Share to: share facebook share twitter share wa share telegram print page

Pous Bonifatius IX

Pous Bonifatius IX
Geboortenaam Piero Tomacelli
Pontifikaat begin 2 November 1389
Pontifikaat eindig 1 Oktober 1404
Voorganger Urbanus VI
Opvolger Innocentius VII
Gebore ± 1350
Napels, Italië
Sterf 1 Oktober 1404
Rome, Italië
Ander pouse genaamd Bonifatius

Bonifatius IX (Latyn: Bonifatius IX; gebore Pietro Tomacelli,[1] c. 1350 – 1 Oktober 1404) was die 203de pous van die Rooms-Katolieke Kerk van 1389 tot 1404 en die tweede Romeinse pous gedurende die Westerse Skisma. Die Teenpous Clemens VII was pous in Avignon gedurende sy pontifikaat.

Biografie

Pous Bonifatius IX[2] is gebore as Piero Tomacelli ongeveer in 1356 in Napels, Italië. Volgens 'n vyandige tydgenoot Dietrich van Nieheim was hy ongeletterd en nie 'n teoloog nie. Pous Urbanus VI bevorder hom tot kardinaal op 21 Desember 1381. Voor sy verkiesing was kardinaal Tomacelli biskop van San Giorgio in Velabro. Op 2 November 1389 volg hy Pous Urbanus VI en word in Rome gekroon op 9 November 1389. Hy regeer tot sy dood op 1 Oktober 1404 en word opgevolg deur Pous Innocentius VII. Die naam ‘Bonifatius’ beteken 'weldoener'.

Pontifikaat

Pous Bonifatius IX[3] is erken deur Duitsland, Engeland, Hongarye, Pole en die grootste deel van Italië. Bonifatius en Clemens VII het mekaar oor en weer geëkskommunikeer. Clemens het Karel III tot koning van Napels gekroon, maar Bonifatius kroon Ladislaus in Gaeta op 29 Mei 1390 ook tot koning van Napels.

Gedurende sy bewind het Bonifatius geleidelik beheer oor Rome verkry. Hy het die Engeleburg (Castel Sant’Angelo) en die brûe oor die Tiber versterk. Vir lang periodes moes hy egter nog in Perugia of Assisi bly. Hy het die hawe van Ostia oorgeneem van sy kardinaal-biskop en die pouslike staat gevestig vir die duur van die vyftiende eeu.

Teenpous Clemens VII sterf op 16 September 1394 maar die kardinale in Avignon kies vinnig 'n opvolger. Op 28 September 1394 volg Teenpous Benedictus XIII vir Clemens op. Oor die volgende paar jaar was daar herhaaldelik druk op Bonifatius om te abdikeer deur Richard II van Engeland, die ryksdag van Frankfurt en koning Wenceslaus van Duitsland, maar die pous het geweier.

Gedurende 1399 het flagellante boetedoeners deur die land getrek. Hulle het wit klere gedra met maskers en 'n rooi kruis op die rug. Hulle het die populêre lied “Stabat Mater” gesing. Aanvanklik het die pous en die kurie die boetedoeners gesteun, maar toe hulle in Rome aankom het Bonifatius hulle leier op die brandstapel gesit.

In Engeland het teenkanting teen die pous gegroei, aangevuur deur Thomas Wycliff en die staat het die aanstelling van biskoppe oorgeneem. Die sinode van Londen in 1396 het Wycliff se leer veroordeel.

Weens die feit dat Bonifatius VII nou as 'n teenpous gereken word, maar dit nie tydens sy bewind so was nie, is Pous Bonifatius IX in werklikheid die agste pous met die naam Bonifatius.

Heiligverklarings

Bibliografie

  • Duff, Eamon (2001). Saints and Sinners: A History of the Popes, Yale University Press. ISBN 0-300-09165-6.
  • Maxwell-Stuart, P. G. (2002). Chronicle of the Popes: The Reign-by-Reign Record of the Papacy from St. Peter to the Present, Thames & Hudson. ISBN 0-500-01798-0.

Verwysings

  1. Vatikaan
  2. Boniface IX. (2008). Encyclopædia Britannica. Deluxe Edition. Chicago: Encyclopædia Britannica.
  3. Oestereich, T. (1907). Pope Boniface IX. In The Catholic Encyclopedia. New York: Robert Appleton Company. Besoek Februarie 28, 2009 by: http://www.newadvent.org/cathen/02670a.htm

Eksterne skakels

Wikisource
Wikisource
Die Engelse Wikisource bevat bronmateriaal oor hierdie onderwerp onder die titel:
  • BBKL Inskrywing (met Literatuurverwysings) in die Biographisch-Bibliographisches Kirchenlexikon (Duits)
  • PTA Inskrywing in "Popes through the Ages" deur J. Brusher S.J. (Engels)

Nota

Saamgestel en vertaal uit die Nederlandse, Engelse, Duitse en Franse wikipedia en aangevul uit ander bronne soos aangedui.

Opvolging

Voorafgegaan deur
Urbanus VI
Pous (Pontifex Maximus)
1389 – 1404
Opgevolg deur
Innocentius VII
Kembali kehalaman sebelumnya