Innocentius XII was die 242ste pous van die Rooms-Katolieke Kerk van 1691 tot 1700. Hy het die pos van kardinaal-nepoot afgeskaf en het nepotisme en simonie in die Kerk probeer uitroei.
Biografie
Pous Innocentius XII[1] is gebore as Antonio Pignatelli (del Rastrello) op 13 Maart1615 in Spinazzola, Italië. Hy was die seun van die markies van Spinazzola en sy vrou Porzia Carafa, prinses van Minervino. Sy ma was die dogter van Fabrizio Carafa, hertog van Andria. Hy is gedoop in die kerk van San Giovanni Battista (Johannes die Doper) in Cosenza. Hy begin sy studies by die Jesuïte in Rome. Hy werk reeds op 20-jarige ouderdom vir die Kurie in Rome onder Pous Urbanus VIII en word vervolgens vise-legaat in Urbino, inkwisiteur in Malta in 1646 en goewerneur in Perouse. Hy word op 14 Oktober1652 verkies as titulêr aartsbiskop van Larissa met dispensasie omdat hy nog nie priester is nie en word gewy op 27 Oktober1652 deur kardinaal Marco Antonio Franciotti. Op 21 Mei1660 word hy nuntius in Pole en 9 Maart1668 nuntius in Wene, Oostenryk . Pous Innocentius XI stel hom aan as kardinaal op 1 September1681. Op 12 Januarie1682 word hy biskop van Faenza en op 30 September1686 word hy aartsbiskop van Napels. Op 12 Julie1691 volg hy Pous Alexander VIII op en word gekroon op 15 Julie1691 deur kardinaal Urbano Saccetti. Hy regeer tot sy dood op 27 September1700 en word opgevolg deur Pous Clemens XI.
Die naam ‘Innocentius’ beteken 'onskuldige'.
Kerklike loopbaan
14 Oktober1652 – Titulêr aartsbiskop van Larissa in Thessalië.
Die konklaaf vir die verkiesing van die 242ste pous het vyf maande geduur. Nog die Franse en nog die Duitse kardinale kon die vereiste meerderheid vir hulle kandidaat kry nie en Pignatelli is as kompromis-kandidaat verkies.
Pous Innocentius XII[2] het dadelik begin met hervormings. Hy was sterk gekant teen die beleid van nepotisme wat die Vatikaan reeds lank gepla het. In die bul Romanum decet Pontificem van 22 Junie1692 skaf hy die pos van kardinaal-nepoot af en verbied alle toekomstige pouse om geldelike steun aan hulle familie te gee en stel die maksimum aantal familielede wat kardinaal mag word op slegs een. Hy weier om die aartsbiskop van Tarente as kardinaal aan te stel omdat die aartsbiskop 'n familielid van hom was. Hy het ook streng opgetree teen die simonie van die Apostoliese kamer en het sy eie huishouding baie sober ingerig. Hy het priesters aangesê om die soetane (Rooms Katolieke priesterkleed) te dra en om 'n geestelike lewe te lei.
In die Kerklike Staat het hy ook hervormings aangebring veral wat betref die regstelsel waar hy die Forum Innocentianum (Forum vir die Onskuldiges) gestig het.
In 1693 oorreed hy die Franse biskoppe on die Galliese Vryhede op te gee waarna hy toe weer nuwe Franse biskoppe aangestel het. Sy buitelandse beleid was, anders as die sy voorgangers, meer gerig op Frankryk as op die Duitse ryk. Die relasies met die Duitse keiser Leopold I het daardeur versleg. Op aandrang van koning Lodewyk XIV veroordeel die pous in die brief "Cum Alias" van 12 Maart1699 die "Maximes des saints" saamgestel deur die vooraanstaande mistieke aartsbiskop Fénelon van Kameryk. Die werk was een van die steunpilare van 'n ketterse Christelike dogma oor perfeksie wat bekend gestaan het as kwiëtisme. Fénelon het hom dadelik aan die pous se besluit onderwerp. Die pous het die Spaanse koning Carlos II aangeraai om sy neef, Lodewyk XIV van Anjou, as sy erfgenaam aan te wys. Dit het na die dood van Carlos gelei tot die Spaanse suksessie oorlog.
Tot die invoering van die kalenderhervormings van Pous Gregorius XIII en ook daarna het groot dele van Europa nuwe jaar op 6 Januarie gevier. Ou jaar was op 24 Desember sodat die tyd tussen 24 Desember en 6 Januarie aan geen jaar behoort het nie en as "dooie tyd" of "tussen-jaar-tyd" bekend gestaan het. Pous Innocentius XII het in 1691 ou jaar op 31 Desember en nuwe jaar op 1 Januarie vasgestel en weggedoen met die "dooie tyd".
Pous Innocentius XII was die laaste pous van die moderne era wat 'n baard gedra het.
Die kollege van kardinale
Pous Innocentius XII het 30 nuwe kardinale aangestel in vier konsistories.
18 Mei1699 – "Regi saeculorum" – oor die Jubeljaar 1700.
Bibliografie
Artaud de Montor, Alexis, Chevalier de. (1911) The lives and times of the popes (vertaal vanaf "Les vies des papes") The Catholic publication Society of America, New York. Heruitgee: Kessinger Publishing. http://www.saint-mike.org/library/ papal_library/default.asp
Duff, Eamon (2001). Saints and Sinners: A History of the Popes, Yale University Press. ISBN 0-300-09165-6.
Maxwell-Stuart, P. G. (2002). Chronicle of the Popes: The Reign-by-Reign Record of the Papacy from St. Peter to the Present, Thames & Hudson. ISBN 0-500-01798-0.
Verwysings
↑Innocent XII. (2008). Encyclopædia Britannica. Deluxe Edition. Chicago: Encyclopædia Britannica.
↑Ott, M. (1910). Pope Innocent XII. In The Catholic Encyclopedia. New York: Robert Appleton Company. Besoek: 12 Januarie, 2011 by: http://www.newadvent.org/cathen/08022a.htm
Eksterne skakels
Die Engelse Wikisource bevat bronmateriaal oor hierdie onderwerp onder die titel: