verkiesing van Pius IX het die Jode van Rome gehoop dat die nuwe pous in die voetspore van sy naamgenoot Pius VII sou trap en 'n einde maak aan die beperkende en vernederende omstandighede waarin die Jode in die ghetto van Rome moes lewe. Die ghetto was oorbevolk en daar was onvoldoende skole en slegte mediese sorg. Die Jode se bewegingsvryheid buite die ghetto was ook beperk.[86]
Tydens hulle eerste ontmoeting met die pous op 13 September1846 vra die Joodse leiers aandag vir die misstande en versoek ook dat die verpligting van Jode om Roomse preke by te woon afgeskaf moet word. Pius was bereid om 'n paar toegewings te maak, veral omdat die Joodse bankier Rothschild die Vatikaan geld geleen het on buitelandse beskerming te betaal.[87] Daar is besluit dat 'n aantal Joodse families buite die ghetto mag woon. Dit was in ieder geval noodsaaklik omdat gedeelte van die ghetto onbewoonbaar geword het omdat die Tiber-rivier sy walle oorstroom het. Emansipasie van die Jode was egter vir Pius op religieuse gronde onaanvaarbaar, hoewel die Jode self gedink het dit sou op korte termyn verander.
Toe Pius IX na Gaeta moes vlug het die Jode hulle volledige vryheid gekry, maar met sy terugkeer in 1850 word die Jode weer in die ghetto gedwing. Pius het ook die groothertogdom Toskane en die hertogdom Modena en Reggio sover gekry om dieselfde soort beperking in te stel.[88]
Met die Edgardo Mortara-saak word in 1858 'n dieptepunt bereik in die relasies tussen die Katolieke Kerk en die Jode. Edgardo, 'n Joodse seuntjie, is in die geheim deur 'n katolieke huishulp gedoop, omdat hy baie siek was en sy gedink het hy gaan dood. Ses jaar later in 1858 maak sy die doop bekend en die Inkwisisie bring die Vatikaan op hoogte. Op bevel van Pius word besluit om die seun van sy ouers weg te neem omdat die kerkwet nie toegelaat het dat 'n Roomse kind deur nie-katolieke ouers grootgemaak word nie. Die seun is oorgebring na Rome en in Roomse sorg opgevoed. Hy het glo later 'n Roomse priester geword.
Die Mortara-saak het veel aandag gekry oral in Italië en ook daarbuite. Vir die Italiaanse rewolusionêre was dit weereens 'n bewys dat die Kerklike Staat nie met die tyd aanbeweeg nie. Veral van die kant van die Franse het heftige kritiek gekom. Die Vatikaan het alle kritiek afgemaak as synde nie relevant nie.[89] Die Vatikaan het probeer om met 'n persoffensief die saak goed te praat deur te beweer dat Edgardo self by die Katolieke gemeenskap wou bly.[90]
Pius self het verskeie kere kommentaar gelewer op die Montarasaak. Hy verwyt die Franse nuntius dat hy die saak nie mooi gestel het by die Franse regering. Die nuntius, Carlo Sacconi is egter later wel deur Pius as kardinaal aangestel.
Na die inname van die grootste gedeelte van die Kerklike Staat deur die Italiaanse Staat, verhard Pius se houding ten opsigte van die Jode. Hy beskuldig hulle daar van dat hulle saam met geheime sektes troepe versamel teen die Kerk. Om die, in sy oë verderflike karakter van die Joodse godsdiens te beklemtoon, gee Pius per dekreet amptelike status aan die verering van 'n 15de eeuse martelaar Lorenzino van Marostica wat kamma deur die Jode aan 'n boom vasgemaak is, waarna sy bloed afgetap is. Die boek Le Juif, le judaïsme et la judaïsation des peuples chrétiens, van Roger Gougenot des Mousseaux oor die Jode en die judaïsering van die Christenvolke is deur Pius sterk aanbeveel. Die boek beskuldig die Jode van rituele moorde. Die pous beloon die skrywer met die kruis van kommandeur in die Pouslike Orde.[91] Tydens die laaste jare van sy lewe oorheers by Pius die gedagte dat die Jode die aanstigters van die Italiaanse rewolusie was met as doel om die Rooms-Katolieke Kerk omver te gooi.[92]
Met die dood van die laaste katolieke biskop uit die tydperk van koningin Maria I van Engeland (1553–1558) het 'n einde gekom aan die katolieke hiërargie in Engeland en Wallis. In die eeue wat daarop volg was die Katolieke geloof verbied. Engeland en Wallis het in die oë van die Kerk sendinggebiede geword.
Tydens die jare 30 van die 19de eeu groei die wens van die oorblywende katolieke om weer verbind te word met Rome. Veral uit die bevolking van Ierland, wat sedert 1801 deel was van die Verenigde Koninkryk. Deurdat die katolieke Daniel O’Connell tot die parlement verkies is, word die Britse regering gedwing om die wet wat katolieke verbied om deel te neem aan die parlement, te wysig. Die Catholic Relief Act van 1829 was die gevolg.[93]
Die opheffing van die beperkings stel Pous Gregorius XVI in staat om nuwe apostoliese vikarisse vir Groot-Brittanje aan te stel en die hernuwing van die katolieke hiërargie te begin. Met die bul Universalis Ecclesiae van 29 September1850 herstel Pius IX die hiërargie in Engeland en Wallis. Beide lande word ingerig as een kerkprovinsie en die heropgerigte aartsbisdom van Westminster word aangewys as die metropool, waaraan twaalf suffragane bisdomme verbind word. Die eerste metropoliet is Nicholas Wiseman wat op 30 September1850 as kardinaal benoem word.
Die herinvoering van die katolieke hiërargie lei tot woede onder Engelse radikale, aangespoor deur premier John Russell en The Times.[94] Versoeke is ingedien by die parlement en ook by koningin Victoria, om te voorkom dat die nuwe biskoppe hul plek kon inneem. Die premier, Lord John Russell, gee gehoor aan die protes deur 'n fel brief te skrywe aan die biskop van Durham waarin hy sy ongenoeë kenbaar maak. Hy beskryf die nuwe hiërargie as 'n inbreuk op die magte van die Britse vorstin as hoof van die Anglikaanse Kerk en voorsien 'n inbreuk op die spirituele vryheid van die nasie.[95] Met 'n in 1851 opgestelde wet, die Ecclesiastical Titles Bill, wil Russell bewerkstellig dat die nuwe bisdomme as onwettig beskou word en mag die Katolieke biskoppe nie hulle titels gebruik nie.[95]
Hoewel die wet, deur die parlement aangeneem is, is dit nooit uitgevoer nie. Deur 'n oproep van kardinaal Wiseman is die gemoedere bedaar en het die opbou van die Kerk in Engeland en Wallis gewoon deurgegaan.[96][97]
Nederland (1853)
Sedert die Tagtigjarige Oorlog (1568–1648) was die uitoefening van die katolieke godsdiens aan beperkings onderhewig. Hoewel die Unie van Utrecht, gesluit in 1579, vryheid van godsdiens bepaal het, is dit in die praktyk beperk tot gewetensvryheid en mog Katolieke nie hulle geloof in die openbaar beoefen nie. Daar was 'n totale verbod op prosessies en die oorname van kerkgeboue deur Protestantes het daartoe gelei dat Katolieke op skuilkerke moes staatmaak. Skuilkerke is gedoog solank hulle erkenningsbelasting betaal het.[98] Die Vatikaan het as gevolg hiervan die Noordelike Nederlande tot sendinggebied verklaar onder die naam Missio Hollandica. Die sending is bestuur deur 'n apostoliese vikaris wat regstreeks aan die Kongregasie vir die Voortplanting van die Geloof gerapporteer het.
Danksy die oprigting van die Bataafse Republiek (1795–1805) het die posisie van die Katolieke Kerk egter verbeter. Deur die afkondiging van die skeiding van Kerk en Staat in 1796 verloor die Protestantisme sy bevoorregte posisie en kan die Katolieke hulle geloof weer opnuut uitleef. Tog bly die posisie van die Kerk wankelrig, veral weens die feit dat koning Willem I teen die katolisisme gekant was. Hoewel die koning in 1827 'n konkordaat met die Vatikaan sluit waarin ooreengekom word dat bisdomme in Amsterdam en ’s-Hertogenbosch opgerig mag word, is die ooreenkoms nooit bekragtig of uitgevoer nie.
Onder sy opvolger, koning Willem II, word die maatreëls teen die katolisisme vergemaklik. Weens sy vriendskap met kardinaal Johannes Zwijsen wil die koning die konkordaat met Rome vinnig laat bekragtig. In Nederland lei dit tot sterk antipapisme.[99] Die invoering van die nuwe grondwet in 1848 bepaal dat die Staat hom glad nie met kerkgenootskappe mag bemoei nie en daardeur kon die Katolieke hiërargie opnuut gevestig word.
Op 9 Desember1851 stel die pouslike nuntius die Nederlandse regering in kennis dat die pous 'n nuwe biskoplike hiërargie gaan instel. Op 4 Maart1853 volg die bul Ex Qua Die, waarmee Pius IX amptelik die Nederlandse kerkprovinsie oprig. Die stad Utrecht word die hoofsetel, met suffragane bisdomme in Haarlem, Breda, Roermond en ’s-Hertogenbosch.[100]
”Geen waskaars en geen rozen Ja, zelfs geen Petrus-tand Geen speelgoed van den booze Misleidt den Protestant!”
Geuselied teen die invoering van die Katolieke biskoplike hiërargie in Nederland.[101]
Die verset binne Nederland teen die oprigting van die bisdomme was groot, veral omdat Pius in sy bul baie negatief was oor die Calvinisme. Die uitspraak van die pous dat hy hoop dat die katolieke godsdiens weer in krag en omvang sou toeneem[100] lei tot dramatiese aantygings van Protestante wat vrees dat die Inkwisisie weer ingestel gaan word. Hulle voer aan dat 'die Tagtigjarige Oorlog vir niks gevoer is.'[102] Hulle stig die Aprilbeweging en stel 'n petisie op wat aan koning Willem III gegee word. Hulle vra die koning om op te tree teen die situasie. Willem III was die Aprilbeweging goed gesind en hy negeer die versoek van sy regering onder leiding van die eerste minister Johan Rudolph Thorbecke om openlik afstand te neem van die protes. Die regering kom ten val oor die protes. Thorbecke het die koning versoek om dit duidelik te stel dat kragtens die nuwe grondwet geen toestemming van die koning nodig was om die bisdomme op te rig nie. Ondanks die verset het die invoering van die hiërargie deurgegaan.
Verenigde State van Amerika
Die toename van die aantal Katolieke in Amerika, veral as gevolg van immigrasie uit Ierland en Italië, het Pius IX laat besluit om die aantal bisdomme te vergroot. Verskeie bestaande bisdomme is ook verhef tot aartsbisdomme soos Boston, San Francisco en New York Stad.[103] In 1875 word die aartsbiskop van New York, John McCloskey, die eerste kardinaal uit die Verenigde State.[33]
Om die verspreiding van die katolieke geloof in die Verenigde State te bevorder vra Pius IX die biskoppe om 'n biskopsinode byeen te roep en laat hy in Rome die Pouslike Noord-Amerikaans College oprig, vir die opleiding van Amerikaanse priesters.[104]
Op 7 April1848 het die Amerikaanse regering diplomatieke betrekkinge aangeknoop met die Vatikaan. Daar is egter nie ambassadeurs uitgeruil nie omdat Katolieke priesters nie aanvaar is as ambassadeurs nie. Onder binnelandse druk, as gevolg van simpatie vir die eenwording van Italië en die afskaffing van die pous se wêreldlike mag, word die betrekkinge beëindig in 1867. Dit sou duur tot 1939 na die besoek van Eugenio Pacelli, later Pous Pius XII, aan president Franklin D. Roosevelt dat daar weer betrekkinge tussen die Verenigde State en die Vatikaan daargestel is.[105]
Tegnologiese vernuwing en herstel van beskadigde kerke
Pius IX toon groot belangstelling vir vernuwing op tegnologiese gebied. In 1856 laat hy die spoornetwerk in die Kerklike Staat uitbrei. Op die plek van die huidige treinstasie Roma Termini word die eerste stasie van Rome gebou. In 1859 word die eerste treinverbinding tussen Rome en Civitavecchia deur die pous self geopen. Die pous het ook gasverligting en die telegraaf ingevoer.
Deur verskillende rewolusies en oorloë is baie kerke in Rome swaar beskadig. Pius het opdrag gegee om die kerke te herstel hoewel die Kerklike Staat nie die fondse daarvoor gehad het nie. Weens die gebrek aan geld het dit gewoonte geword om die mure van kerke te skilder om soos marmer te lyk eerder as werklike duur marmer te gebruik.[106]
Vir die Sint-Pietersplein gee Pius IX in 1847 opdrag om die standbeelde van die apostels Petrus en Paulus met nuwes te vervang. Die beelde is oorspronklik deur Pous Gregorius XVI laat maak en was bedoel vir die basiliek Sint Paulus buite die Mure. Die beelde, 10 meter hoog, was volgens Pius meer geskik vir die “Tempel van Petrus, prins van die apostels”.
Ander monumente opgerig in opdrag van Pius IX sluit in:
Die Colonna dell'Immacolata te ere van die Onbevlekte Ontvangenis van Maria.
'n Standbeeld ter ere van die martelaar Laurentius van Rome en geplaas op 'n suil voor die basiliek Sint Laurens buite die Mure
'n Standbeeld van Petrus, wat 'n swaard oorhandig aan 'n Middeleeuse ridder. Die beeld herdenk die oorwinning van die pouslike (lees Franse) troep oor die soldate van Giuseppe Garibaldi tydens die slag van Mentana in 1867. Tans is die beeld in die begraafplaas Campo Verano in Rome
'n Kolossaal standbeeld van Petrus, ter herdenking van die Vatikaanse konsilie. Die beeld was bestem om voor die Romeinse kerk San Pietro in Montorio geplaas te word, maar deur die anneksasie van die stad Rome kom dit uiteindelik in die Vatikaanse tuin.
Oorlyde
In 1877 word die 50-jarig biskopsjubileum van Pius IX gevier. Kort na die viering besluit Pius op versoek van die Konsilievaders die heilige Franciskus van Sales uit te roep tot kerkleraar, en bevestig dit met die apostoliese brief Dives in misericordia Deus van 16 November1877. Tegelykertyd word Sales uitgeroep as beskermheilige van die Katolieke pers.[108]
Hoewel Pius self gesondheidsprobleme gehad het, probeer hy tog in Januarie 1878 'n versoening bewerkstellig met die sterwende koning Victor Emmanuel II van Italië. Pius se toenadering via monseigneur Francesco Marinelli word egter deur die hof geweier en die koning sterf op 9 Januarie1878.[109]
Op 5 Februarie1878 kry Pius 'n brongitis-aanval, gevolg deur hoë koors. Op 6 Februarie word dit duidelike dat hy nie lank meer sal lewe nie. Hy sterf op 7 Februarie1878 na 'n pontifikaat van 31 jaar en 236 dae. Met sy dood kom 'n einde aan die langste pontifikaat tot op hede (2016).[110]
Op 13 Februarie1878 word hy begrawe in 'n sarkofaag binne die Sint-Pietersbasiliek.[111] In sy testament gedateer Maart 1875, gepubliseer in die Populo Romano op 26 Mei1878,[112] het Pius egter gevra om in die basiliek Sint-Laurens buite die Mure begrawe te word. Op 13 Julie1881 word sy liggaam in die nag na sy laaste rusplek oorgebring. Die nagtelike uur is gekies om oproer te voorkom. Tog is die stoet deur 'n bende anti-Katolieke Nasionaliste met modder bestook en is probeer om die liggaam van die pous in die Tiber te gooi.[113][114]
Tydens die konklaaf wat op Pius se dood volg word binne drie stemrondtes kardinaal Gioacchino Pecci verkies as Pous Leo XIII.
Op die inisiatief van onder andere graaf Giovanni Acquaderni (één van die oprigters van die Katolieke Aksie) en volgens die wens van Pius in sy testament is 'n grafmonument geplaas wat verwys na sy pontifikaat van 31 jaar 7 maande en 22 dae.[115]
Na Pius se saligverklaring in 2000 is sy liggaam wat danksy goeie balseming nog intak was, in 'n reliekskryn in die kerk geplaas.
Volkslied
Ter ere van die 50-jarig priesterjubileum van pous Pius IX komponeer die Franse komponis Charles Gounod die “Inno e Marcia Pontificale” (Pouslike Mars), wat vir die eerste keer op 11 April1869 uitgevoer word. Pous Pius XII besluit ter geleentheid van die Heilige Jaar 1950 dat die mars die volkslied van die Vatikaan moet word. Die mars vervang die ou volkslied, die Gran Marcia Trionfale, gekomponeer deur die Oostenryker Vittorino Hallmayr in 1857. Twee reëls van die mars word gespeel tydens plegtighede op die Sint-Pietersplein, saam met die eerste twee reëls van die Italiaanse volkslied Il Canto degli Italiani” (ook bekend as “Fratelli d’Italia).
Pius Kantate
Die Nederlandse priester-digter Herman Schaepman organiseer in 1871 in Amsterdam 'n groot manifestasie ter ere van die vyfentwintigjarig pontifikaat van Pius IX. By die byeenkoms, die eerste groot Katolieke manifestasie in Nederland na die herstel van die biskoplike hiërargie, skryf hy die “Pius Kantate”. Die musiek vir die stuk word gekomponeer deur Johannes Verhulst. Die laaste deel van die kantate, “Aan U, o Koning der eeue” (waarmee Schaepman Pius bedoel het, maar nou gesien word as 'n verwysing na Christus) word tans steeds gesing by die fees van Christus-koning, op die laaste Sondag van die kerklike jaar.
Die kollege van kardinale
Tydens 23 konsistories stel Pius IX in totaal 123 kardinale aan. Deur sy ampstermyn van amper 32 jaar was daar by sy dood slegs drie stemgeregtigde kardinale wat nie al voorheen aan 'n konklaaf deelgeneem het nie. 'n Vierde kardinaal, Friedrich Johannes von Schwarzenberg, was in 1846 kiesgeregtig, maar het nie deelgeneem aan die konklaaf nie. Weens die omvang van die lys van sy aanstellings word dit hier gehou.
Saligverklarings
Gedurende sy pontifikaat verklaar Pius IX in totaal 329 persone salig, onder wie die Nederlandse Jesuïet Petrus Canisius (heilig verklaar in 1925), die Vlaamse Jesuïet Jan Berchmans (heilig verklaar in 1888) en twee van Pius se voorgangers: Pous Urbanus V en Pous Eugenius III.
Heiligverklarings
In totaal is 63 persone heilig verklaar, amper soveel soos in die 17de en 18de eeu saam. Onder hulle die Spaanse Inkwisiteur Pedro de Arbués, die Poolse Josafat Kuncewycz, die eerste deur die Rooms-Katolieke Kerk erkende heilige van die Oosterse Ritus en die 19 Martelare van Gorcum wat in 1572 deur die Watergeuse vermoor is.
Bulle, briewe, ensiklieke en dekrete
Pius het 'n groot aantal bulle, ensiklieke, briewe en preke geskrywe. Weens die omvang van die lys word dit hier gehou.
Verering
Die ondersoek vir die proses tot saligverklaring van Pius IX word deur Pous Pius X begin op 11 Februarie1907. Hoewel die Vatikaan die proses vinnig wil afhandel, word veel teenstand ondervind. In 1962 word teen die sin van Pous Johannes XXIII weer besluit om die saligverklaring uit te stel om verder ondersoek na die lewe van Pius IX te doen.[116] Johannes was van mening dat Pius IX 'n “besondere herder” was en dat die saligverklaring die doelstellings van die tweede Vatikaanse konsilie sou onderskrywe.[117]
Ook Pous Paulus VI was duidelik oor die voorgenome saligverklaring. In 'n toespraak ter geleentheid van die honderdste sterfdag van Pius IX, prys hy sy voorganger en beskrywe die dogmas van die Eerste Vatikaanse Konsilie as “vuurbakens in die ontwikkeling van die teologie”.[118] Hy skryf die verset teen die saligverklaring toe aan die kort tyd wat verstryk het sedert die einde van die Konsilie en die “nuwe tyd” (1978).[116]
Uiteindelik word die proses in 1986 afgerond. Die ondersoek na die wonder wat aan Pius IX toegeskryf is, is toe ook voltooi. 'n Non, Marie-Thérèse de St-Paul, sou op voorspraak van Pius genees wees van artrose van die knie, wat nie op mediese gronde verklaar kon word nie. Omdat Pous Johannes Paulus II nie gerus was oor die reaksie, veral in Italië, wat sou volg op die saligverklaring nie, het hy biskoppe, historici en politici om advies gevra. Hulle het beweer dat die gevreesde verset nie bestaan nie.[119]
Toe bekend gemaak is dat die saligverklaring tog sou deurgaan bars daar wel geweldige kritiek los. Kerkgeskiedkundiges wat in Innsbruck vergader het, het die Vatikaan verwyt dat in die ondersoek na Pius se lewe belangrike bevindings genegeer is en dat “menslike en geestelike defekte” na vore gekom het. By die analise van die gebeurtenisse van sy tyd sou Pius slegs die werk van God of die duiwel gesien het. Dit word gesien as 'n gebrek aan intelligensie wat saligverklaring onwenslik maak.[119]
Die meeste kritiek was egter afkomstig van die Jode. Pius IX is deur baie Joodse organisasies gesien as die verteenwoordiger van die kerklike antisemitisme. Dit word veral aangetoon uit die Edgardo Mortara-saak, maar ook omdat hy die Jode uit die stad Rome na ghetto’s verdryf het en hulle beskryf het as “tjankend honde” wat hulle dringend moet bekeer. Opmerklik is dat die saak van Mortara nie juis getel het by die ondersoek na sy saligverklaring omdat dit volgens die Vatikaan in die tyd gewoonte was om Joodse kinders te doop en dan Katoliek op te voed.[119] Edgardo Mortara se getuieverklaring is egter wel in die ondersoekproses gebruik. Mortara verklaar daarin dat hy hoop die pous sal gou heilig verklaar word en onderstreep dat die pous veel beteken het vir die Joodse gemeenskap.[120]
Die spesifieke datum van saligverklaring, 3 September2000, is ook swak gekies omdat dit saamgeval het met die viering van die Joodse kultuurdag in Europa. Verskillende Joodse organisasie het tereg gevrees dat die toenadering van die Vatikaan aan die Joodse gemeenskap hierdeur geskaad is.[119]
Simpatisante van Pius IX beskrywe hom as 'n vriendelike en sjarmante man. Sy optrede teen vernuwing is toegeskryf aan sy verset teen antiklerikale en antireligieuse bewegings.[118]
Op 3 September2000 word Pius IX saam met Pous Johannes XXIII en drie ander kandidate, Tommaso Reggio, Guillaume Joseph Chaminade en Columba Marmion, salig verklaar. In sy boodskap tydens die plegtigheid beskrywe pous Johannes Paulus II die pontifikaat van Pius IX as 'n moeilike periode waarin Pius veel gely het om sy roeping te vervul. Pius is beskrywe as 'n lig tydens die konflikte van sy tyd.[121]
Op 4 September verdedig die pous die besluit om Pius IX salig te verklaar. Hy benadruk dat die wêreld Pius nie verstaan het nie. Na aanvanklike goedkeuring aan die begin van sy pontifikaat het dit gou verander in beskuldigings, aanvalle en laster. Desondanks sou Pius altyd, ook teenoor sy vyande lankmoedig wees. Op 5 September2000 voeg Pous Johannes Paulus II daaraan toe dat by kandidate vir saligverklaring nie so seer na die historiese keuses van die kandidaat gekyk word nie, maar veral na eienskappe wat vir gelowiges dien as voorbeeld.[122]
Artaud de Montor, Alexis, Chevalier de. (1911) The lives and times of the popes (vertaal vanaf "Les vies des papes") The Catholic publication Society of America, New York. Heruitgee: Kessinger Publishing. http://www.saint-mike.org/library/ papal_library/default.asp
Duff, Eamon (2001). Saints and Sinners: A History of the Popes, Yale University Press. ISBN 0-300-09165-6.
Maxwell-Stuart, P. G. (2002). Chronicle of the Popes: The Reign-by-Reign Record of the Papacy from St. Peter to the Present, Thames & Hudson. ISBN 0-500-01798-0.
↑Graaf Spaur het die opstandelinge mislei deur sy vertrek na Napels te regverdig as sou hy onderhandelinge gaan voer oor die komende huwelik tussen kroonprins Frans van Napels en die Beierse prinses Marie Sophie Amalie in Beiere.
↑A life of Pius IX down to the Episcopal jubilee of 1877, bl. 250
↑A life of Pius IX down to the Episcopal jubilee of 1877, bl. 251
↑In sy ensikliek “Le Pélérinage de Lourdes van 2 Julie1957 verwoord Pous Pius XII dit as volg: Natuurlik het die onfeilbare woord van die pous van Rome, die soewereine oorbrenger van die geopenbaarde waarheid, geen hemelse bevestiging nodig, om die dogma deur gelowiges aanvaar te kry nie.”
Hoe de paus onfeilbaar werd. Macht en onmacht van een dogma, August Bernhard Hasler, met 'n inleiding van Hans Küng (1980), ISBN 90-6074-097-1, Uitgewery In den Toren
In Gods naam. De Katholieke Kerk en de jodenvervolging, David I. Kertzer (2002), ISBN 90-5333-909-4, Uitgewery Prometheus