Pous Urbanus IV[1] is gebore as Jacques Pantaléon ongeveer in 1195 in Troyes, Frankryk. Hy was die seun van 'n skoenmaker en soos Pous Urbanus V en Pous Urbanus VI was hy nie 'n kardinaal toe hy verkies is nie. Hy het teologie en regte studeer in Parys en was eers kanunnik en later aartsbiskop van Luik. Op die eerste konsilie van Lyon het hy onder die aandag van Pous Innocentius IV gekom en op twee sendings na Duitsland gestuur. Hy het die verdrag van Christburg tussen die heidense Pruise en die Duitse Orde tot stand gebring. Hy word biskop van Verdun in 1253 en in 1255 maak Pous Alexander IV hom patriarg van Jerusalem. Hy het teruggekeer van Jerusalem, waar die Christene in moeilike omstandighede was en probeer hulp soek in Viterbo toe Pous Alexander IV sterf. Na 'n sedis vacatio van drie maande word Pantaléon verkies deur agt kardinale van die kollege van kardinale. Op 29 Augustus1261 volg hy Pous Alexander IV op en regeer tot sy dood op 2 Oktober1264. Hy word opgevolg deur Pous Clemens IV.
Die naam ‘Urbanus’ beteken 'beskaafde'.
Pontifikaat
Pous Urbanus IV[2] is op 4 September1261 gekroon. Hy het meestal in Orvieto en Vitebo gebly en Rome waarskynlik nooit eers besoek nie. Die Latynse keiserryk van Konstantinopel het aan sy einde gekom met die verowering van die stad deur die Grieke onder leiding van keiser Michael IV Palaeologos. Pous Urbanus het vergeefs probeer om 'n kruistog te organiseer om die Latynse keiserryk te herstel. Op 11 Augustus1264 het Urbanus die fees van Corpus Christi (die liggaam van Christus) ingestel. Die pous het ook veertien nuwe kardinale aangestel onder andere die latere Pous Clemens IV, Pous Martinus IV en Pous Honorius IV.
Italië het Urbanus IV se volle aandag vereis. Sy voorganger Pous Alexander IV het nie veel aandag gegee aan die stryd teen die Hohenstaufen en dit het ontaard in 'n stryd tussen die Ghibellyne (keisergesindes) en die Welfe (pousgesindes). Die pous se militêre bevelvoerder was condottiere Azzo d'Este, aan die hoof van die magte van die stede Mantua en Ferrara. Aangesien Manfred 'n eis gehad het teen die stede van Lombardye, het die pous die kroon van die Sisilië aan Karel van Anjou gegee op 15 Augustus1264. Die pous het Karel skepe en soldate belowe en Karel wat die Provence as erfgoed van sy vrou besit het en dus genoeg geld vir 'n oorlog in Italië het belowe om nie Noord-Italië of die Pouslike Staat aan te val nie. Karel belowe om die "sensus" te herstel wat aan die pous as feodale leenheer 10,000 onse goud sou besorg. Voordat Karel egter in Italië aangekom het, het Urbanus gesterf.
Duff, Eamon (2001). Saints and Sinners: A History of the Popes, Yale University Press. ISBN 0300091656.
Maxwell-Stuart, P. G. (2002). Chronicle of the Popes: The Reign-by-Reign Record of the Papacy from St. Peter to the Present, Thames & Hudson. ISBN 0500017980.
↑Webster, D.R. (1912). Pope Urban IV. In The Catholic Encyclopedia. New York: Robert Appleton Company. Besoek September 9, 2008 by: http://www.newadvent.org/cathen/15212a.htm
Eksterne skakels
Die Engelse Wikisource bevat bronmateriaal oor hierdie onderwerp onder die titel: