Pous Alexander VII[1] is gebore as Fabio Chigi op 13 Februarie1599 in Sienna, Italië. Die Chigi's was 'n belangrike familie in Rome. Sy pa Flavio Chigi was 'n neef van Pous Paulus V en sy moeder was Laura Marsigli. Fabio was 'n sieklike kind en het sy skoolopleiding tuis ontvang. Toe hy sewe-en-twintig geword het, het hy 'n doktoraat in die filosofie, regte en teologie verwerf aan die Universiteit van Sienna. In Desember 1626 tree hy in diens van die kerk en in 1627 stel Pous Urbanus VII hom aan as vise-legaat in Ferrara. Hy werk vir vyf jaar vir kardinale Sacchetti en Palotta. Die kardinale beveel hom aan as inkwisiteur van Malta en wy hom tot biskop. Op 8 Januarie1635 word hy biskop van Nardò. Op 11 Junie1639 word hy nuntius in Keulen en in 1644 woon hy die konferensie van Münster by as die afgevaardigde van Pous Innocentius X. Innocentius roep hom terug na Rome en maak hom staatsekretaris. Op 19 Februarie1652 word hy kardinaal-priester en op 13 Mei1653 aartsbiskop van Imola. Op 7 April1655 volg hy Pous Innocentius X op na 'n konklaaf van tagtig dae en word gekroon op 18 April1655 deur kardinaal Teodoro Trivulzio. Hy regeer tot sy dood op 22 Mei1667 en word opgevolg deur Pous Clemens IX.
Die naam ‘Alexander’ beteken 'kryger'.
Pous Alexander VII[2] het aanvanklik sonder nepotisme regeer. Op 24 April1656 bring hy egter sy broer en neef na Rome om hom te help regeer en nepotisme het weer opgevlam. Die pous het die regering in die hande van sy familie gelaat en hom besig gehou met literêre werk. Hy publiseer 'n digbundel in Parys in 1656 onder die titel "Philomathi Labores Juveniles".
Pous Alexander het voortdurend moeilikheid gehad met die jong koning Lodewyk XIV van Frankryk. Die koning se eerste minister kardinaal Mazarin was 'n groot teenstander van die pous. Die kardinaal het die koning verhinder om onderdanigheid aan die pous te betoon. Op 20 Augustus1661 word 'n bediende van die vyandige hertog van Crequi, Franse ambassadeur in Rome, deur die pous se Korsikaanse wag doodgemaak. Die Franse koning soek vergelding en dit het gelei tot die pous se verlies van Avignon en die verdrag van Pisa op 22 Februarie1664. Die Franse Janseniste het ook weer teen die pous in opstand gekom, maar die pous het op 16 Oktober1665 'n bul, "Ad Sacram" gepubliseer, waarin die Janseniste opnuut veroordeel word. Die pous laat ook al die priesters in Frankryk 'n verklaring onderteken waarin hulle Jansenisme veroordeel.
Christina, koningin van Swede gaan oor na die katolisisme en na haar abdikasie kom bly sy in Rome. Op 25 Desember1655 word sy plegtig in die kerk opgeneem.
As gevolg van die steun wat die pous aan Venesië gee in hulle stryd teen die Turke, wat dele van Kreta verower het, word die Jesuïte wat sedert 1606 daar verban is, weer in die stad toegelaat.
Pous Alexander VII het baie gedoen om Rome te verfraai. Strate is reggetrek en pleine gebou. Hy het ook Bernini die kolonnade op die plein voor die Sint Pieterskerk laat bou. Hy het die Universiteit van Rome moderniseer en 'n groot biblioteek daar gestig. Hy het ook die Vatikaanse biblioteek uitgebrei.
Die kollege van kardinale
Pous Alexander VII het 38 nuwe kardinale aangestel in ses konsistories.
Duff, Eamon (2001). Saints and Sinners: A History of the Popes, Yale University Press. ISBN 0300091656.
Maxwell-Stuart, P. G. (2002). Chronicle of the Popes: The Reign-by-Reign Record of the Papacy from St. Peter to the Present, Thames & Hudson. ISBN 0500017980.
Verwysings
↑Alexander VII. (2008). Encyclopædia Britannica. Deluxe Edition. Chicago: Encyclopædia Britannica.
↑Peterson, J.B. (1907). Pope Alexander VII. In The Catholic Encyclopedia. New York: Robert Appleton Company. Besoek Julie 26, 2010 by: http://www.newadvent.org/cathen/01294a.htm
Eksterne skakels
Die Engelse Wikisource bevat bronmateriaal oor hierdie onderwerp onder die titel: